Logo

Padlangs – Boer Soek ’n Vrou 11

Nuus
12 November 2018
Kom vat die pad saam met ons!
BSV-Padlangs

FOTO: Getty

 

Die liefde is ’n avontuur! Oor die volgende paar weke gaan ons die grondpaaie na vyf verskillende plase aandurf om uit te vind of ons boere ’n lewensmaat gaan ontmoet saam met wie hulle die pad vorentoe kan stap.

Hier is bietjie meer oor die groter omgewing waarin ons boere hulself bevind:

Boer André se skaap- en angorabokplaas lê tussen Noupoort en Colesberg.

Vir Suid-Afrikaners wat die langpad see toe met ’n motor aandurf, is Colesberg in die Noord-Kaap – net mooi tussen Gauteng en die Wes- en Oos-Kaap – ’n bekende oornagplek.

In Colesberg is daar ’n rits plekke waar ’n mens kan oorbly (of parkeer jou woonwa in een van die kampplekke en maak tyd vir sterre kyk!). As jy vanaf Colesberg sowat 60 km noordoos ry, sal jy die Gariepdam bereik – ’n plek waar jy kan kamp, visvang, roei en piekniek hou.

Sowat 60 km noordwes van Colesberg is die Doornkloof-natuurreservaat aan die bopunt van die Vanderkloofdam geleë. Híér kan jy staproetes aanpak en onder meer gemsbokke, elande en buffels te sien kry.

Boer Cassie se plaas is in die Elandslaagte-omgewing in Noord-KwaZulu-Natal.

Wanneer jy jouself in hierdie omgewing bevind, kies koers Newcastle toe vir ’n besoek aan die Ncandu-waterval en die Chelmsford-dam.

Uiteraard is daar ook die Drakensberg-reeks, wat Lesotho van KwaZulu-Natal skei. Dis ’n besonderse bestemming waar jy alles kan doen van roei tot visvang, stap en perdry.

In Ladysmith kan jy onder meer perdry en ’n standbeeld van Ghandi sien. Diegene wat avontuurlustig voel kan die pad vat Wildekus toe. Die groen heuwels is te mooi vir woorde, en daar is heelwat natuurreservate en onder meer die Hole in the Wall-rotsformasie om te besoek.

FOTO’S: Leah en die boere

Gallery

Boer Duncan is van die Verkykersdorp-omgewing in die Vrystaat.

Besoekers aan dié deel van die land kan in Harrismith, sowat 50 km suidwes vanaf Verkykersdorp, gaan stap, fietsry, of by een van die eetplekke ontspan.

Die Seekoeivlei-natuurreservaat buite Memel, noordoos, het seekoeie, buffels en heelwat voëlspesies om te besigtig.

Ry bietjie verder in die rigting van Bethlehem vir ’n naweek in die mooie Clarens. Doen inkopies, durf ’n 4x4-roete aan, oorweeg ’n dagstap in Golden Gate en maak ’n draai by die Clarens-brouery.

LEES OOK:

Boer Rèan bedryf ’n wingerd- en pekanneutboerdery naby Groblershoop.

In die Groen-Kalahari lê Upington en wanneer jy in dié wêreld kom draai, is ’n besoek aan die Augrabieswaterval-nasionale park ’n moet. Van hier af is dit nie ver tot by Riemvasmaak se warmwaterbron nie!

Span ook uit iewers langs die Oranjerivier – of jy nou wil kamp of roei, daar is iets wat in elkeen se smaak val.

As duinplankry of bergfietsry jou ding is, is die Witsand-natuurreservaat (sowat ’n uur se ry vanaf Groblershoop) die plek vir jou. Jy kan kamp of oorbly in ’n bungalow of chalet.

Boer Toanette is van die Modimolle-omgewing in Limpopo.

Stappers sal die Bateleur-natuurreservaat (30 km buite Modimolle) geniet. Probeer een van die naweekroetes en oornag in ’n staphut.

Naby Bateleur, noord van Bela-Bela, is Waterberg Zipline Adventures die ideale bestemming vir diegene wat avontuur najaag.

Nie gaande oor adrenalien-belaaide aktiwiteite nie? Oorweeg ’n besoek aan Adventures with Elephants of die Geluksfontein-kaasplaas in die hartjie van die Waterberg.

Skakel elke Donderdag om 20:00 in vir ’n splinternuwe episode van Boer Soek ’n Vrou, en gesels saam op sosiale media deur die hutsmerk #BoerSoeknVrou te gebruik.

Neem ook deel aan ons kykerskeuse-ervaring – jy kan ’n middagete saam met Leah en vier van jou vriende wen!