Logo

Rèan glo in ware liefde – Boer Soek ’n Vrou 11

Nuus
15 Oktober 2018
Die soort liefde wat vir ewig hou bestaan beslis, glo Boer Rèan.
BSV-11-Rean

Die 26-jarige Rèan bedryf ’n wingerd- en pekanneutboerdery met hope potensiaal. Hulle het sowat agt jaar gelede grond naby Groblershoop gekoop en Rèan geniet tot dusver elke oomblik van boerwees. “My boerdery is ’n lewenswyse en passie. Ek hou van nuwe projekte aanpak en voltooi.”

Hy raak skoon liries oor hoe hy voel wanneer hy saans huis toe ry: “Dis vir my mooi om te sien wat ek kon doen met my hande.”

Dié ambisieuse boer geniet dit om te jag, kos te maak en tennis te speel, maar dis “sad” om die bal alleen teen ’n muur vas te slaan, lag hy.

Rèan hou van grappe maak en lag, maar sê hy probeer nooit snaaks wees nie. “’n Ding kom maar net uit soos ek hom dink, maar ek weet darem wanneer grappies op ’n stokkie moet wees.”

Sy ouer susters, ’n tweeling, het hom meer geleer van die fyner dinge van die lewe, al het hulle hom ook soms geboelie. Danksy hulle is die boer vandag meer modebewus.

Wanneer dit by inspirerende verhoudings kom, is daar vir hom nie beter rolmodelle as sy ouers nie. “Daai tweetjies is oulik saam!” sê hy. “Dis goals eendag.”

Noudat hy weet ware liefde bestaan wel, is dít waarna hy op soek is. Sy ideale vrou is ’n Christen, saggeaard en ondersteunend. Hy wil graag iemand hê wat sinvol kan gesels, kan luister, en ’n bok vir sports is. “Iets vir die oog is darem ook belangrik.”

Sy moet boonop ’n hondemens wees, want Lielie, sy Jack Russel en “linkerhand”, sit bykans sy hele hart vol.

Hy sê: “Liefde moet van altwee kante af kom. Albei moet kan opofferings maak. Ek kan ’n boek skryf oor die goeters.”

Gaan Rèan ware liefde vind? Boer Soek ’n Vrou se splinternuwe seisoen skop af op 18 Oktober 2018 en kykers kan Donderdae om 20:00 inskakel vir nuwe episodes. Gesels ook saam op Facebook, Twitter en Instagram.

Daar is boonop ’n heerlike keuse-ervaring waarvan kykers kan deel wees. Ons wil van jóú hoor! Kliek hier om uit te vind hoe jy kan saamspeel.