Logo

Duncan is reg vir liefde – Boer Soek ’n Vrou 11

Nuus
13 Oktober 2018
Boer Duncan sê nóú is die beste tyd vir liefde vind.
BSV-11-Duncan

Duncan (36) boer met beeste in die Verkykersdorp-omgewing in die Vrystaat. Sy huistaal is Engels, maar hy kan ook Afrikaans en Zoeloe praat.

Hy beskryf homself as ’n skamerige ou, maar sy sin vir humor en vriendelike persoonlikheid kom vinnig na vore – veral wanneer hy gemaklik rondom iemand voel.

Wanneer hy wil ontspan, doen hy graag iets wat niks met boerdery te make het nie, soos om te gaan draf of muurbal te speel – al beteken dit hy moet 120 km vir een pot muurbal aflê!

Hy draai nie doekies om nie: Sy pasmaat moet uiteraard vir hom aantreklik wees, maar geen verhouding sal kan slaag sonder ’n sterk kommunikasie-basis nie. “Ons gaan nie altyd oor alles saamstem nie,” sê hy. Hy erken dat hy soms in sy dop kruip tydens ’n konfliksituasie.

Sy maat kan Afrikaans óf Engels wees, solank hulle gemaklik met mekaar kan kommunikeer. “Dit sal help as sy tweetalig is!” lag hy.

Duncan bly al lank alleen, maar meen hy is gereed vir ’n ernstige verhouding. Hy sal nie skroom om te doen wat gedoen moet word om aan te pas by iemand spesiaal nie.

Sy droomvrou is iemand wat omgee vir ander; sy is ’n familiemens wat sy waardes deel en nes hy gaande is oor die buitelewe. ’n Goeie sin vir humor is vir hom belangrik.

Volg Duncan en die ander nege boere se reis vanaf 18 Oktober 2018 elke Donderdag om 20:00 – slegs op DStv-kanaal 144. Gesels saam op Facebook, Twitter en Instagram.

Dis nie al nie! Kykers kan hul menings aanlyn lug en boonop ’n kans staan om ’n heerlike prys los te slaan! Lees meer hier.