Logo

Sprokiesliefde vir André – Boer Soek ’n Vrou 11

Nuus
10 Oktober 2018
Sprokiesagtige liefde is nie net vir flieksterre beskore nie, glo Boer André.
BSV-11-Andre

Iewers tussen Noupoort en Colesberg lê die skaap- en angorabokplaas waar André (35) boer.

Skeertyd, of dit nou skaapwol of bokhaar is, is vir dié boer “die lekkerste tyd”, maar reis, jag, tennis speel en musiek luister maak hom ewe opgewonde.

Werk is sy passie, en al hou plaaslewe hom besig, vind OVK-veilings in die Noord- en Oos-Kaap dikwels onder André se hamer plaas.

Almal kry hul afdae, maar vir André is dit tog te lekker om te lewe. “Ek probeer die mooi in ’n ding raaksien,” sê hy.

Die skaap- en bokboer is dalk enkellopend, maar moenie dink daar is ’n tekort aan liefde in sy lewe nie. Sy elf lojale brakke laat hom elke keer wat hy tuis kom geliefd en spesiaal voel.

Sy ideale pasmaat deel sy positiewe lewensuitkyk en dié gelukkige dame sal ’n fliekmaat bykry. Hy is gek oor romantiese komedies, oftewel “daai rom-tipe koms”.

Hy meen dis onmoontlik vir sprokies om net op TV leef – sprokiesliefde kan mos in sy lewe ook ’n werklikheid word! “Wat is mooier as twee mense wat loop en hande vashou?” wil die boer weet.

’n Vrou is “die hart van die huis”, maar dit beteken nie die huis (of kombuis) gaan hom nooit sien nie, sê André. Hy wil nie graag skottelgoed was nie (die masjien kan dit maar doen!), maar wil help kosmaak (solank daar nie aspersies op sy bord is nie), en wil hê sy vrou moet haarself by die huis kan uitleef.

En as sy nie dadelik kan plaas toe trek nie? “Ek is nie bang vir ’n langafstandverhouding nie,” sê die boer. 

Wanneer dit by verhoudings kom, is eerlikheid en kommunikasie belangrik. Hy sal die beste pas by ’n gelowige vrou wat lief is vir sosialiseer, en spontaan en onafhanklik is.

Skakel in vir die elfde seisoen van Boer Soek ’n Vrou, vanaf 18 Oktober 2018 elke Donderdag om 20:00 op DStv-kanaal 144. Volg ons op Facebook, Twitter en Instagram.

Ons wil ook weekliks van jou hoor! Lug jou mening hier en jy kan ’n middagete saam met aanbieder Leah en vier van jou vriende losslaan!