Logo

Oor berge en dale – Boer Soek ’n Vrou 11

Nuus
19 Oktober 2018
Hier is ’n paar agter-die-skerms-feite!
BSV-11-Berge-Dale

FOTO: Getty

Boer Soek ’n Vrou is nie net ’n gewilde DStv-kanaal 144-program onder kykers nie – dit het ook die saadjie geplant vir die 13 huwelike wat sedert seisoen 1 uit die reeks gespruit het. Boonop het seisoen 10 se Adriaan en Helene onlangs verloof geraak!

Agter die skerms is daar uiteraard ’n hele span mense wat hard werk om jaar na jaar splinternuwe episodes na Suid-Afrikaners se televisieskerms te bring. Ons het met seisoen 11-regisseur Berdene Burger gesels om ’n paar minder bekende feite oor die verfilming van die reeks met kykers te deel.

Julle was gereeld op die pad. Hoeveel kilometers het die span afgelê?

Daar word tussen 20 000 en 30 000 km tydens die verfilming van een seisoen van Boer Soek ’n Vrou afgelê. ’n Mens leer die mooiste en mees geïsoleerde dele van die land ken, en potgooie en goue treffers word jou beste vriend.

Het die Boer Soek ’n Vrou-bakkie enige spoedboetes gekry?

Daar word báie ure op die pad spandeer, en soms wil ’n mens bietjie vinniger iewers uitkom as wat die padreëls toelaat. Dit vat egter net een stewige boete per spanlid om jou gedweë binne die spoedgrens te laat bly.

Hoeveel pap wiele het julle gekry?

Al was daar met tye baie slegte paaie, het ons net een keer ’n pap wiel gekry. 

Hoe gereeld het iemand op pad plaas toe verdwaal?

Twee spanlede het in Limpopo verdwaal en dit het ’n groot debat oor die beste navigasie-toeps ontlont. Ons was ook tydens die briewefase op pad Natal toe, toe ’n omie by ’n vulstasie vir ons ’n “beter” pad uitwys. Ons het 3 ure later as beplan by ons bestemming aangekom. Die gevolgtrekking was dat ’n kaartboek beter as enige navigasie-toep of omie met ’n opinie is, en ons het onmiddellik een aangeskaf.

Hoeveel vlugte is gereël?

Ons het bykans 100 vlugte bespreek tussen Kaapstad, Johannesburg, Bloemfontein, Upington, Port Elizabeth en Durban.

Hoeveel koppies koffie het die spanlede gedrink tydens verfilming?

Genoeg om die Theewaterskloofdam vol te maak – gelukkig slegs in areas waar water volop was.

Hoe lank was die span gemiddeld per dag op hul voete?

Báie ure word agter die kameras op jou voete deurgebring. ’n Mens kan ook nie altyd met ’n voertuig ry tot waar die verfilming plaasvind nie, en dan gryp jy maar die driepoot en kamera en stap, al is dit soms oor berge en dale! Volgens ’n step counter was dit gemiddeld 16 750 treë (omtrent 11 km) per dag.

Hoeveel keer is die span of ’n spanlid se lewe bedreig deur ’n dier?

Daar was ’n mak vlakvark op een van die plase. Hy moes deur die nag baie honger geword het, want die volgende oggend is ons reflector-bord opgevreet. Daar was net ’n paar stukkies polistireen oor. Dis gelukkig al wat in die slag gebly het. Geen spanlede is tydens verfilming deur diere bedreig nie.

Hoeveel verskillende kledingstukke het Leah tydens verfilming gedra?

Min of meer 33 baadjies, 30 truie, 20 rokke, 55 bloese en 7 pare skoene.

Hoeveel spanlede is deur siekte geaffekteer?

Daar was nie tyd vir siekword nie. 

Hoeveel ure se redigering het ingegaan in die maak van die program?  

Duisende ure word agter die rekenaars deurgebring om ’n episode aanmekaar te slaan. Dit neem omtrent 4 tot 6 weke om die eerste weergawe van ’n episode gereed te kry. 

Wees só deel van ons kykerskeuse-ervaring!

Gesels verder saam op sosiale media by #BoerSoeknVrou, en skakel elke Donderdag om 20:00 in om uit te vind hoe vanjaar se boere vaar in hul soeke na liefde.