Logo

Louise groet – Boer Soek ’n Vrou 11

Nuus
13 Desember 2018
Louise het haar hart teenoor Boer Duncan en Kelly oopgemaak.
BSV-Louise-Groet

Louise gaan nie langer op die plaas bly nie. FOTO: Uit die alleentyd-episode

 

Terwyl die meeste boere nog tyd het om hul finale keuse te maak, is daar na afloop van vandeesweek se episode duidelikheid op Boer Duncan se plaas: Louise het besluit om afskeid te neem.

Duncan en Kelly se monde het skoon oopgehang oor dié onverwagse wending en kykers het dit waarskynlik ook nie sien kom nie.

Na afloop van die braai saam met familie en vriende het die boer gesê die vrou wat aanvanklik vir hom “minder uitgestaan het”, staan nou ’n bietjie meer uit. Hy het wel gesê hy gaan hou by sy “original gut feel”, omdat dit steeds vir hom soos die regte besluit voel.

Kelly het dié uitkoms glad nie verwag nie. Inteendeel, sy het vroeër die dag nog teenoor die kameras erken sy dink die konneksie tussen die boer en Louise is sterker as wat sy met Duncan deel.

“Jy gaan vir my moet sê hoe jy voel,” het Kelly in haar alleentyd met Duncan vir die boer gesê. Duncan het gespot: “Dis ’n verrassing!”

Hy het vir Kelly gesê: “Daar is beslis iemand wat my oog gevang het tussen die twee van julle, so ek gaan jou nie verder vertel nie.

“Ek is opgewonde daaroor.” 

In sy alleentyd met Louise het die boer ook vir háár gesê daar is iemand wat meer uitstaan, al hy wik en weeg soms tussen hulle. Louise het hom aangemoedig om sy instink te vertrou en gesê sy het vrede in haar hart, maak nie saak wie hy kies nie.

Teen sonsondergang was daar iets aan die broei en het Louise haar besluit met Leah, Duncan en Kelly gedeel. “Ek gaan net jou tyd mors as ek langer hier bly,” het sy vir Duncan gesê. “Ek voel dit kom van albei kante af dat ons net nie kliek of enigiets soos dit nie.

“Ek wens jou al die geluk toe.”

 

’n Benoude Kelly wou by Duncan weet: “Sou jy haar kies?”

Die boer het geantwoord: “Nee!”

Hy het vir die kameras gesê: “Ek het vrede gehad met wie ek wil kies. Gelukkig is sy nie die een wat huis toe is nie!”

Wat gaan op die res van die plase gebeur? Skakel Donderdag om 20:00 op kykNET in vir ’n splinternuwe episode van Boer Soek ’n Vrou se elfde seisoen.