Logo

Knapsekêrels meld aan vir diens!

Nuus
09 Januarie 2018
’n Nuwe dramareeks, geskryf deur Paul C. Venter en met Human Stark in die regisseurstoel, het vandeesweek afgeskop.
Knapsekerels-Meld-Aan

Mynie Bekker (Armand Aucamp) en Skalkie Fortuin (Roberto Kyle). FOTO: Vernondo Boshoff

Paul C. Venter (Konings, Torings, Vlug na Egipte en Terug na Egipte) se Knapsekêrels, met Human Stark (Vlug na Egipte en Terug na Egipte) as regisseur en vervaardiger, pak korrupsie vreesloos aan.

Dié dramareeks handel oor vier gesinne (die Bekkers, Zimmermans, Davidse en Fortuins), wat mekaar noodgedwonge beter leer ken wanneer ’n lid van elke gesin betrokke raak by ’n jaagtog om oorlewing en ’n bestaansreg in die Johannesburg van vandag.

Kliek hier vir ’n lusmaker.

Dis sy en Human Stark se “eerste groot aksiereeks”, sê Venter. “Hierdie is dié reeks oor groot korrupsie – wat rêrig aangaan in daai wêreld.

“Dit gaan vir die eerste keer, hopelik taamlik vreesloos, in daai wêreld in.”

’n “Knapsekêrel”, sê Venter, “is iemand wat geld oppas of íémand oppas, en as hy sy job goed doen, dan stick hy soos ’n knapsekêrel…

“Dis die storie van groot korrupsie in ons land. Ons dink dis ’n baie now storie.”

Venter vertel hy het eendag buite ’n bank vir sy vrou in die kar gesit en wag toe ’n pantservoertuig langs hom stilhou. “Hier klim die twee ouens uit – die een is bruin, die een is wit, en hulle het so ’n ‘ballet’ wat hulle doen…”

Hy dink toe: “Dis baie cool. Wie is julle?

Boom, daar is ’n storie!”

Kyk die video hier onder:

Stark sê Knapsekêrels “ontwikkel in klomp verskillende rigtings” wanneer kykers met die hoofkarakters, Skalkie Fortuin en Mynie Bekker, se gesinne kennis maak.

Hy vertel die reeks is propvol aksietonele, wat uiteraard uitdagend is om te verfilm, omdat dit langer as dialoog-tonele neem om behoorlik vas te vang.

Kyk die video:

Armand Aucamp, Roberto Kyle, Dawid Minnaar, Christia Visser, Odelle de Wet, Richard Lukunku, André Odendaal, Wilmien Rossouw, Schelaine Bennett, Nazli George en Marisa Drummond is onder andere in die rolverdeling.

Knapsekêrels is Dinsdae om 20:00 op die kassie. Gesels saam op Facebook en Twitter by #knapsekêrels!