Logo

Boer Soek 'n Vrou: Onbeplande liefde

Nuus
26 Oktober 2017
Boer Soek ’n Vrou maak hierdie week ’n draai by nóg van die boere wat liefde gevind het.
Hennie-Jacobu-Troue

Hennie en Jacobu op hul troudag in Oktober. FOTO: Uit vandeesweek se episode van Boer Soek ’n Vrou

Die Boer Soek ’n Vrou-span het in die twee vorige episodes gaan inloer by Jacobus, Hubert, Ludwig en Gerrie, sowel as by Lize, Johan, Erik en Tickey, en hierdie week is Flip, Fanie en Hennie aan die beurt.

Wenda se deelname aan Boer Soek ’n Vrou se tweede seisoen was ietwat onkonvensioneel – sy het nooit ’n briefie vir boer Flip geskryf nie.

Dié boer van die Langkloof het stapels briewe ontvang en kon drie vroue plaas toe nooi. Toe een van die vroue weens werkverpligtinge nie kon saamkom nie, het Flip die aankondiging gemaak: Daar is iemand, wat hy iewers elders ontmoet het, wat nou ook plaas toe kom…

Nie lank daarna nie het die twee vroue wat eerste op die plaas was besluit om hul tasse te pak. “Ek is nie reg vir die omstandighede nie,” het een van hulle gesê.

Vandag gesels Flip en Wenda, wat op 8 Oktober 2011 voor 120 mense afgehaak het, oor die destydse negatiwiteit teenoor hul verhouding. “Dit maak ’n mens seer,” sê Wenda.

Flip meen die publiek se teenkanting het hulle bloot nader aan mekaar gebring. Sy Wenda – ’n regte “rooimier” – het hom gehelp om uit sy dop te kruip en wanneer sy dorp toe moet ry begin hy al na ’n uur kyk “wanneer kom daai bakkie weer terug.”

Wenda sê: “Ek verstaan hom en hy verstaan my. Ons kan net vir die Here dankie sê daarvoor.”

KYK: Flip en sy ‘rooimier’

Die pittige Fanie van seisoen 6 is nóg ’n boer wat kykers nie maklik sal vergeet nie. Lindy het sy hart gesteel, maar koue voete gekry, en die twee is uitmekaar. By die reünie het hy opgedaag saam met die vrou wat aanvanklik gesê het sy wil nie plaas toe gaan nie, en aanbieder Angelique het hom ’n “dark horse” genoem.

Vandag hou die Boer Soek ’n Vrou-bakkie stil op sy plaas in die Oos-Kaap, om by hom en sy donkerkop nooi, Bernice, in te loer. Sy het vir hom ’n boodskap op Facebook gestuur en die boer is vandag nog nie spyt dat hy daarop gereageer het nie. “Toe’t ek die kind gering. Daar sit hy!”

Die paartjie het in Junie vanjaar getrou. “Sy sien kans vir alles,” sê die boer. Hy meen om sy beste maat by hom te hê maak die lewe net “soveel meer spesiaal.”

As hy die wiel kon terugdraai sou hy niks anders gedoen het nie. “Boer Soek ’n Vrou het my lewe verander” – op ’n slegte maar ook goeie manier. “Jy het nie veel privaatheid nie,” sê Fanie. “Die goeie deel sit hier langs my!

“Ek wil nie my lewe indink sonder haar nie. Ek hoop sy is maar daar tot die dag wat ons almal langbome toe gaan.”

KYK: ‘Toe’t ek die kind gering!’

Hennie en Jacobu se liefde het begin blom ná die Boer Soek ’n Vrou-kameras ophou rol het. Beide het aan seisoen 9 deelgeneem, maar pasmaatloos by die reünie opgedaag: Hennie alleen en Jacobu as Arno se vriendin.

Die twee het mekaar egter by die reünie ontmoet, nommers uitgeruil omdat Jacobu ’n pakkie vir Hennie in Stellenbosch moes aflewer, en vandag is hulle meneer en mevrou!

“Ek dink ons het op daai stadium geweet presies wat ons uit die lewe soek,” vertel Hennie oor wat hulle op die program van hulself geleer het, en hoekom hulle gereed was vir ’n verhouding. “Van die begin af was dit lekker.”

LEES: Só het Hennie die jawoord gevra

Gallery

Die verliefde paartjie het op 7 Oktober vanjaar in Willowmore, in dieselfde skuur waarin Hennie se tweelingbroer se bruilof gehou is, getrou.

Hennie spot en sê Jacobu is op dié stadium ’n spaarplan. “Nie ’n belegging nie!” lag Jacobu. Sy moet nog haar voete in Willowmore vind, maar gaan vir eers uithelp by Hennie se gastehuis op die dorp. “Daar is baie planne.”

Hulle is gereeld in die kollig, maar beskou dit nie noodwendig as ’n slegte ding nie. Hulle het ’n “mooi storie”, wat dalk vir iemand iets kan beteken, meen Hennie. “Dit het ons nog glad nie beïnvloed nie, want ons fokus is op mekaar.

“Ek is baie bly dinge het uitgewerk soos dit het.”

Jacobu sê: “Jy sê dit elke keer. Wat soek jy?”

“Ek het jou klaar!” lag Hennie.

KYK: ’n Regte plaastroue

Elke storie het twee kante. Boer Soek ’n Vrou-vervaardiger Elmarie Botha gesels oor Flip, Fanie en Hennie:

Donderdag om 20:00 gaan kuier Minki by die tien boere wat aan seisoen tien van Boer Soek ’n Vrou deelneem – jy wil dit nie misloop nie! Volg ons op Facebook, Twitter en Instagram, en gesels saam by #GroterBeterBoer en #BoerSoeknVrou.