Logo

‘Kyk, daai twee . . .’ – Leah se dagboek

Nuus
20 Desember 2018
Leah skryf oor die boere se finale keuses.
BSV-Daai-Twee

Leah op die plaas. FOTO: Vanuit ’n episode van Boer Soek ’n Vrou

 

Liewe Dagboek,

Boer André het vroeër genoem hy het dalk sy trouvrou op die program ontmoet. Madelé het absoluut daardie blink in sy oë vir hom gegee – jy kon dit net nie miskyk nie!

Toe ek die eerste keer ’n onderhoud met die twee van hulle saam gevoer het, was daar beslis ’n spark gewees. Kyk, sy het ingestap en André was sommer klaar arm om die skouer, en sy het baie gemaklik daar ingepas. Hulle wou regtig net gehad het ons moet nou loop!

Boer Cassie het vir Linnaé gesê hy voel iets vir Alyssa – ná hy dit ook teenoor Alyssa erken het.

Dit het mooi uitgedraai en Linnaé het dit waardeer dat Cassie dit op só ’n mooi manier gedoen het. Sy gaan ’n amaaaaazing man ontmoet!

Ek dink Cassie en Alyssa se persoonlikhede vul mekaar goed aan. Ek glo dis bietjie van ’n sprokiesverhaal. Hulle is al deur diep waters in hul lewens.

Louise het in haar en Boer Duncan se alleentyd besef dat hulle nie vorentoe gaan werk nie.

Ek kan met eerlikheid sê Louise het vrede gehad met haar besluit – sy het mooi daaroor gedink. Duncan was effens verbaas, maar hy het haar keuse gerespekteer. Sy is baie oulik en intelligent, en daar sal definitief iemand oor haar pad kom.

Dis baie moeilik om te sê of Duncan vir Louise sou kies – hy was ’n toe boek! Hy het wel genoem daar is iemand wat vir hom uitstaan en op die ou einde was dit toe Kelly gewees.

Boer Toanette het vir Adriaan huis toe gestuur. Hulle het baie goed oor die weg gekom en hy is definitief die tipe ou wat by haar sal pas, maar dit het vir haar meer soos ’n vriendskap gevoel. Die ogies het ’n bietjie meer geblink vir Nardus as vir Adriaan.

Ek wonder nog self wat voorlê vir Nardus en Toanette. Toanette is baie gelukkig in haar werk en Nardus is ’n absolute plaasmens, en hy is ook gelukkig met hulle boerdery. Ek weet hulle gaan dit rustig vat en beide wil eers ’n fondasie van vriendskap bou.

Ek dink dit gaan die moeite werd wees om te probeer!

Boer Rèan het net ’n onmiddellike konneksie met Roz-Zee gehad – van dag een af! Dis net daai gevoel wat jy nie aan iemand anders kan beskryf nie. Jy wéét net!

’n Mens kon dit sien ook. Kyk, daai twee . . .

– Leah

As jy nog nie aan ons kykerskeuse-ervaring deelgeneem het nie, laat waai! Hoekom? Jy kan ’n middagete saam met Leah en vier van jou vriende losslaan!