Logo

Kameras en volstruise – Boer Soek ’n Vrou 11

Nuus
20 Oktober 2018
Berdene Burger gesels oor wat uitgestaan het tydens verfilming.
BSV-Volstruis-Banner

FOTO: Berdene Burger

Die Boer Soek ’n Vrou-span het Suid-Afrika deurkruis om die elfde seisoen van die gewilde werklikheidsreeks te verfilm. Sowat 100 vlugte is bespreek en die spanlede het altesaam ’n afstand van bykans 30 000 km in voertuie, en 11 km per dag te voet, afgelê.

LEES: Oor berge en dale

Op een van die plase het ’n honger vlakvark ’n stuk toerusting beetgekry en opgevreet, en vier volstruise het besluit hulle voel vere vir die verfilming-proses en het op die span toegesak.

“Hulle was seker net nuuskierig, en dalk het die boom – ’n mikrofoon wat uit ’n lang pyp met ’n groot, wollerige oortreksel bestaan – vir hulle soos familie gelyk,” lag Boer Soek ’n Vrou-regisseur Berdene Burger.

Foto: Berdene Burger

Dit was ongetwyfeld ’n snaakse oomblik, maar daar was ook oomblikke wat die span se hare laat rys het.

Op pad na Groblershoop in die Noord-Kaap, het twee spanlede ’n aardvark in die middel van niks en nêrens – slegs 18 km weg van hul eindbestemming – getref. Terwyl hulle buite die kar gestaan en wag het vir hulp van die res van die span, het ’n kar verby gejaag, skielik gestop, die aardvark gegryp en weggejaag!

Wanneer ’n mens wyd en syd reis, gebeur dit soms dat jy elke aand op ’n ander dorp en in ’n ander gastehuis oornag. “Die plattelandse mense se gasvryheid is iets besonders,” vertel Burger, “maar soms hardloop jou verbeelding met jou weg – veral in die ou huise op die meer afgeleë dorpe.

“So elke nou en dan was daar ’n laai in ’n kombuis wat vanself oopstoot, of voetstappe op ’n houtvloer laat in die nag, maar lang ure se werk en verlange na die huis kan sekerlik die vreemde verskynsels verduidelik.”

Skakel Donderdae om 20:00 in om te kyk hoe vanjaar se boere vaar in hul soeke na liefde! Gesels ook saam op Facebook, Twitter en Instagram.

Deel in die Boer Soek ’n Vrou-pret aanlyn – ons wil van jou hoor! Kliek hier vir meer inligting.