Logo

Knapsekêrels: Soos mis aan ’n wolkombers

Nuus
09 Januarie 2018
Het jy die eerste episode van kykNET se nuwe dramareeks misgeloop? Lees dan hier!
Knapse-Ep1

Mynie Bekker. FOTO: Verskaf

Twee “knapsekêrels” (nee, nie die onkruid nie) se paaie kruis in die eerste episode van Knapsekêrels by Interactive Security. Ons ontmoet eers vir Skalkie waar hy voor ’n spieël staan: “Die naam is Fortuin. Skalk Fortuin. Do you feel lucky, punk? Do you?”

Mynie Bekker, beslis ouer as Skalkie, is nou nie juis beïndruk deur dié seunsagtige man wat saam met hom gaan werk nie. “Magic, my lewe is in veilige hande,” kom die sarkastiese kommentaar.

Knapsekêrels, ’n dramareeks propvol aksie, handel oor vier huisgesinne (die Bekkers, Zimmermans, Davidse en Fortuins), wat mekaar noodgedwonge beter leer ken wanneer ’n lid van elke gesin betrokke raak by ’n jaagtog om oorlewing en ’n bestaansreg in die Johannesburg van vandag.

Lees meer oor die reeks hier.

In Skalkie se eie woorde is ’n knapsekêrel ’n guard wat aan sy mission klou soos mis aan ’n wolkombers – wat jou nogal aan Mynie laat dink.

“Almal praat oor Kerkstraat…” sê Skalkie vir Mynie. Mynie kap terug: “Kerkstaat is geskiedenis, klaar, ek’s nie ’n blerrie hero nie.”

Die Fortuins – Skalkie se ma, Naomi, en suster, Rachel, het dit nie maklik nie. “Ek werk! Jy werk! Jy’t twee jobs!” sê Rachel vir Skalkie. Sy wonder of hulle die huis waarin hulle woon veel langer kan bekostig.

Oor die Bekkers se huis hang daar ’n donker wolk: Mynie, Joey (Mynie se ma), Dirk (Mynie se pa) en Karlien (Mynie se suster), wissel woorde. Joey gryp na ’n glas wyn, en waardeer beslis nie die feit dat haar kroos haar daaroor spot nie. “En dis nou snaaks?” vra Joey. “Hierdie twee sê ook net wat hulle wil in hierdie huis. Kareltjie sou nooit sulke goed gesê het nie.”

Dié naam is genoeg om almal te demp. Karlien sê: “Dís hoekom ek wil trek. Sy kan dit nie vir vyf minute los nie.”

Dirk probeer skerm: “Dis Maandag sy verjaardag.”

Mynie en Karlien het duidelik genoeg gehoor: “Karel verjaar nie meer nie, Pa.

“Dis al – wat – dertien jaar. Veertien.”

Skalkie kla die volgende dag by Mynie omdat hy “peanuts” verdien en reeds drie tot vier aande per week in ’n DVD-winkel moet werk. Nagskofte is dus buite die kwessie. “Ek help my ma betaal aan ’n huis, ek en my sussie, ons moet volgende maand –”

Mynie sê: “Jy weet, daar is ’n way… miskien.”

Dis hier waar ons met Chilly, Mynie se oud-kollega, kennis maak. Chilly werk vir ’n Duitse sakeman, Hans Zimmerman. Sy dogter, Adelheid, kort ’n oppasser. “Addie is trouble, but the pay is plenty,” sê Chilly.

KYK: ‘Kom ons praat oor Kerkstraat’

Skalkie is nie so seker of hy hiervan hou nie. “Uh-huh, vergeet dit, ek pas nie ’n nutcase op nie,” sê later hy vir Mynie. “Chilly kan maar iemand anders kry.”

KYK: Wortel voor die neus

Gaan Skalkie van plan verander? Skakel in vir ’n nuwe episode van Knapsekêrels, Dinsdag om 20:00. Gesels saam op Facebook en Twitter by #Knapsekêrels!