Logo

Boer Soek ’n Vrou: Je-Ani beveel gin aan

Nuus
03 November 2017
Ons het by sepiester Je-Ani Swiegelaar ’n draai gemaak om haar perspektief op die gewilde realiteitsreeks Boer Soek ’n Vrou te kry.
BSV_Jeani Swiegelaar

FOTO: Vernondo Boshoff Photography/kykNET

Ons het by sepiester Je-Ani Swiegelaar ’n draai gemaak om haar perspektief op die gewilde realiteitsreeks Boer Soek ’n Vrou te kry.

Je-Ani het as Naomi Ferreira ’n huishoudelike naam geword. Alhoewel ons alles van haar Binnelanders-karakter weet, is min mense daarvan bewus dat sy, nes die res van ons, Donderdae voor die kassie genael is vir haar weeklikse koppie boeretroos.

1.  Wanneer het die Boer Soek ’n Vrou-gogga gebyt? 
Ek is ’n fan van die realiteitsreeks van die heel begin af. Ek is nie seker wat omtrent die formaat van die reeks my getrek het nie, maar ek het verlief geraak op die liefdestories in die reeks. Dit is meer werklik as ’n romcom, en ’n mens raak versot op die werklikheid daarvan.  

2.  Hoekom dink jy is die Boer Soek ’n Vrou-reeks so gewild? 
Ek dink dit is omdat dit gewone mense in ’n ongewone situasie is, en dit is ook Afrikaanse mense wat gewys word in die reeks. Hier is daar nie regtig tyd vir die gewone skugter teruggetrokke konserwatiewe ‘onemosionele’ goed wat ons altyd probeer wees nie. In die reeks word die deelnemers gekonfronteer met keuses, en nie net sommer enige keuses nie – dit gaan oor hartsake. Met hartsake is die rou eerlikheid daarvan altyd iets wat mooi is om te sien. Ek wil baie graag sien hoe ander mense gelukkig is, of geluk vind, en daarom is hierdie reis van die deelnemers vir my heerlike kykgenot.

3.  Het jy al ’n crush op een van die boere gehad?
Ek dink nie ek het al ’n crush op een van die boere gehad nie, maar ek kon meer as een keer in verskeie van die boere die elemente sien van wat ek eendag in ’n trouman wil hê. Dit is lekker om te sien dat dit wat ek soek daar buite is, al het ek dit nog alles in een persoon gevind nie. 

4.  Glo jy in realiteitsreeks-liefde? 
Ek is altyd skepties oor die klassifisering van liefde, want ek is nie in daardie situasie nie. Ek dink nie vir my sal dit oor so ’n vinnige tydperk gebeur nie, want ek glo nie in love at first sight nie. Ek glo wel dat as jy weet, weet jy. Jou hart praat harder as jou brein. 

Je-Ani het dié foto op haar Instagram-blad gedeel:

5.  Die dames en boere ontvang heelwat kritiek oor wat daar van hulle op TV gesien word. Met dit in gedagte wil ons by jou hoor, wat moet kykers weet van wat werklik agter die skerms gebeur, en wat moet hulle in gedagte hou wanneer hulle inskakel? 
Met Boer Soek ’n Vrou is dit onopgeleide mense wat deelneem – hulle is nie akteurs nie. Hulle ken nie die tegnieke om sekere emosies te fake volgens ’n script of ’n regisseur se leiding nie. Dit wat jy sien, is dit wat jy kry. Ek kan net dink hoe op hul senuwees meeste van die deelnemers is. Ek is al vir ses jaar voor die kameras, en ek raak nog soms senuagtig – ek kan myself nie indink hoe mense wat nie gewoond is aan ’n kamera in jou gesig voel nie. Kykers moet ook onthou dat dit wat hulle sien is nie die hele verhaal nie – dit is ’n gekondenseerde een. Daar is net ’n uur in ’n week om vir mense te wys wat alles gebeur het, en daarom is die tamper ’n shorthand van die werklikheid. Dit is iets wat meeste mense vergeet – daar is ure, dae, en maande wat jy nie op skerm sien nie. 

6.  Wat dink jy van die feit dat baie van die boere nie liefde vind nie? 
Dit is teleurstellend, veral wanneer ’n mens so graag wil hê dat iemand wat eensaam is, en na liefde soek, dit moet vind. Maar as jy dit nie voel nie, voel jy dit nie. Jy kan nie iemand maak verlief raak of romanties optree of reageer wanneer hulle harte dit nie voel nie. Ek dink natuurlik dat die vervaardigers van die reeks dit sterk moet oorweeg om elke seisoen ten minste een vroulike boer in die reeks te hê, selfs al kry sy minder briewe as die res van die mans. Dit sal die anderkant van die munt ook wys.

7.  Wie is jou gunsteling Boer Soek ’n Vrou-aanbieder van alle tye en hoekom? 
Elma Postma was my gunsteling, maar ek hou baie van Minki. Ek dink natuurlik Nina Swart sal ’n baie goeie aanbieder wees. Of ek natuurlik…

8.  Wie is jou gunsteling Boer Soek ’n Vrou-paartjie van alle tye en hoekom? 
Tiekie en Selme-Louise. Ek was verlief op hulle liefdestorie wat ontvou het op skerm. Gerrie en Carna was ook ’n treat.

9.  Waaroor sou ’n realiteitsreeks deur Je-Ani Swiegelaar gaan? 
Ek dink nie ek is so ’n exciting mens om dop te hou nie, maar indien ek ooit eendag die geleentheid kry om my droomrol in my droomfilm te speel, dink ek sou dit ’n pretty exciting experience gewees het om te volg.

10.  Enige raad aan seisoen 10 se boere om oor die ongemaklikheid van die eerste paar afsprake te kom?
Wees net jouself. Vat ’n gin as jy moet. Maar wees ten alle tye net jouself. Rookskerms het ’n manier om te verdwyn. Relax. Jy hoef nie te trou nie. Ps: No pressure, maar ons hou jou dop!

Jy wil nie die volgende uitsending van Boer Soek ’n Vrou, Donderdag om 20:00, misloop nie! Volg ons op Facebook, Twitter en Instagram, en gesels saam by #GroterBeterBoer en #BoerSoeknVrou.