Logo
Suidooster S9 Oct 2023 Slim BB
web uni tv guide

Suidooster

145Drama13 V

Belangrikste Suidooster-storielyne

Nuus
04 Julie 2017
Watter storielyne Suidooster-aanhangers van bewus moet wees.
Suidooster 2

Of jy nou kykNET of kykNET&kie kyk, Suidooster is van 10 Julie af om 18:30, net voor die nuus! Hier is van die belangrikste storielyne waarvan jy moet kennis neem.

 

Die verlore dogter keer terug:

Tydens Mrs. Jacobs se sewentigste verjaardagpartytjie daag haar verlore dogter, Lee-Ann Jacobs, op. Bridgette, die ouer suster, is nie gelukkig hieroor nie (Lee-Ann het destyds ’n skelmverhouding met Ian aangehad) en probeer alles in haar vermoë om haar uit Ruiterbosch weg te kry. Ons het mettertyd uitgevind dat hulle pa, Henry Jacobs, oorlede is as gevolg van Lee-Ann se dwelmverlede en Bridgette se jaloesie. Mrs J hoop haar dogters sal eendag met mekaar vrede kan maak, maar Bridgette vertrou Lee-Ann nie vir een oomblik nie.

 

’n Fete sonder einde:

Bridgette, die oudste tussen die twee, is nog altyd gewoond om tweede te kom. Na vele pogings om swanger te raak, is Lee-Ann later gebore. In Bridgette se oë was Lee-Ann ’n bedorwe laatlammetjie en miskien het Mrs. J en Henry haar te sagkens behandel. Soms ten koste van Bridgette. Sy was jaloers op Lee-Ann, omdat Lee-Ann mooier en jonger as sy was. Sy het altyd gevoel dat haar ma vir Lee-Ann voortrek. Lee-Ann was destyds dolverlief op Ian en het ’n kort skelmverhouding met hom gehad waarvan Bridgette uitgevind het. Bridgette het nog al die jare Lee-Ann blameer vir hulle pa se dood, maar dit het aan die lig gekom dat Bridgette net soveel skuld daaraan het. Lee-Ann en Bridgette het baie om te vergeet en baie om te vergewe.

 

Ian October en die Suidooster Sentrum:

Ian October wou die Suidooster Sentrum, waarvan hy net die bestuurder was, uiteindelik besit sodat hy daarvan ontslae kon raak en met ’n nuwe ontwikkeling begin. Maar hy het volle eienaarskap nodig gehad om sy planne deur te sien – eienaarskap wat hy net kon kry mits Mrs. J dit aan hom oorteken. Wanneer sy langverlore skoonsuster egter opdaag, ontvang sy vanaf Mrs. J haar aandele in die Suidooster Sentrum. In die proses ontvang sy vrou, wat nooit ’n vinger lig nie, ook aandele in die sentrum. Wanneer Lee-Anne sy aanbod om haar uit te koop van die hand wys, mik hy sy visier op ’n brose en baie oue Mrs. J. Ian en Chris beraam ’n plan om Mrs. J onbevoeg te verklaar, sodat sy noodgedwonge die bestuur van haar aandele en die sentrum in Ian se hande moet oorlaat. Bridgette vind uit van Ian se planne om sy ma onbevoeg te verklaar en wanneer die aandeelhouers oor die toekoms van die sentrum moet stem, stem sy teen haar man. Ian verloor sy greep op die Suidooster Sentrum.


Bianca Fourie spoor haar biologiese ma op:

Mymoena en AB Samsodien is in ’n stabiele, gemaklike verhouding – ’n droom paartjie en die tipe huwelik wat almal weet vir altyd sal hou. Maar wanneer Mymoena se kind, Bianca Fourie, opdaag, breek alle hel los. Mymoena het Bianca sonder AB se medewete gehad en opgegee vir aanneming voor hulle getroud is. Bianca kom in met die doel om haarself in die gemeenskap te vestig, sodat sy toegang tot Mymoena het. Sy soek werk in die apteek en word uiteindelik verwys na Oos Wes waar sy na ’n gesmeek werk as ’n kelnerin kry. Bianca erken uiteindelik aan haar nuwe vriendin, Michelle Gerber, dat haar biologiese ma in die sentrum 'werk'. Sy maak Michelle belowe sy sal dit alles geheim hou. Maar Bianca en Mymoena raak skielik na aanmekaar en Michelle raak bekommerd. Bianca onthul aan Mymoena dat sy haar dogter is. AB is verslae en wil skei, maar na weke se baklei en selfverwyt kom dinge tussen die Samsodiens reg en Bianca raak deel van die familie.

