Logo
Alles Malan – Slim
web uni tv guide

Alles Malan

144DramaPG13 L

Alles Malan, eersdaags op kykNET

Nuus
05 Februarie 2019
Vind meer uit.
Alles Malan

Foto: Verskaf

Met van die grootse name in die vermaakbedryf in die rolverdeling en ’n wen-span agter die skerms, beloof kykNET se nuwe dramareeks, Alles Malan, om ’n wenner te wees.

Die reeks, wat in Julie 2019 begin, is ’n familiedrama wat in die Paarl buite Kaapstad afspeel. Aan die hoof van die familie staan Derik en Brenda Malan, onderskeidelik gespeel deur Albert Maritz en Elsabé Daneel. Hulle eersgeborene, Frik (vertolk deur Ivan Zimmermann), keer na agt jaar in Engeland terug om die familiebesigheid, Malan Vervoer, by sy pa oor te neem. Sy vrou, Tessa (vertolk deur Nadia Valvekens), en twee tienerkinders keer saam met hom terug, maar het elkeen ’n stryd van hul eie: Tessa moet weer gewoond daaraan raak om ’n huisvrou te wees. Die 17-jarige Elani (vertolk deur Greteli Fincham) ontvang lewensveranderende nuus en Freek (vertolk deur Matheo Olivier), die Malans se 14-jarige aangenome seun, worstel met ras-identiteit. Nico (vertolk deur Sean Marco Vorster), die jongste van die Malan-seuns, staan op trou met Lee-Ann (vertolk deur Nicole Fortuin). Die rol van oupagrootjie Peet word deur Marius Weyers vertolk.

KYK OOK: Hier is die titelsnit vir kykNET se splinternuwe reeks.



Van die spelers is van skoolbanke gehaal om die rolle te vertolk: Greteli is ’n matriekleering aan Hoërskool Stellenbosch en Matheo is ’n leerling aan Hoërskool Laborie. Daar is heelwat tonele by Hoërskool Hugenote in Wellington verfilm en van die leerlinge is as gas- en byspelers gebruik. Ander bekendes wat in die reeks te sien is, is Hélène Truter as die skoolhoof, Tim Theron as Herold, Kay Smith as Cathy, Tristan de Beer as Allen, Nic de Jager as Danie, Mbulelo Grootboom as die huisdokter, Mila Guy as Vicky, Lee-Ann van Rooi as die skoolsielkundige en Pierre van Pletzen as die rugbyhoof Hannes. Brent Vermeulen speel die rol van Johan, Elani se nuwe liefde wat haar in al haar besluite ondersteun.

Die mede-regisseurs is Corné en René van Rooyen. Hulle het ook die konsep vir die reeks ontwikkel en is die hoofskrywers. Ook in die skrywerspan is Retief Scholtz, Burger Meyer en Lize Vosloo. Die vervaardiger is Tascha van der Westhuizen. Corné is bekend as regisseur van treffer-flieks soos Hollywood in My Huis, Vaselinetjie en Susters. René is onder meer die regisseur van Toorbos, die rolprent wat op Dalene Matthee se boek gegrond is wat in 2020 vrygstel word. Alles Malan is hulle eerste dramareeks.

Kyk die lusmaker hieronder:



Alles Malan skop af in Julie slegs op DStv-kanaal 144. Deel dié nuus met jou vriende op sosiale media met hutsmerk #AllesMalan.