Logo

Boer Soek ’n Vrou: 'Nou gaan ons braai!'

Nuus
22 Desember 2017
Die twee oorblywende dames op die plaas ontmoet die boer se familie en vriende.
BSV_Johan 1

FOTO: “Ná gisteraand weet sy (Marilyn) dat haar brief en haar foto agter die raam is."  - Boer Johan

Wie ookal gesê het dat mans nie kan multi-task nie, het duidelik nog nie seisoen 10 se boere ontmoet nie. Vandeesweek moet die boere weereens hulle aandag verdeel tussen die oorblywende twee dames wat hulle aan hulle vriende en familie voorstel.

Adriaan skop dié stresvolle dag af met ’n bakkierit om die plaas. Dan kies hy saam met die dames koers skape toe om vir hulle kos te gee.

“Jy kon sien hy is ook ’n klein bietjie meer op sy gemak deur nou net vir twee dames te moet kyk,” sê Anzelle.

Het jy verlede week se episode misgeloop? Lees dan hier. 

Adriaan stel die dames voor aan sy ma Suzette en sy pa se vrou, Louise, vir wie die dames help om kos voor te berei vir die braai.

“Hulle is baie fluks,” laat hoor Adriaan se ma van haar. By die braai vertel sy dat sy dink Adriaan tog in ’n mate ’n gunsteling het.

Sy vriend Divan is van mening dat Helene beter by Adriaan sal pas oor “die chemistry”.

Adriaan se pa, Koos, stel sake in perspektief: “Adriaan se boerdery is vir hom ’n passie en ’n liefde en sy vee is vir hom ’n passie. Ek dink dit gaan eerste kom. Ek dink hulle (die dames) besef dit."

Adriaan bly egter optimisties: “Ek gaan die regte keuse maak en ek gaan van my kant af als insit om dit te laat werk. Dit sal net ongelooflik wees om te kan brag en te kan wys,” hy knik sy kop na die kant toe, “dis dié meisie. Ons gaan ongelooflik wees.”
 

 

 

Jy hoor die krieke op Braam se plaas waar die oorblywende twee dames buite sit en lees. Die leessessie word gevolg deur ’n potjie skaak.

“Daar is nie baie woorde op hierdie stadium nie. Ons spot maar en sê ons bêre die woorde vir vanaand omdat nie een van ons rerig vreeslik baie praat nie,” verduidelik Yola.

By die braai is dit nie die woorde wat Yola pla nie, maar die sitreëling. “Ek weet nie watter kant ek moet sit nie, dis baie ongemaklik.” Toe dié tameletjie uitgesorteer is kon Braam voortgaan met die bekendstelling van die dames. “Wees asseblief baie mooi en nice met hulle. Nie te veel vrae vra nie. Ek gaan julle almal fyn dophou.”

Sy neef Eugene meen Braam is op die settle-pad. “Hy raak nie jonger nie. Dis tyd om ’n familie te begin.”

Sy vriendin Geneviève meen Yola klink meer gewillig om plaas toe te trek. ’n Ander vriendin Melanie sien die dames as twee resiesperde wat mekaar verbyvat. “Die een wat die meeste vir my uistaan is Yola.” Sy niggie Vanessa is van mening dat Janine Braam se keuse is.

Braam se vriendin Annelida is self getroud met ’n tamatieboer en waarsku dat daar min tyd is vir social en familie.

“Ek dink ek kan myself op die plaas sien,” sê Yola met blink oë. Janine aan die ander kant roep halt: “Ek dink nie op die stadium gaan daar rêrig enige romanse van dit kom van my kant af nie. Van my kant af dink ek nie ek gaan meer baie langer hier bly nie.”

Braam, salig onbewus van wat voor die kameras gesê word, vertel: “Ek het net daai gevoel diep binne my dat dinge gaan uitwerk. En ek het net daai gevoel dat ek dalk my sielsgenoot sal vind deur hierdie proses.”

 

 

Jacques se beplande aktiwiteit is kortgeknip omdat Corné nie lekker gevoel het nie.  

“Nou gaan ons braai,” verklaar Jacques in die kar.

Jacques vat vir Corné gastehuis toe waar sy ’n bietjie kan lê terwyl hy vir Danél die dorp wys. “Hierdie was ’n ou winkeltjie gewees,” wys hy vir haar soos hul deur die stofstrate van Loeriesfontein loop.” Danél glimlag van oor tot oor oor die welkome alleentyd.

Terug by die gastehuis, is Corné ’n nuwe sikspens ná haar middagslapie: “Dit voel nou weer of ek energie het.”