 

Michelle en Stefan Gerber ervaar tragedie:

Stefan en Michelle Gerber is familie van Chris en Tim du Plooy wat noodgedwonge by hulle moet intrek vir ’n onbepaalde tyd. Hulle kom albei van Pretoria en is nuut in die Kaap. Hulle is in ’n klein finansiële oorlog as gevolg van Stefan se ambisie en dit dreig om hulle huwelik te verwoes, maar daar is ook Michelle se behoefte aan ’n groot gesin. Wanneer sy Stefan druk vir ’n kind van hulle eie, maan hy haar om eers te wag. Sy raak onbepland swanger en hy vermoed sy het hom bedrieg. Michelle is alleen gelukkig oor die vooruitsig van ’n gesin, maar Stefan moet die nuus nog verwerk. Wanneer hy dit uiteindelik verwerk en aanvaar, is daar komplikasies met die swangerskap en Michelle verloor die baba. Die Gerbers het mekaar meer nodig as ooit.

 

Ian October kom sy moses teë:

Ian, steeds bitter oor die sentrum nie aan hom behoort nie, maak ’n ander plan. Wanneer hy ’n ou vriend, Harry Galant, raakloop, besluit die twee van hulle hom weer bande te smee. Ian beplan om lewe in die sentrum ondraaglik en onuithoubaar te maak deur ’n klomp klein misdade te laat pleeg: diefstal, inbrake, gewapende roof, en so meer. Hy het gehoop dat Lee-Ann en haar gesin die sentrum sal wil verkoop, maar dinge loop egter skeef wanneer Harry sy eie kop begin volg. Hy wurm hom in by die October-huis en hou Bridgette, Nicci en Jerome gyselaar terwyl Ian volgens Harry se pype moet dans. Maar Ian kom tot sy gesin se redding en laat Harry gaan voordat die polisie hom beetkry, wetend dat as hulle doen, sal sy eie bose planne aan die lig kom. Die skrik wat Ian op die lyf gejaag is, verander hom handomkeer, maar vir hoe lank?

 

Carmen daag op en is Jerome se eerste groot liefde:

Jerome kan nie uitgepraat raak van ’n bootpartytjie waarna hy uitgenooi is nie. Wanneer Jerome die oggend ná die bootpartytjie wakker word, word hy nie alleen wakker nie. Jerome skrik wakker in die October-sitkamer met ’n pragtige blond genaamd Carmen Fourie. Hulle besef gou dat hulle die vorige aand getrou het. Hulle probeer dit ’n geheim hou terwyl hulle na ’n uitweg soek – hulle moet skei, maar hulle het geen idee waar om te begin nie. Intussen begin hulle van mekaar te hou. Bianca vind uit haar suster is terug en getroud met Jerome. Die Octobers vind uit van die huwelik, dring daarop aan dat die twee van mekaar skei. ’n Koerantartikel oor die plesierboot waarop hulle getrou het, onthul dat die huwelik nie eg is nie. Almal is verlig totdat Carmen erken hulle was op ’n ander boot as die een waarvan die artikel praat. Jerome en Carmen besluit om te skei, maar wanneer Jerome sy liefde aan haar verklaar, trek hulle saam in. Hulle vind egter uit dat die haastige hond wel sy mond verbrand.

