Logo
web uni tv guide

Suidooster

144Soap13

Suidooster se talentvolle Dean John Smith

Nuus
27 Junie 2017
Kykers van Suidooster het onlangs met Wade kennis gemaak en hy het sommer dadelik die aandag getrek.
Suidooster Dean Bill

Dean John Smith. FOTO: Verskaf

Die talentvolle akteur wat Wade in Suidooster vertolk is die 23-jarige Dean John Smith, wat op sy jong ouderdom al ’n gerekende verhoogakteur is.

Wanneer het jy besef jy wil ’n akteur word?

Ek dink ek het altyd geweet ek wil ’n akteur word, maar het dit eers in graad agt ernstig begin opneem toe ek drama as ’n vak by my skool, Schoonspruit Sekondêr in Malmesbury, begin neem het. Ná skool het ek toe drama by die Universiteit van Stellenbosch gaan swot.

As jy nie akteur sou geword het nie, wat sou jy geword het?

Ek dink seker ek sou in regte in gegaan het, want ek hou van analitiese denke en moet prokureurs of advokate ook nie maar soms toneel speel nie?

Vertel ons van jou karakter Wade in Suidooster.

Wade is ’n spreekwoordelike “lekker ou” wat vir die oomblik leef. Hy is ’n impulsiewe mens met sy voete plat op die aarde. Omdat hy nie ’n maklike lewe gehad het nie, glo hy gelukkigheid is ’n keuse en dat die glas eerder half vol as half leeg is. Wade is ’n goeie ou en die stampe en stote van die lewe het hom nog nooit onder gekry nie. 

Wat sien van jouself in Wade?

Ek wil nes Wade altyd ’n situasie ligter te maak en het nes hy ’n positiewe uitkyk. Jy moet ook nie uitstel om iets te doen nie en as goed moet gebeur, moet jy dit nóú doen.

Teenoor watter Suid-Afrikaanse akteur sal jy nog wil speel?

Tinarie van Wyk Loots en Albert Pretorius.

Wat is jou gunsteling televisiereekse?

Ek is mal oor komedies en my gunsteling is The Office.

Wat kykers dalk nie van Dean weet nie:

  • Dean is gebore en getoë in Malmesbury.
  • Sy verjaarsdag is 8 Desember.
  • Hy is die jongste van drie kinders en het twee ouer susters, Jill (27) en Lynn (30).
  • Vashti Prins, wat Danni in Suidooster speel, is sy meisie.
  • Hy het ’n honneursgraad in drama van die Universiteit van Stellenbosch.
  • In 2014 het hy die gesogte Fleur du Cap-toekenning vir die beste dramastudent ontvang.
  • Dean het ook in 2016 twee prominente teatertoekennings op sy kerfstok bygevoeg. Hy het ’n kykNET Fiësta-toekenning vir beste manlike byspeler vir sy rol in Dag is Bros gekry. Die Aardklop Nasionale Kunstefees het hom ook as beste akteur aangewys vir sy vertoning in ’n COCK & BULLshit Storie.