Logo
web uni tv guide

Lui Maar Op Belinda

144DramaPG13L

Lui maar op, Belinda is kykNET se nuwe Maandagaand-komedie

Nuus
21 Mei 2019
Een ding is seker – jou maagspiere gaan die nodige oefening kry.
Belinda_billboard

FOTO: Donna Lewis

Die doyenne van Afrikaanse televisie snoer kragte saam vir ’n opwindende nuwe kykNET-komedie. Die reeks van 13 episodes is getiteld Lui maar op, Belinda, en dit begin op Maandag 8 Julie om 20:00.

Brümilda van Rensburg speel die naamrol teenoor Annelisa Weiland (Annetjie), Eric Nobbs (Frans), Duncan Johnson (Ian) en Carmen Maarman (Maggie).  Dit is ook die jong akteur, Wian Taljaard (Dirkie), se eerste hoofrol in ’n televisiereeks.

Blaai deur vir die rolverdeling:

Gallery

Die wel en weë van dié karakters speel in George af, waar die noodlot hul saam gebring het by ’n algemene handelaar. 

Dit is ook die eerste keer dat Brümilda en Annelisa, wat veral bekend en geliefd geraak het vir hul onderskeie sepierolle, saam in ’n televisiereeks speel.

Boonop gaan verskeie bekende akteurs soos Marion Holm, Denise Newman, Therese Bam en Hannes van Wyk gasverskynings maak.

Die hoofskrywer van Lui maar op, Belinda is Chris Vorster, terwyl die opkomende skrywer, Marcel Spaumer, met die storie-idee vorendag gekom het. Saam met hulle is die aktrise Desiré Gardner, van Suidooster-faam, en Wesssel Pretorius mede-skrywers.

Die regisseur is Corné van Rooyen, wat die regie vir flieks en reekse soos Hollywood in my Huis, Vaselinetjie, Liewe Kersfeesvader en Alles Malan behartig het.

Lui maar op, Belinda word op stel in ’n ateljee geskiet by Atlantic Studios in Kaapstad, wat ook die tuiste is van kykNET-reekse soos Suidooster, Kokkedoor, Tussen Ons en Kwêla. Homebrew Films is die vervaardiger.

Waaroor gaan dit? 

Ian en Ander is ’n klein hoekwinkeltjie in George en behoort aan Ian Jantjies, ’n middeljarige man wat die gejaag van die groot stad vir die vrede van ’n kleiner dorp verruil het. Maar vrede is daar nie, want die drie “ouer” mense wat vir hom werk, maak hom ook grys. Belinda Swanepoel, ’n eertydse Afrikaanse aktrise, is meer voor haar spieëltjie as voor haar kasregister en Annetjie Nel, ’n militaristiese en konserwatiewe bakster, bemoei haar meer met die winkel se sake as met die koek van die dag. Dan is daar die arme, sjarmante boereheld Frans Wessels, wat die vrede tussen Annetjie en Belinda probeer bewaar, maar selde daarin slaag. Die reeks skop af met ’n nuwe aanstelling, die jong bleeksiel, Dirkie, wat skielik hoof van sekuriteit word. Dan kom steek Maggie, Ian se vrou, ook nog haar neus in haar man se sake. Saam moet hulle die uitdagings van die ouderdom die hoof bied, maar leer ook dat die lewe vol tweede kanse is en dat ’n mens nooit te oud is om pret te hê nie.

Jy weet jy wil dié nuus met jou vriende deel. Gesels saam op FacebookTwitter en Instagram met die hutsmerk #LuiMaarOpBelinda en maak seker jy skakel elke vanaf 8 Julie om 20:00 in op DStv-kanaal 144.