Logo

Elma Postma: Nog lank nie klaar met liefde

Nuus
25 Oktober 2017
Dis agt jaar later! Waar bevind Elma Postma, voormalige Boer Soek ’n Vrou-aanbieder, haarself? Ons het gaan inloer.

Niemand sal vir Elma Postma, die geliefde Boer Soek ’n Vrou-aanbieder van seisoen een, twee en drie vergeet nie.

Deesdae is Elma nie net ’n bekende gesig op die SABC-sepie Isidingo nie, maar bied ook die VIA-program Plaaskombuis aan. Verder hou sy haarself verhoogfiks met haar eenvrouvertoning, Semi’naar.

As vorige aanbieder van Boer Soek ’n Vrou het Elma op die plase met die intrapslag nie net in kykers se harte ingekruip nie, met haar koelkop-houding en natuurlike vermoë om leiding te neem in tye van onsekerheid.“Wat heerlik is [van aanbieding], is om net myself te kan wees, en op ’n gemaklike trant met die mense te kan gesels, letterlik soos ’n gas in hulle huis,” vertel sy.

“My aanbieding in dié tipe programme hoef nie ‘perfek’ en aangeplak te wees nie. Hoewel daar altyd ’n formaat is wat jy moet volg, is dit baie real.”

Dié jaar is Boer Soek ’n Vrou ’n dekade lank op die kassie en na groot aanvraag van kykNET-kykers, kuier ons eers by van die vorige deelnemers wat liefde gevind het vóór ons vanjaar se tien boere se liefdesreis begin volg.

In die eerste terugblik-episode het ons ingeloer by Ina en Jacobus. Volgens dié paartjie raak kykers “meer krities” en daar is ’n sekere “verwagting”.

KYK OOK: DIE MOOISTE VROU

Ina het gesê: “Mense judge jou oor iets wat hulle op TV sien, maar hulle weet nie regtig wat alles agter die skerms aangaan nie.”

LEES OOK: GROTER, BETER LIEFDE

Volgens Elma moet kykers altyd in gedagte hou dat só ’n program geredigeer word. “Van die sowat 40 ure wat afgeneem word, sien [kykers] amper 20 minute,” sê sy.

Sy verduidelik: “Ek is selfs soms lus om die boer te skud en vir hom te sê: ‘Maak oop jou oë. Komaan, moenie so moeilik wees nie’, maar die feit is dat daar oomblikke agter die skerms níé gesien word nie. Opmerkings, gewoontetjies, gesprekke…”

Boonop is dit ’n senutergende proses. “Om kameras in jou gesig te hê meeste van die tyd, maak mens skaam en versigtig om te veel te sê – jy is blootgestel,” sê Elma.

Sy moedig dus Boer Soek ’n Vrou-aanhangers aan om twee keer te dink voordat hulle kritiek lewer, en uitlatings maak, veral op sosiale media.

“Hierdie is mense, nie karakters nie. En sulke opmerkings kan regtig onnodig seermaak. Ken jy hulle geskiedenis, ken jy al hulle seerkry? As jy het, sou jy dalk besluite en antwoorde beter verstaan het.

“Maar ja.” Elma peins vir ’n oomblik en glimlag. “Natuurlik soek ons die perfekte liefdesverhaal – dis so mooi om te sien hoe mense verlief raak. Aan die ander kant sal die program vervelig wees as daar nie bietjie hare waai nie, nie waar nie?”

Ware liefde op die kassie

Elke jaar sien ons hoe liefde in ons sitkamers ontvou tydens Boer Soek ’n Vrou. Dit kom egter voor dat dit jaar na jaar moeiliker raak vir die boere.

In die tweede terugblik-episode het ons ingeloer by Tickey en Selme-Louise van seisoen een. Dié paartjie is van mening dat dit deesdae moeiliker is om deel te neem aan Boer Soek ’n Vrou, omdat tegnologie soveel meer gevorderd is.

LEES OOK: STEEDS VERLIEF

Selme-Louise het gesê: “Dit is so ’n onnatuurlike manier om jou man te kry – waar het ek ooit gedink ek gaan my man op die televisie kry. Dis hoekom dit eintlik so ’n sprokiesverhaal is.”

KYK OOK: BAANBREKER-LIEFDE

Hoewel dit nie een van die maklikste dinge is nie, sê Elma dat sy wél glo dat ware liefde op TV kán afspeel. “Tickey en Selme-Louise het ons destyds almal weer laat glo in die liefde,” sê sy. “Hulle was opreg en eerlik oor hulle gevoelens – en daar was iets tussen hulle wat jy van die begin af kon aanvoel.”

Sy meen dat daar verskeie suksesverhale voorgespruit het uit Boer Soek ’n Vrou. “Ek is regtig bly dat ek kon deel wees van die eerste drie reekse,” sê sy. “Ons was almal aan die begin skrikkerig en onseker oor hoe dit gaan afspeel – maar daar was ook ’n groot besef van hoe fragiel die liefde en mense se harte is.”

Elma se raad aan vanjaar se tien boere

“Dink mooi hieroor en besluit wat jy regtig wil hê. Moenie dink wat sal vir iemand anders werk nie, of wat hulle moontlik van jou gaan dink nie. Dis jóú hart – volg hom as jy iets voel.

“Moenie te bang wees om ’n kans te waag nie! Ek glo al lankal nie meer heeltemal in ‘eerste indrukke’ nie – mense het verskeie fasette, en dit kos dalk ’n tweede en ’n derde gesprek voor jy ’n werklike opinie kan vorm van iemand.”

Elma se raad vir diegene wat ingeskryf het vir vanjaar se boere

“Weet dat jy alreeds baie waagmoed gehad het om ’n brief te skryf. Miskien is jy nie die een wat die boer kies op die ou einde nie, maar gebruik hierdie proses om te leer wat dit is wat jy ook soek in iemand, wie jy is en wat vir jóú belangrik is.

“Ontspan en geniet dit – dis eintlik ’n lieflike avontuur. Wees net jouself. En as jy liefde vind, is ek so bly vir jou! Hoewel hierdie ’n TV-program is, is dit tog ook ’n kans om werklik jou maat te vind… Mens weet nooit”.

KYK OOK: ’N SPESIALE SEISOEN

Skakel Donderdag om 20:00 in vir nog ’n Boer Soek ’n Vrou-episode. Volg ons op Facebook, Twitter en Instagram, en gesels saam by #GroterBeterBoer en #BoerSoeknVrou.