Logo
web uni tv guide

Suidooster

144Soap13

Suidooster: Tien kinkels in 2017

Nuus
28 Desember 2017
Hier is net ’n paar van vele kinkels wat kykers se oë laat rek het.
Suidooster_10 kinkels

FOTO: Verskaf

In 2017 het Ruiterbosch se inwoners kykers baie laat lag, huil en kwaad gemaak. Die Octobers, Samsodiens, du Plooys, Gerbers en ander inwoners het vir genoeg drama en intrige gesorg. Hier is net ’n paar van vele kinkels wat Suidooster-kykers se oë laat rek het:

1. 2017 het sommer met groot drama weggespring toe die skermunkel Charlie vir Lee-Ann ontvoer het met die doel om Ian en Chris af te pers. Lee-Ann slaag egter daarin om Charlie te oorrompel en hy sterf in die proses. Die slegte nuus vir Chris en Ian is dat Lee-Ann die uitgevind het dat hulle ‘n hand in haar oorlede pa, Henry, se dood gehad het.

2. Bridgette het ’n verhouding met Mymoena se broer, Ismail, aangeknoop en sy het amper Ian vir hom verlaat, maar het toe op die laaste nippertjie daarteen besluit.

3. In Maart word die inwoners van Ruiterbosch geruk toe Mymoena en Jerome in ’n ernstige motorongeluk is terwyl hulle op pad is na die hospitaal, want Bianca het in kraam gegaan. Mymoena doen ernstige beserings op en beland in ’n koma, maar Jerome stap (op die oog af) weg met ’n paar skrape. ’n Paar dae later stort hy egter ineen net om nooit weer sy oë oop te maak nie. Ruiterbosch is in skok en neem afskeid van ’n geliefde inwoner, terwyl die Octobers se wêreld in duie stort. Boonop blyk dit dat Carmen en Jerome nooit geskei is nie en sy erf dus sy aandele in die Suidooster-sentrum.

4. Die Samsodiens se ander seun en Rhafiek se tweelingbroer, Rhiyaaz kom maak ’n draai in Ruiterbosch om Mymoena, wat steeds in ’n koma is, te besoek. Hoewel hy redelik suksesvol is, is hy glad nie meer die voorbeeldige seun as wat hy eens was nie. Boonop blyk dit dat hy aan sekere pille verslaaf is en uiteindelik slaag hy daarin om weer sy lewe op die regte pad te sit.

5. Estelle, Bianca se aanneemma en Carmen se biologiese ma, kom kuier in Ruiterbosch om ’n hand met Stella by te sit. Maar, kort voor lank stamp sy en Mymoena koppe tot groot onsteltenis van Bianca.

6. Lee-Ann wil al ’n geruime tyd wraak neem op Ian en in Julie duik die perfekte geleentheid op toe sy ontdek dat haar swaer en aartsvyand bedrog met Suidooster Eiendomme se trustrekening gepleeg het. Nog voor Ian sy spore kon doodvee word hy in die tronk opgesluit. Maar, Ian maak altyd ’n plan en word ’n informant vir die polisie met die doel om sy selmaat, Plakkies September, se diamantsmokkelary te ontbloot. Soos ’n glibberige slang wikkel Ian hom uit sy gemors en word hy vrygelaat.

7. Bianca moet uiteindelik erken dat Stefan die pa is van haar kind, na haar vorige kêrel, Derick, wat in ’n inrigting opgesluit is, begin aanspraak maak het op sy regte as pa van Stella. Stefan het ook immers snuf in die neus gekry en self die waarheid ontbloot wat Bianca nog meer in ’n hoek gedryf het.

8. Stefan en Michelle begin desperaat vir ’n kind van hul eie raak, maar dit blyk dat Michelle nie in staat is om swanger te raak nie. Die Gerbers besluit om ’n surrogaatskap te probeer en ontmoet vir Natasha wat bereid sal wees om dit te doen. Ongelukkig blyk dit kort voor lank dat Natasha nie die persoon is wat sy voorgee om te wees nie en raak boonop verlief op Stefan. Sy vind uit dat Stefan ook Stella se pa is en in ’n skokverwikkeling ontvoer sy haar. Natasha maak amper vir Michelle dood, maar gelukkig slaag sy nie daarin nie en kan die polisie ook vir Stella red.

9. Ian kry uiteindelik die kans om Lee-Ann te vernietig ná sy hom in die tronk laat opsluit het. Hy oorreed Adam Jantjies om te sorg dat Lee-Ann op hom verlief raak en boonop met haar trou. ’n Spogtroue word in Ruiterbosch gehou waar Lee-Ann en Adam trou aan mekaar beloof, maar ’n week of wat na die troue verdwyn Adam soos ’n groot speld met al Lee-Ann se geld. Boonop het hy kort voor sy verdwyning haar oortuig om haar aandele in Suidooster Eiendomme aan Ian te verkoop. Lee-Ann is teen die grond en het boonop alles verloor terwyl sy moet toekyk hoe Ian nou sterker as ooit tevore is.

10. Met die aanbreek van die feesseisoen vind Mrs J uit sy het bloedkanker en dit lyk of daar ’n opdraende stryd vir een van Ruiterbosch se geliefste inwoners wag.

LEES OOK: Belangrikste Suidooster-storielyne

Suidooster saai om 18:30 uit op beide kykNET en kykNET&kie uit.