By die braai vertel Jacques se suster Herine dat beide dames goed by haar broer sal pas, maar dat Corné ’n "sterker persoonlikheid" vir haar broer het. Sy vriendinne Monya en Heike is weer van mening dat Danél makliker op Loeriesfontein gaan inpas omdat sy die omgewing ken en vinnig oor die weg kom met almal.

Ma Alida meen dat die beroepe waarin die dames is en gaan wees, goed in die gemeenskap gebruik kan word. “Dit hang van jou af. As jy hier wil inpas, sal jy inpas.”

Wat is ’n braai nou sonder ’n tikkie wysheid? Een van Jacques se vriendinne praat die dames nuwe moed in: “Van Londen to Loeriesfontein all in a year. Só dit kan gebeur. Die enigste ding wat ’n mens moet leer, is om ’n pap wiel om te ruil. Nie ’n karretjie s’n nie – ’n Hilux-bakkie.”

Jacques sluit die aand op sy reguit manier af: “Vanaand kan ek nog selfs sê altwee is gelyk.”

 

 

Ruan se dames is sommer vroeg uit die vere en word verras met ’n vliegtuigrit. Natuurlik wou albei agter langs Ruan sit en hulle moes ching-chong-cha. Dié eer het vir Bianca toegekom.

Obviously gaan ek nou my kans vat om bietjie langs Ruan te sit,” vertel sy. Daar was nie kwade gevoelens nie, veral nie toe Marica self die stuur van die vliegtuig vat nie.

“Toe raak Bianca lekker op haar senuwees. Toe was ek ook ’n bietjie op my senuwees,” vertel Ruan. 

Die feit dat Ruan heeltyd kyk of hulle reg is, val so reg in Marica se kraal. “Ek glo dis hoe hy eendag met sy vrou ook sal werk.”

Ruan meen dat dit wat sy familie en vriende sê ook iets tel, hoewel hy nie sy besluit net daarop gaan baseer nie. 

Pa Grobbie dink Ruan soek na iemand soos sy ma. “Sy ma het ’n baie warm geaardheid en daar’s altyd ’n huis wat warmte in het.” Hy meen dat Marica die beste by Ruan pas omdat sy van die plaas afkom en verstaan hoe dit op ’n plaas werk.

Ruan se vriend Windhond dink weer Bianca gaan die beste by hom pas.

“Op die oomblik hou ek van altwee, maar ek is nog nie verlief op een van hulle nie,” vertel Ruan aan die einde van die braai.

 

 

Marinda is besig om haar tas te pak op Johan se plaas.

Marilyn val met die deur in die huis: “Hy’t (Johan) vir my gesê die hele tyd probeer hy vir my wys dat ek die ene is. Hy het mos gesê hy het al ’n keuse gemaak.”

Johan skryf dit toe aan ’n wonderlike “geestelike ervaring”. “Die wonderlike vrou wat Marinda is, sy het dit raakgesien. Sy het dít opgetel.”

Johan het terwyl Marilyn slaap, tyd saam met Marinda spandeer en besef daar is nie ’n “vonk” in sy hart vir haar nie. Hy bars in trane uit toe hy vertel dat Marinda na hom toe gekom het en gesê het sy soek ’n man soos hy.

Boer Soek ’n Vrou-aanbieder Minki het dadelik plaas toe gehaas om ondersoek in te stel.

Johan vertel dat Marilyn nou weet dat haar brief en haar foto agter die raam skuil.

“Dis nou heavy op my. Dis nou soos ’n groot berg,” vertel Marilyn.

By die braai is die aanraking effens minder toe Johan vir Marilyn sê: “Jy hoef nie uit te voel of eenkant te voel nie. Is dit reg?”

Die verhouding dra duidelik sy seun en skoondogter se goedkeuring weg. “Jonk van gees is ’n understatement. My pa is 60 maar hy gedra homself soos ’n dertigjarige,” sê sy seun, Jerry.

Age is just a number,” beaam Ashleigh.

Johan se buurman Vic vertel hy het lekker saam met Marilyn gekuier. “Ek voorspel geen probleme vir die toekoms nie.”

Sy vriendin Dulcie is egter ’n bietjie skepties. “Sy lyk gelukkig maar onthou nou as dit net hulle twee oor is dan sal ons weer praat. 


 

KYK: Hier is hoe die tyd saam met ons boere se mense verloop het

Donderdag om 20:00 het die boere alleentyd saam met elkeen van die twee dames – jy wil dit nie misloop nie! Volg ons op FacebookTwitter en Instagram, en gesels saam by #GroterBeterBoer en #BoerSoeknVrou