Logo
web uni tv guide

Winslyn

144FinansiesPG13

kykNET Aktualiteit by US Woordfees

Nuus
21 Februarie 2018
Hier is die volledige program van aktualiteit by die US Woordfees.
US-Woordfees

Sien ons jou vanjaar in Stellenbosch vir Woordfees 2018? kykNET se aktualiteit-span sal daar wees om jou op hoogte te hou van belangrike gebeure in en om Suid-Afrika – maar plek is beperk. Bespreek dus vroegtydig.

Kliek hier vir meer inligting.

Hier is die volledige program van aktualiteit by die US Woorfees:

Prontuit-gesprekke
WAAR:
HB Thom, Stellenbosch, Maandag 5 Maart vanaf 21:30 tot 22:30
INLIGTING: ’n Regstreekse uitsending van Prontuit, aangebied deur Kabous Meiring. Regstreekse uitsending
TOEGANG: Gratis toegang. Om te bespreek stuur ’n e-pos aan [email protected] vóór 26 Februarie 2018.

GESPREKKE:

  1. Hoe lyk ’n moderne, gedekolonialiseerde Afrika-universiteit? 
    Is daar plek vir oeroue wetenskaplike metodes en feite? Wat van tradisionele gebruike en feite? Prof. Wim de Villiers gee onder andere sy mening. 
  2. Die waterkrisis in die Wes-Kaap sy ergste
    Tot watter mate moet die DA-regering met gebrekkige beplanning die skuld hiervoor kry, of lê die skuld by die nasionale ANC-regering? Ons gesels met die DA-leierskap, groot sake en wetenskaplikes.
  3. Hoekom is die jonger geslag so kwaad en selfbehep? 
    Waarom maak hulle lawaai en verskil van alles en almal, maar wil nie luister of ander se standpunte aanhoor nie? Wat behoort organisasies soos Open Stellenbosch te speel? Twee Stellenbosch-studenteleiers kom gesels saam.

Flits-gesprekke
WAAR:
Hoërskool Stellenbosch, Dinsdag 06 Maart om 11:00
INLIGTING: In Flits se aflewering van die aktualiteitsgespreksreeks gesels Bouwer Bosch met ’n verskeidenheid kunstenaars.
TOEGANG: Gratis.

GESPREKKE:

  1. Die beginners
    Ons gesels met jong kunstenaars, wat op verskillende maniere vir die eerste keer by die Woordfees betrokke is, oor die uitdagings wat die beginjare van ’n loopbaan kenmerk. Lea Vivier, Amee Lekas, Andrico Goosen en Elishia Zeeman (poppemeesters by The Loft Puppet company) gesels saam. 
  2. Uitskieters
    Gesprekke met kunstenaars wat in ’n kort tyd reeds ’n besonderse impak op die bedryf gemaak het. Jolyn Phillips, skrywer en musikant, sowel as Herman Kleinhans en Cintaine Schutte gesels met Bouwer.
  3. Betrokke kuns 
    Het kunstenaars ’n verantwoordelikheid om met die politieke en sosiale realiteite van die dag om te gaan in hulle werk? Hoe lyk betrokke kuns in 2018 in Suid-Afrika? Mercy Kannemeyer, Chase Rhys en Deon Meyer maak bydraes.

kykNET Verslag in gesprek
WAAR:
HB Thom, Stellenbosch, Woensdag 07 Maart om 21:30
INLIGTING: Regstreekse uitsending van kykNET Verslag in gesprek met Waldimar Pelser, redakteur van Rapport.
TOEGANG: Gratis. Om te bespreek stuur 'n e-pos aan [email protected] vóór 26 Februarie 2018.

  1. Die ANC en sy nuwe leiers
    Kan vandag se ANC die 2019 verkiesing wen? Indiepte gesprek met onder andere die politieke kommentator Melanie Verwoerd en die redakteur van News24, Adriaan Basson.
  2. Koalisie-politiek: 18 maande later…
    Waldimar gesels met verteenwoordigers van opposisie-partye oor haakplekke in munisipale samewerking, ideologiese verskille, gemeenskaplike doelwitte, en ook die vooruitsig van ’n koalisie-regering in 2019.
  3. Vaste grond? 
    Hoe sterk staan ons grondwet nog? Reflekteer dit werklik ’n nasionale konsensus? Is baie van ons konstitusionele instellings deur staatskaping onherroeplik geknou? ’n Paneelgesprek met akademici en regskenners.

Winslyn-gesprekke
WAAR:
Endler Konservatorium, Stellenbosch, Donderdag 08 Maart om 09:30
INLIGTING: Entrepreneur en aanbieder van Winslyn, Divan Botha, voer gesprekke met belanghebbendes oor verskeie onderwerpe in ’n reeks gesprekke. Ons fokus op entrepreneurs, ondernemings en tegnologie.
TOEGANG: Gratis.

GESPREKKE:

  1. Sluk jou Woorde
    In meeste Afrikaanse huise word daar vir kinders geleer om nie oor geld of besigheid te gesels nie. Dit is nie ’n kind se plek om te wonder hoe ma of pa se besigheid werk, of hoe baie geld daar is nie. Is bogenoemde werklik ’n kwessie? Sukkel die “Afrikaanse entrepreneur”? Ons gesels onder andere met suksesvolle entrepreneur Marnus Broodryk en voormalige nie-uitvoerende direkteur van Eskom, Venete Klein.
  2. Stelle-con Valley.
    Is Stellenbosch werklik Suid-Afrika se Silicon Valley? Wat presies is hier aan die gang en hoe voer ons wêreldklas idees en besighede uit na die buiteland? Voormalige uitvoerende hoof van Mxit en stigter van Project Isizwe Alan Knott-Craig (jnr), Uitvoerende hoof van Entersekt Schalk Nolte en jong tech-entrepreneur Annette Muller gesels saam oor hierdie onderwerp.
  3. Die base bieg
    Ons fokus op die toekoms, entreneurskap en innovasie en gesels met van Suid-Afrika se mees suksesvolle sakemense oor hul reis tot sukses.