Logo

André se yskas – Leah se dagboek

Nuus
12 Desember 2018
Leah skryf oor haar tyd op Boer André se plaas.
BSV-Andre-Leah-FB

FOTO: Donna Lewis

 

Liewe Dagboek,

Ek het nog nooit in my lewe iemand gesien wat só opgewonde is om dames op sy plaas te ontvang soos André nie!

Hy het die dames op sy hande gedra en is werklik so regverdig en opreg. Dit was vir my baie mooi om te sien. Die boer het gereeld die dames gevat om vir hulle iets op die plaas te wys – of die kameras gerol het of nie!

André se plaas is naby Colesberg en, ek moet sê, die plek het my nogal verbaas. Daar is die oulikste straatjie op die dorp met hierdie Karoo-huisies wat nasionale monumente is. Dit het eintlik vir my gevoel asof ons in ’n ander land was!

Ek het ook baie lekker geëet in Colesberg (hulle pizza is heerlik!), en ek het baie tuis gevoel in die gastehuis. In my aftyd het ons Gariepdam toe gery, wat baie spesiaal was, want ek het dit nog nie gesien nie. Dis ’n báie groot dam, en ek het God se grootheid daar ervaar.

Ek het ook in Boer André se yskas en vrieskas gekrap (net om seker te maak die dames gaan nie honger ly nie)! Daar was baie vleis en lekker kos daarin – ook ’n lekker boksie vla, wat ek amper gevat het.

Die dames het ook ’n hele paar keer gesê dit voel asof hulle net eet! André het baie goed voorberei vir hul kuier op die plaas. Ek wens ek kon sê ek het saamgeëet, maar ek het nie!

– Leah

Hier is bietjie meer oor die groter omgewing waarin ons boere hulself bevind.

As jy nog nie aan ons kykerskeuse-ervaring deelgeneem het nie, spring sommer nou weg – jy kan ’n middagete saam met Leah en vier van jou vriende losslaan!