 

Rita du Plooy maak haar verskyning:

Rita du Plooy is Chris se vrou en Tim se ma. Sy is terug by die huis na baie jare se behandeling vir skisofrenie. Sy is ontslaan omdat betalings na die sanatorium gestaak is – ’n teer saak vir Chris wat nie sy eie vrou se mediese onkostes kan dek nie. Rita probeer baie hard om normaal voor te kom – sy moet haarself hierdie keer bewys. Sy wil nêrens anders wees as by Chris en Tim nie. Wanneer sy terug is by die huis, is daar egter soveel emosies wat sy wil en behoort te ervaar, maar nie kan nie weens haar medikasie. Wanneer haar seun se meisie 'n mooi geskenk bring, is haar ontvangs nie soos verwag nie. Rita besluit om een dag van haar medikasie oor te slaan om te kyk hoe dit gaan. Rita ervaar niks anders vandat sy haar pille gelos het nie, besluit om dit dan permanent te los. Dinge loop skeef wanneer sy begin vermoed haar man sien iemand anders, die ene Lee-Ann Jacobs. Chris besef Rita het opgehou om haar medikasie te neem en smeek haar om dit weer te gebruik. Rita dink Chris se smeek is deel van ’n groter komplot teen haar. Rita se toestand verswak en sy dink die enigste veiligste plek is op straat – sy verdwyn. Haar verdwyning toets pa en seun verhouding, maar plaas ook druk op Tim en Nicci se romanse. Wanneer hulle haar een aand in Mrs. J se huis betrap, besef hulle dat Rita teruggestuur moet word en dié keer dalk permanent…

 

Fasie se groot liefde sterf, maar daar’s ’n slang in die gras:

AB sukkel om te herstel ná die skietvoorval in die apteek en kort voor lank begin PTSS-simptome kop uitsteek. Hy dring daarop aan om weer by die apteek te werk, teen almal se besware. Hy staan sy man en begin weer by die apteek te werk. Hy maak foutjies, hy sukkel om te konsentreer en almal is bekommerd. AB erken uiteindelik sy simptome en besluit om 'n terapeut te gaan sien. Maar wanneer Fasie se Matilda die verkeerde pille drink en sterf aan ’n hartaanval, word die grond weer onder AB uitegruk… Derick, Mathilda se seun, sweer wraak teen AB en sy apteek. Maar is AB skuldig? Of is daar iemand anders te verwyte?

 

Die troue waarvoor almal gewag het:

Ons het hulle storie van die begin af gevolg: Tim, die nuwe outjie op kantoor, wat per ongeluk Nicci, die baas se ambisieuse dogter, se doughnut gegaps het en sy wat koud staan teenoor sy flankering vir episodes aaneen. Maar uiteindelik het sy uit haar spreekwoordelike toring gekom en die verliefde Tim ’n kans gegee. Hulle verhouding is egter nie sonder die nodige intrige, oftewel Bridgette October en Rhafiek Samsodien, gekonfronteer nie! Bridgette weier dat haar dogter met ’n humeurige man soos Tim afhaak, wat nog te sê van die feit dat hy die seun van ’n handlanger is. Chris, aan die anderkant, is daarteen gekant om die blote rede dat hy nie sy seun aan die October-gesin wil blootstel nie – iets wat hy self al die jare moes verduur. Rhafiek is Nicci se beste vriend van kindsbeen af en wanneer Nicci haar hart op die nimlike Tim du Plooy verloor, besef hy wat hy nog altyd onbewustelik geweet het: hy het Nicci ook lief. Die druk van alle kante het die paartjie in ’n hoek begin druk en hulle het besluit om voor die landdros te trou, maar Mrs. J het ander planne gehad. Sy het in die geheim vir hulle ’n spesiale troue gereel, maar toe Rhafiek sy liefde aan Nicci ’n dag voor die troue verklaar, val dinge uitmekaar en Nicci los vir Tim voor die kansel. Wat ’n sprokiestroue moes wees, het in ’n nagmerrie vir arme Tim en Nicci ontaard.


Fasie sê totsiens:

