Logo

Toanette droom groot – Boer Soek ’n Vrou 11

Nuus
16 Oktober 2018
Boer Toanette is op soek na ’n man wat ook sy eie drome nastreef.
BSV-11-Toanette

Ons vroueboer, Toanette (23), is ’n plaasmeisie met groot drome. Haar onderneming op ’n wildplaas in die Modimolle-omgewing in Limpopo fokus op opleiding in natuurbewaring. Een van haar drome is om ’n plaas van haar eie te hê en ’n dierehospitaal oop te maak.

“My hart is baie sag,” sê Toanette. Sy beskryf haarself as iemand wat gelyktydig ’n ekstrovert en introvert is. Sy geniet avontuurlustige aktiwiteite, maar hou ook daarvan om by tye rustig te verkeer en te teken. Perdry is die beste streskuur. “My liefde vir diere is onbeskryflik.”

Hoewel sy ’n omgeemens is en haar naastes koester en op die hande dra, is sy nie iemand wat sukkel om nee te sê wanneer sy voel dis nodig nie.

Haar droomman is ongetwyfeld ’n kind van die Here – iemand saam met wie sy kan bid en Bybel lees. “Dis vir my die grootste ding,” sê sy. Hy moet verder gaande wees oor diere; ’n hondemens is ’n bonus, omdat sy haar bed met haar liefdevolle brak deel.

Sy is nie noodwendig op soek na ’n man wat op ’n plaas grootgeword het nie, maar hy moet van die natuurskoon hou. Hy moet ’n positiewe uitkyk op die lewe hê en doelgerig wees, met drome van sy eie.

Toanette het in vorige verhoudings geleer om nie oorhaastig te wees en in ’n verhouding te spring voor jy iemand goed ken nie. Dis ook belangrik om nooit jouself te verander om by iemand aan te pas nie, en jy moet presies weet wat jy wil hê.

“Ek sal alles gee in ’n verhouding, en ek hoop ek sal dit terug ontvang”.

Moenie ’n oomblik van die nuwe seisoen van Boer Soek ’n Vrou mis nie! Seisoen 11 van die gewilde kykNET-werklikheidsreeks saai elke Donderdag vanaf 18 Oktober 2018 om 20:00 uit.

Maar dis nie al nie! Kykers kan vanjaar meer doen as saamgesels op Facebook, Twitter en Instagram – lug jou mening weekliks op ons webblad en staan die kans om ’n heerlike prys los te slaan! Kliek hier vir alles wat jy moet weet oor ons kykerskeuse-ervaring.