Logo

Wie gaan bly? – Boer Soek ’n Vrou 11

Nuus
11 Desember 2018
Twee is oor, maar wie pas die beste by die boer?
BSV-Wie-Bly

FOTO: Getty

 

Ons vyf boere moet binnekort hul finale keuse maak, wat ons laat wonder: Sal dit ’n tweestryd of ’n uitgemaakte saak wees?

Op Boer André se plaas is Corinne en Madelé oor nadat hy vir Lea-Mari huis toe gestuur het. Beide vroue geniet die boer se persoonlikheid en veral sy sin vir humor.

Daar word heerlik gelag en gekuier op dié plaas, maar moenie vir ’n oomblik dink die boer is nie ernstig oor die proses nie: Hy is hier om sy lewensmaat te ontmoet.

Corinne het op ’n plaas en Madelé in ’n pastorie grootgeword, maar albei vroue meen hulle sal goed by ’n boer pas – en dit lyk of André saamstem! Maar wie laat sy hart vinniger klop?

Blaai hier deur foto’s van die deelnemers wat op die plaas kuier.

Boer Cassie het teenoor ons erken hy is ietwat “fussy” wanneer dit by die skoner geslag kom, maar dat hy homself vorentoe nie tot ’n streng kriterium gaan beperk nie: Hy gaan doen wat reg voel.

Alyssa en Linnaé is gevra om langer op die boer se plaas te bly, terwyl Natasha haar tasse moes pak.

Cassie het in die vorige episode gesê hy het reeds sy hart op een van die vroue verloor, maar net die tyd sal leer of sy hart aan die blonde fisioterapeut of die donkerkop binnenshuise argitek behoort.

LEES OOK: Leah gesels oor die episode waarin die eerste deelnemers die plaas moes verlaat.

Kelly, ’n radiograaf, en Louise, besig met haar meestersgraad in kinderreg, kuier nog op Boer Duncan se plaas omdat hy beter aanklank by hul persoonlikhede vind as by dié van Christelle.

Beide vroue geniet dit om rustig te verkeer – iets wat vir Duncan belangrik is, maar Louise is bietjie meer teruggetrokke as Kelly, wat dit geniet om te onthaal.

Duncan kom goed klaar met albei sy kuiergaste, maar gaan op die ou einde moet besluit met wie hy ’n sterker konneksie deel. Dié boer dra beslis nie sy hart op sy mou nie!

Boer Rèan het twee sosiale vlinders op sy plaas oor en hy, Minette en Rox-Zee kom sommer baie goed met mekaar oor die weg. Die een is ’n Afrikaanssprekende graad RR-juffrou en die ander ’n Engelssprekende skoonheidsterapeut.

Die boer se ma dink hy het iemand in sy lewe nodig wat sal ferm wees met hom, maar sy familie en vriende was beïndruk deur beide vroue.

Rèan is duidelik smoorverlief en kykers gaan hopelik binnekort weet op wie!

LEES OOK: Ons het die boere gevra hoekom hulle nog enkellopend is.

Boer Toanette het vir Carlo, wat nie werklik plaaslewe ken nie, huis toe gestuur. Haar oorblywende gaste is Adriaan, ’n dieregesondheidstegnikus, en Nardus, ’n beesboer.

Toanette het al gesê ’n goeie vriendskap is vir haar belangrik, omdat sy nie dadelik ernstig wil raak nie, en as ’n mens dinge so kyk sal Adriaan én Nardus by haar pas. Sien sy ’n beter toekoms met die man wat haar passie vir diere deel of met die gevestigde boer?

Hoe gaan die alleentyd met elk van die deelnemers verloop? Skakel Donderdag om 20:00 op kykNET in om uit te vind! Kyk die voorskou hier.