Logo

Vroulikheid bekoor Cassie – Boer Soek ’n Vrou 11

Nuus
12 Oktober 2018
Daar is min dinge mooier as vroulikheid, meen Boer Cassie.
BSV-11-Cassie

Die 28-jarige Cassie boer “in die middel van nêrens” in Noord-KwaZulu-Natal met beeste, mielies, pekanneute en soja. Sy pa, ’n tandarts op Elandslaagte, is sy “minister van finansies”, terwyl Cassie die fort hou op die plaas.

Boerwees verg hope geduld, maar moenie dink hierdie jong boer sukkel om sy tyd om te kry nie. As hy wil swem of visvang, doen hy dit, en hy hou homself besig met verskillende aktiwiteite oor naweke.

Cassie kan pynlik eerlik en sarkasties wees, maar as jy gelukkig genoeg is om hom as vriend te hê, sal hy enigiets vir jou doen. Sy vriende het dit selfs reggekry om namens hom in te skryf vir Boer Soek ’n Vrou.

Hoekom het so ’n selfversekerde man dan niemand spesiaal in sy lewe nie? “Ek is baie skaam, so as ek iewers heen gaan, dan weet ek nie wat om vir hulle (vroue) te sê nie!” lag hy.

Hy is nie die tipe ou wat ’n bed vol rose gaan strooi nie, maar meen dis belangrik om elke dag vir jou maat te sê hoe jy oor haar voel.

Ná hy in ’n lang verhouding was, weet Cassie presies waarna hy op soek is. “My ma en my sussie is vir my die mooiste vroue op aarde, en ek wil graag iemand hê wat soos hulle is.”

Hoe lyk sy ideale maat? Sy het selfvertroue, sy is vroulik, aantreklik en saggeaard; sy is iemand wat seker is van haar geloof, haar spirituele behoeftes ken en emosioneel volwasse is. “Ek hou van vroulikheid, dis vir my die mooiste ding,” sê Cassie.

Deel in die Boer Soek ’n Vrou-pret! Wil jy saamspeel? Kliek dan hier om meer uit te vind.

’n Splinternuwe seisoen saai vanaf 18 Oktober 2018 elke Donderdag om 20:00 uit. Volg die boere se liefdesreis ook op sosiale media – Facebook, Twitter en Instagram.