Logo

Boer Soek ’n Vrou: ’n Kans om lief te hê

Nuus
14 Februarie 2017
Hennie en Jacobu, wie se romanse vlamgevat het na afloop van die negende seisoen van Boer Soek ’n Vrou, gesels met ons oor die liefde.
BSV Hennie Jacobu

Dis ’n hedendaagse romanse; ’n onbeplande liefdesverhaal wat kykers se harte verower het: Hennie en Jacobu het liefde gevind ná die Boer Soek ’n Vrou-kameras ophou rol het en hou die vlammetjie aan die brand, selfs al woon hy op Willowmore en sy op Somerset-Wes.

Dié boer en laerskool-onderwyseres het aan die negende seisoen van die gewilde werklikheidsreeks deelgeneem met die hoop om ’n pasmaat te vind, maar op die dag van die reünie was daar nie ’n gelukkige einde vir een van die twee op die kaarte nie.

Hennie het alleen opgedaag (al drie dames wat saam met hom op die plaas gekuier het, het liefde gevind). Jacobu, wat vir Arno geskryf het, was aan dié Newcastle-boer se sy, maar bloot om hul hoofstuk saam af te sluit: Die boer wou net vriende bly.

Nou ja, Hennie en Jacobu het mekaar by die reünie ontmoet, nommers uitgeruil omdat Jacobu ’n pakkie vir Hennie iewers moes aflewer en die res is geskiedenis! (’n Foto op Instagram het die nuus amptelik gemaak).

Ons het die paartjie oor die liefde uitgevra:

Wat beteken Valentynsdag vir jou?

Hennie: Ongelukkig, met die afstand tussen ons, is dit nie altyd moontlik om op sulke dae saam te wees nie, so ons maak seker om op te maak wanneer ons mekaar sien.

Jacobu: Valentynsdag is net nóg ’n dag in die jaar. Ek was nog nooit ’n groot aanhanger van die rooi rose en baie harte nie, want hoekom net op hierdie dag iemand bederf? Ek voel ’n mens moet elke moontlike geleentheid gebruik om lief te hê en om te gee. Ek sou dit wel baie geniet het as Hennie by my kon wees op dié spesifieke dag, maar afstand leer my dat die maand of dag se naam nie belangrik is nie, maar eerder die sekondes wat jy benut.

Hennie, hoe bederf jy graag vir Jacobu? En Jacobu, hoe laat jy Hennie spesiaal voel?

Hennie: Gelukkig is Jacobu iemand wat die klein dinge waardeer in die lewe, so om tyd en aandag aan haar te gee is genoeg, maar ek hou daarvan om ’n geskenkie te gee.

Jacobu: Dis moeilik om te sê – ek dink hy moet dit beantwoord. :) Tog dink ek die vat aan sy hand, die uit-die-bloute-boodskap wat net sê “Ek mis jou” of “Ek is lief vir jou” en dan my aanhoudende geskimp vir drukkies en soene moet hom laat besef hy is mal spesiaal vir my.

Wie of wat is vir jou ’n voorbeeld van hoe ware liefde moet lyk?

Hennie: ’n Goeie voorbeeld vir ons van ware liefde is ons ouers – dat jy alles in die lewe saam aanpak (die goed en die sleg).

Jacobu: Ware liefde vir my is om te kan oop-oë soen (ek spot). Ek sien elke dag ware liefde in my ouma en oupa, ma en pa en selfs my suster en swaer se lewe.

Wat is die beste verhoudingsraad wat jy kan deel?

Hennie: Om mekaar spesiaal en “wanted” te laat voel.

Jacobu: ’n Oom het eenkeer vir my gesê: Maak seker jy kan lewe met die manier waarop hy lag en sy ontbyt eet, want jy moet vir die res van jou lewe daarmee kan saamleef. En ek dink dis baie waar. As daar dinge is van ’n persoon wat jou aan die begin pla, dan gaan dit jou altyd pla. Maak seker dat die klein goed wat krap nie groot dinge word nie.

Julle woon taamlik ver uitmekaar uit. Hoe hanteer julle die uitdagings wat daarmee saamgaan?

Hennie: Dis rêrig nie lekker nie en die grootste uitdaging is dat ons op hierdie stadium niks aan die uitdagings kan doen wat afstand betref nie. Maar wat dit draaglik maak is die feit dat ons onsself saam sien in die groter prentjie.

Jacobu: Die afstand verhoog Hennie se selfoonrekening en hoe baie ons van mekaar weet. Ons leer mekaar goed ken oor die foon, maar die uitdagings vir my is om hom deel te maak van my lewe al is hy nie fisies hier nie. Ek vergeet soms dat hy nie gaan weet ek het ’n slegte dag gehad as ek hom nie gaan sê nie.

Hoe vul julle mekaar aan?

Hennie: Ek dink ons vul mekaar baie goed aan. Ons kom uit baie dieselfde agtergrond en die feit dat ons kan saam lag help baie. Ons verstaan mekaar baie goed.

Jacobu: Ek dink ons vul mekaar aan met emosies en gawes. Hy is sterk wanneer ek nie kan wees nie.

Wat geniet julle die meeste om saam te doen?

Hennie: Net om by mekaar te kan wees (dat ons nie hoef te vry oor ’n telefoon nie). Wat ons saam doen is ’n pluspunt.

Jacobu: Op die oomblik is enige tyd saam, maak nie saak waar nie, beter as geen tyd saam nie.

Hennie, wat is jou gunsteling-eienskap van Jacobu? Jacobu, wat omtrent Hennie het jou aandag getrek?

Hennie: Hoe sy my laat voel wanneer ek by haar is. Sy kan nogal ’n vertrek vol mense ophelder.

Jacobu: As ek dink aan Hennie, dan sien ek ’n omgee-hart. Hy sal altyd probeer om ander gelukkig te maak, al is dit ten koste van homself. Ek sien iemand wat so baie liefde het binne hom en ’n wil het om die lewe suksesvol en voluit aan te pak.

Voltooi die sin: Boer Soek ’n Vrou . . .

Hennie: . . . het my toegelaat om baie van myself te leer – hoe ek keuses en dinge benader en hoekom ek dit só doen. En dat liefde nie gedwing kan word nie, maar dat daar HOOP is vir liefde; dat dit op sy tyd gebeur – maak nie saak hoe en wanneer nie.

Jacobu: . . . het my die grootste geskenk gegee: Ware liefde.

Vinnige vrae

Wat is belangriker: Om goed te kan dans of lekker kos te kan maak?

Hennie: Om goed te kan dans.

Jacobu: Om goed te kan dans. Jy kan kos koop, maar nie nuwe voete nie.

Wie van julle twee is die snaakste?

Hennie: Jacobu.

Jacobu: Hennie.

Wie raak die vinnigste kwaad?

Hennie: Ek.

Jacobu: Ek raak die vinnigste kwaad, maar Hennie soek aspris daarvoor.

Watter soort fliek: Romanse, aksie, komedie, riller of gruwel?

Hennie: Komedie.

Jacobu: Komedie, definitief (’n bietjie romanse by is altyd ’n wenner).

Droombestemming (plaaslike of oorsee)?

Hennie: Om gelukkig te wees, maak nie saak watter kaarte die lewe vir ons uitdeel nie.

Jacobu: Plaaslik – iewers op ’n plaas of plattelandse dorpie.

KYK: Gerrie en Carna se “maanskyn en rose”