Logo

Boer Soek ’n Vrou: ‘As ek vir jou ’n droom kon stuur…’

Nuus
14 Desember 2017
Na slegs twee dae saam moet ons boere die eerste dame huis toe stuur.
BSV-Droom-kon-stuur

FOTO: “As ek vir jou ’n droom kon stuur saam met die noordewind, sou ek die soet reuk van die veld saamstuur, die klank van die windpomp in die wind, van die reën op die plaasdak as die genade oor ons uitsak. Ek sal jou herinner om te leef, lief te hê en genoeg te lag…” Dís die boodskap op ’n kussing wat Jacques vir Melandri as geskenk gegee het.

Dis gewoonlik ’n feestelike affêre wanneer aanbieder Minki in die rondte is, maar vandeesweek beteken haar aankoms op die plaas dat een van die dames se reis na liefde met die boer van hul keuse tot ’n einde kom.

Jacques-hulle is vir oulaas vier op die piekniek-kombers, en Corné, Danél en Melandri kan die boer se angs en senuweeagtigheid aanvoel. Corné sê sy kan sommer síén Jacques “is baie ongemaklik met die uitstemmingsproses”.

Jacques sê hy moet ’n “tydjie loop sit” sodat hy mooi kan dink en kan reg wees teen die tyd wat hy een dame huis toe moet stuur. “As ek daai besluit gemaak het, stick ek met dit en is ek tevrede daarmee,” sê hy.

Het jy verlede week se episode misgeloop? Lees dan hier.

As Melandri alles vir die liefde moet oppak en Johannesburg vir Loeriesfontein moet verruil, sal sy dit doen. Danél meen ’n vrou wat gemaklik is in haar eie vel en “alles en niks kan waardeer” sal die beste by Jacques pas. Sy glo sy is aanpasbaar genoeg.

Corné meen die boer is op soek na ’n vrou wat by hóm pas.

Wat van die omgewing? Jacques sê: “Ek is ongelukkig hier op die kliprante geplant, maar ek probeer die mooiste blom wees.”  

Die vrou wat híér gaan aard moet weet sy gaan haar mense min sien. Sy en die boer gaan mekaar se belangrikste ondersteuningsnetwerk wees.

KYK: Jacques maak ’n keuse.

By Braam gesels Minki met die dames om te hoor wat deur hul koppe maal.

Anene vertel daar ís eienskappe van Braam wat haar aantrek na hom toe, maar daar is ook dinge wat haar onseker laat. Sy meen dit gaan ’n ongemaklike storie wees wanneer daar net twee oor is, omdat die boer op sy senuwees gaan wees om twee vreemdelinge aan sy naastes voor te stel.

Janine sê Braam is stil en rustig, maar sal kan doen met iemand wat ’n bietjie meer van ’n ekstrovert is. Yola geniet Braam se rustigheid en meen “dis ’n lekker droom daai” wanneer Minki haar vra wat sy sien wanneer sy haarself verbeel sy en Braam is saam.

Braam vertel hy raak vinnig geheg aan iemand – iets wat in die verlede ’n wig tussen hom en vorige meisies ingedryf het. “Ek probeer verby hulle foute kyk – eintlik blind op ’n manier,” sê hy. Hierdie keer gaan hy “realisties wees” en ’n besluit met sy kop probeer neem. “Realiteit is heeltemal anders as in die movies en so aan.”

KYK: Braam stuur vir Anene huis toe.

Ruan en die dames probeer hard om oor middagete op ander dinge te fokus.

“Ek dink my gevoelens is al bietjie betrokke,” sê Bianca. Op hierdie stadium hou sy egter nog ’n wag voor haar hart. Vir Marica is dit ewe moeilik, want hulle leer die boer ál beter ken en meen “dit raak lekker om te bly”.

Ruan sê hy dink nie hy ken die drie vroue al goed nie, maar het genoeg gesien om sy besluit te kan neem.

“Ruan weet wat hy soek in die lewe. Ek kan dit net sien,” sê Lucinda. Bianca en Marica voel beide daar is een dame wat meer aandag by die boer kry as die res – hulle verklap egter nie wie dit is nie.

Die boer sê self hy het sterker gevoel oor een van die dames, “toe’t ander dit kom omkrap en nou’s ek heel deurmekaar”. Hy sê: “My gunsteling het nie verswak nie, maar die ander het die speelveld gelyk kom maak.”

KYK: Ruan groet sy ‘nommereen’.

By Adriaan-hulle is die atmosfeer gemaklik. Helene sê sy is “elke minuut van die dag” besig om te kyk of dié boer iemand is by wie sy sal pas.

Anzelle sê Helene neem beslis leiding onder die dames, maar dis geensins ’n probleem vir hulle nie. Sy meen dis elkeen se verantwoordelikheid om te besluit of sy wil saamgesels of terugstaan.

Adriaan meen niemand “het só erg voorgevat” dat dit hom pla nie. Hy vertel vir Minki hy hou van iemand wat eerlik, selfstandig én saggeaard is. “Dis wat dit so moeilik maak!”

Danelle sê sy was nog nie vir een oomblik spyt sy het ingeskryf nie. Sy het geen idee wie die beste by die boer gaan pas nie.

KYK: Die reis is verby, maar Danelle is geensins spyt nie.

Die onsekerheid lê veral vlak op Johan se plaas, en Marilyn gesels verder met die boer oor wat pla.

Johan, ’n selferkende “terggees”, het haar in die Kaap laat voel asof sy reeds “uitgestem” is omdat hy haar oor haar gebrekkige plaaskennis gespot het. Die boer het vir Marilyn gesê: “Dit was nie om jou seer te maak nie.”

Later sê Marilyn vir Minki dis vir haar moeilik om met ander te kompeteer. Sy en Marinda voel beide dat Johan gek is oor Marita, en haar geselskap die meeste geniet. “Hulle het ’n oomblik gedeel in die Kaap al,” sê Marinda.

Marita sê Johan mag moontlik vir Marinda huis toe stuur, “maar dit kan ook ék wees!”

Minki wonder of Johan die regte ding gedoen het deur die dames te sê dat hy reeds sy finale keuse gemaak het. Hy meen hy het dinge vir hulle makliker gemaak.

Die dame wat hy vanaand groet oorheers die gesprekke só dat die boer nie by die ander twee kan uitkom nie. “Ek is rêrig ’n oop boek,” sê hy.

KYK: Groot is die skok op die dames se gesigte wanneer Johan vir Marita groet.

Donderdag om 20:00 ontmoet die oorblywende twee vroue die boere se vriende en familie – jy wil dit nie misloop nie! Volg ons op FacebookTwitter en Instagram, en gesels saam by #GroterBeterBoer en #BoerSoeknVrou