Logo

Boer Soek ’n Vrou: Groter, beter, liefde

Nuus
12 Oktober 2017
Boer Soek ’n Vrou 10 skop af met ’n kuier by van die vorige deelnemers!
BSV 10 Hubert en Angelique

FOTO: Hubert en Angelique op hul troudag (uit ’n episode van seisoen 10 van Boer Soek ’n Vrou)

Seisoen 10 van die immergewilde werklikheidsreeks Boer Soek ’n Vrou is ongetwyfeld #GroterBeterBoer, en om dié mylpaal te vier het ons gaan inloer by van die vorige deelnemers wat liefde gevind het.

Eerste aan die beurt is Jacobus, die loslit-boer van die Waterberg-omgewing wat ons in die derde seisoen van Boer Soek ’n Vrou leer ken het.

Dié boer se rasperstem het ’n jong Ina se aandag getrek en sy het ingeskryf. Boonop was Jacobus grof om die kaak: “Ek hou van sy baard! Dis vir my lekker skurf,” het sy na afloop van die blitsafsprake gesê.

Uiteraard was die kompetisie straf, en veral Laurika het geen geheim daarvan gemaak dat haar visier op die boer ingestel is nie. Dit was egter Ina wat die boer se hart gewen het – ’n besluit wat dié donkerkop onkant gevang het. “My hart klop nou nog,” het sy toe gesê.

Sewe jaar ná hul liefdesverhaal op die kassie ontvou het, is Jacobus en Ina, wat op Kwêla verloof geraak het, gelukkig getroud met twee oulike kleingoed.

“Geen vrou dink dat sy ’n kans staan teen Laurika nie,” sê Ina. Oor sy keuse van lewensmaat sê Jacobus: “Jy moet kan gesels en lag. Een ding wat nie twee is nie. As daai goed alles in plek is, dan raak daai vrou seker dié mooiste vrou ooit.”

KYK: Die mooiste vrou

Volgende maak die Boer Soek ’n Vrou-span ’n draai naby Volksrust by seisoen 5 se Hubert en Angelique. Dié boer was nie deel van die topvyf nie, maar het sy trouvrou tussen die briewe gevind.

Angelique vertel sy glo vas dat hulle by mekaar sou uitkom selfs al het Hubert sakke vol briewe ontvang en voortgegaan met die proses.

Vandag lag hulle lekker saam oor die eerste keer wat Angelique op die plaas kom kuier het: Dié was skuins na vyf op ’n mistige oggend al aangetrek en buite op die plaaswerf, minwetend dat die boer en sy pa eers later uit die kooi klim. “Dis kwart oor vyf die oggend, man – ons almal slaap nog!” lag Hubert.

Nie lank daarna nie het die boer sy “Angie” gevra om te trou, en vandag het die stralende paartjie twee kinders.

Angelique het aanvanklik ambisieuse planne gehad om haar onderneming in Pretoria ook híér te laat werk, maar drie maande na die troue het sy uitgevind sy is swanger. “Dit het my tyd gevat om my plek hier te vind,” vertel sy. Sy meen egter mawees is die “beste werk”. 

Vir Hubert is dit die lekkerste om na ’n lang dag by die huis in te stap en sy vrou en kinders te sien. “Dit is alles,” sê hy.

KYK: Sewe sakke sout

Ons het ’n oomblik spandeer saam met Elmarie Botha, vervaardiger van Boer Soek ’n Vrou, en gesels oor die boere wat deel was van die vorige seisoene. Kyk hier:

Geen terugblik sal volledig wees sonder om by Ludwig in te loer nie.

Dié Vrystaatse boer het vir ’n verrassende wending in seisoen 2 gesorg. Nie net was hy die boer wat die meeste briewe ontvang het nie, maar een van die ander boere se dames het sy oog by die blitsafsprake gevang en is sommer vinnig-vinnig na sy plaas toe genooi.

Aan die einde van die plaasweek was die stemmetjie binne Ludwig egter nie stil nie: Sy droomvrou is nie op die plaas nie.

Ons ontmoet vandag vir Zelma, die vrou met die landbougraad wat dit reggekry het om dié wilde perd te tem. Hulle het sowat twaalf jaar gelede ontmoet (sy het selfs die reeks gekyk terwyl hy ’n deelnemer was!) en deel ’n liefde en passie vir perde.

Hulle het ’n tweejarige klong en ’n babadogtertjie op pad. Ja, sê Zelma, daar is dae wat sy wens sy “kon hom in die dam gooi”, maar Ludwig bly die tipe ou wat sy wil hê. Sy is trots op haar hardwerkende boer, en ken die goeie én die moeilike tye.

KYK: Die kook van konfytjies

Die Bothaville-boer met ’n voorliefde vir ’n blonde vrou, Gerrie, en sy boerenooi, Carna, se liefdesverhaal het in seisoen 7 voor kykers se oë afgespeel. Die Boer Soek ’n Vrou-bakkie stop ook híér om op te vang.

Gerrie se oë, dimpels in die wange en “mooi boudjies” het destyds Carna se belangstelling geprikkel en ná die plaaskuier het die boer geweet: Dié vrou gaan die beste by hom pas.

Drie jaar na hul ontmoeting, in hul plaaskombuis, giggel die twee wanneer Gerrie vertel wanneer hulle met ’n gesinnetjie begin het. “Ek weet nie hoe om dit te sê nie!” lag hy.

Gerrie en Carna het op die radiostasie OFM verloof geraak, ’n sprokiestroue in die Vrystaat het gevolg en hul eersteling is in September gebore.

“Almal soek ’n gelukkige einde,” sê Gerrie, maar nie hy of Carna het gedink die liefde sal hulle bring tot waar hulle vandag is nie. “Natuurlik hoop jy vir iets positief, maar ek het nie gedink dit sal waar word nie.”

Carna sê: “Ek dink mens hoop vir ’n verhouding, maar ek dink nie mens dink dit kan só goed uitdraai nie. Ek dink dis spesiaal.”

Vir seker, meen Gerrie: “Ek dink mens kan sê dis ’n sprokiesverhaal wat uitgewerk het en góéd uitgewerk het.”

KYK: Vrystaatse liefde

Skakel Donderdag om 20:00 in vir nóg ’n spesiale episode! Volg ons op Facebook, Twitter en Instagram, en gesels saam by #GroterBeterBoer en #BoerSoeknVrou.