Wanneer Fasie onverwags ’n beroerte kry, moet die mense van Ruiterbosch bontstaan om na hom om te sien. Maar dit is nie maklik nie. Fasie is ’n moeilike man wanneer hy nie na homself kan omsien nie en hy hanteer sy naastes skielik soos vreemdelinge. Mrs. J besluit genoeg is genoeg en bel Fasie se langverlore suster, Hanna van Schalkwyk, met die hoop dat sy Fasie sal kan regruk. Maar Mrs. J is onbewus van hoe diep hierdie twee se ongelukkigheid met mekaar gaan – ’n jare lange fete wat nog nie aangespreek en uitsorteer is nie. Daar is egter geen omdraaikans nie wanneer Hanna sak en pak by Mrs. J se voordeur opdaag om na Fasie om te sien en wanneer broer en suster mekaar vir die eerste keer sien, is dit allesbehalwe ’n gelukkige reünie. Fasie wil niks met die vrou te doen hê nie en Hanna gaan haar nie so laat verneder nie. Mrs. J en die Samsodiens probeer alles in hulle vermoëns om die twee bymekaar te hou en wanneer die waarheid agter hulle jare lange fete uiteindelik aan die lig gebring word (Fasie het volgens Hanna hulle gesin se lewe in gevaar gestel deurdat hy as anti-apartheid aktivis opgetree het en sy het hom laat arresteer), moet hulle vir eens en vir altyd die strydbyl begrawe. Die twee versoen en Fasie besluit om die verlede waarop hy uitgemis het, te gaan herbesoek en hy laat Oos Wes in Stefan se bekwame hande. Hanna neem Fasie terug na sy tuisland, die Vrystaat.


Mymoena se ongeluk en Jerome se dood:

Jerome en Bianca se vriendskap ontwikkel tot 'n romanse en wanneer Bianca uiteindelik geboorte aan Stella gee, is almal in Ruiterbosch op hol. Haar nuwe kêrel, Jerome, jaag saam met Mymoena opgewonde hospitaal toe. Maar ’n groot ongeluk ruk almal tot stilstand: Mymoena en Jerome was in ’n kop-aan-kop-botsing met ’n taxi. Mymoena is in ’n koma, maar Jerome blyk ongedeerd te wees. Die skok van die ongeluk forseer Carmen om uiteindelik haar onuitgesproke liefde aan Jerome te verklaar en hy maak dit duidelik dat hy vir Bianca en Stella kies. Kort voor lank, ervaar Jerome lighoofdigheid en kap onverwags in die October-huis om. Dit kom aan die lig dat hy ’n brein-aneurisme gehad het en Ruiterbosch leer dat Jerome October breindood verklaar is. Die besluit oor of hy aan die lewe gehou moet word of nie, berus uiteindelik nie by sy ouers soos verwag nie, maar sy vrou, Carmen. Ná ’n bekgeveg met Bridgette en Ian, besluit Carmen om dit eerder aan hulle oor te laat en Jerome se masjiene word afgeskakel. Wanneer Mymoena wakker word, hoor sy die skokkende nuus van Jerome se dood en almal besef dit gaan ’n tydjie wees voordat alles in Ruiterbosch terug kan gaan na normaal…


Baba Stella is hier en ouma Estelle kom kuier:

Met baba Stella nou by die huis, kry die Samsodiens ’n onverwagse besoek van Stella se ander ouma – Bianca en Carmen se ma, Estelle Fourie. Maar dit is nie ’n kort kuier nie: Mymoena se toestand bly onveranderd en ouma Stella bly langer as verwag. Haar hulp en bystand is aanvanklik baie welkom, maar sy begin mettertyd op almal se senuwees te werk. Dit word ook duidelik dat Estelle iets wegsteek – dinge op die plaas in Kuruman gaan nie meer so goed nie. Mymoena word uiteindelik wakker en ontmoet Bianca se aanneem-ma, maar haar herstel kom nie so vinnig aan soos wat almal (en Estelle) gehoop het nie. AB, sukkel op sy eie, vra of Estelle nie langer wil bly nie en hand bysit. Estelle sit hand by met Mymoena se herstel en kort voor lank begin hulle stryery kry oor Bianca en wat die beste vir haar is. Hulle bekgeveg plaas Bianca in ’n moeilike situasie waar sy tussen Mymoena en Estelle moet kies. Bianca, in ’n tweestryd, kies ter wille van vrede (en Stella se onthalwe) uiteindelik vir Estelle. Maar wanneer Estelle ’n gesprek tussen Mymoena en Bianca hoor, kom sy tot inkeer en besluit dat die beste vir Bianca en Stella sal wees om in Ruiterbosch te bly. Die ma’ns versoen en die vrede tussen die Samsodiens en die Fourie’ns is vir eers herstel.


Ian en Chris se donker verlede kom op die lappe:

Ian en die Jacobse hoor die skokkende nuus dat die moordenaar, Charlie van Zyl, uit die tronk is – die man wat vir Henry Jacobs vermoor het. Bridgette wonder of hulle iets kan doen om dit te keer, terwyl Chris en Ian paniekerig raak – daar is iets wat die twee van hulle wegsteek. Lee-Ann het ’nn behoefte om die verlede aan te spreek en besluit om vir Charlie te gaan sien en wanneer hy uiteindelik uit die tronk kom, is Lee-Ann die eerste persoon wat hy besoek. Die familie is in afgryse, maar Lee-Ann se hart bloei vir die man wat alles verloor het. Sy help hom uit en reël vir hom werk, min wetend dat hy agter haar rug vir Ian en Chris besoek oor hulle donker verlede. Hy leer dat Ian ’nn hand daarin gehad het dat hy langer gesit het as wat hy moes en stel sy wraakplan in werking. Hy besef Chris en Lee-Ann is in ’nn verhouding en raak mettertyd ’nn bedreiging vir Chris en Ian. Hy word geld aangebied om stil te bly en te verdwyn en hy doen presies wat Ian van hom verwag – maar net vir ’nn rukkie. Lee-Ann verdwyn en dit is Charlie wat haar aanhou in ’nn hok sodat hy Ian en Chris kan afpers vir vergoeding vir al die jare wat hy moes sit vir iets wat hulle gedoen het – die eintlike moordenaars is Chris du Plooy en Ian October. Charlie wil hê die waarheid moet uitkom, maar Chris en Ian spoor hom op en kom tot Lee-Ann se redding. Maar dit is te laat vir hulle geheim om tussen hulle te bly, want Charlie het klaar met die sak patats uitgekom en Lee-Ann besef sy en haar suster is verlief en getroud op die persone wat pa Henry vermoor het.


Ontmoet vir Rhiyaaz Samsodien:

Mymoena se ongeluk en onveranderde toestand, genoodsaak die Samsodiens om hulle ander seun, Rhiyaaz, uit Londen te laat kom. Maar dit is vir hom nie maklik om sy ma so te sien nie en hy hou sy afstand ten spyte van Rhafiek se aanmoediging. Daar is ook iets wat die broer uit Londen van die familie wegsteek… Rhiyaaz maak egter al die regte geluide, kruip in sy nuwe suster se hart en beïndruk almal in Ruiterbosch met sy sukses oorsee. Maar wanneer hy vreemd begin optree, is sy tweelingbroer die eerste om op te let dat iets nie heeltemal pluis is nie en ons leer dat Rhiyaaz ’nn ander soort leefstyl volg as waaraan die konserwatiewe Samsodiens gewoond is. Hy gebruik allerhande middels om hom te help konsentreer en presteer in die werksplek, maar is ook ’nn partytjiedier wat die meisies links en regs sjarmeer. Rhafiek vind uit waarmee sy broer besig is, konfronteer hom en dit kom aan die lig dat Rhiyaaz sy geloof ook eenkant geskuif het. In die geheim probeer Rhafiek sy broer te rehabiliteer, maar dit is tevergeefs – die Samsodiens kom tot die skokkende besef dat hulle seun nie meer is wie hy grootgemaak is nie. AB verbied Rhiyaaz om weer sy voete in sy ouerhuis te sit en daar is onmin in die familie. Wanneer Rhiyaaz ’nn oomblik van paniek beleef – ’n meisie wat hy na Siya se woonstel bring probeer selfmoord pleeg – kom hy tot inkeer en besef dat hy te ver gegaan het. Die verlore seun keer terug huis toe en AB en Mymoena is verheug om te hoor dat Rhiyaaz sy leefstyl gaan verander. Rhafiek vergesel Rhiyaaz terug na Londen en die broers hou vakansie, terwyl Rhiyaaz sy meer opgeruimde leefstyl navigeer.

LEES OOK: kykNET-kanale verdryf die winterkoue met ’n vuurwarm nuwe skedule.

Suidooster saai vanaf 10 Julie 2017 om 18:30 uit op beide kykNET en kykNET&kie