Logo

Cassie en Alyssa – Boer Soek ’n Vrou 11

Nuus
20 Desember 2018
Die oulike fisioterapeut het die Elandslaagte-boer se hart gesteel.
BSV-Cassie-Alyssa

Cassie het sy hart op Alyssa verloor. FOTO: Vanuit ’n episode van Boer Soek ’n Vrou 11

 

Fluit, fluit, die geheim is uit! Boer Cassie en Alyssa se liefdesstorie is een wat aanbieder Leah ’n sprokiesverhaal noem.

Die blondekop se brief aan die boer het Cassie se oog gevang, maar ná hul eerste amptelike ontmoeting het sy selfs dieper in sy hart gekruip. Só het die reis begin en Alyssa is saam met Linnaé en Natasha plaas toe genooi.

Cassie is eerste om te erken hy is nogal “fussy. Sy droomvrou is effens “high maintenance”, emosioneel volwasse, vroulik en saggeaard – eienskappe waaroor Alyssa glo beskik.

Linnaé, wat saam met Alyssa aan Cassie se vriende en familie voorgestel is, het teenoor die kameras erken sy het ’n voorgevoel sy is nie die boer se keuse nie. Die boer het toe al geweet wie hy wil kies, maar het nie gedink dis die regte tyd of plek om dit aan sy twee kuiergaste bekend te maak nie.

KYK: Cassie se geheim

Hy het besluit om sy hart met Alyssa te deel terwyl hulle alleen op die plaaswerf kon sit en gesels: “Ek het rêrig nie gedink ek sal so voel nie. Ek kan amper sê ‘verlief’. Ek het lanklaas so gevoel.

“Ek het nie gedink ek sal so ’n sterk konneksie met iemand hê nie. Ek praat eintlik van jou.”

Dit was ’n “onbeskryflike gevoel”, het Alyssa na afloop van die alleentyd gesê, maar sy moes dié gevoelens nog ’n ruk lank vir haarself hou.

Op die dag wat Cassie sy besluit voor Leah en die dames bekend moes maak, het hy gevra om eerder met Alyssa en Linnaé in die sitkamer te gesels. “Jy het al die eienskappe wat ek wil hê in ’n vrou,” het hy vir Linnaé gesê. “Ek het net verlief geraak op Alyssa. Dis só ’n nice gevoel, maar ek wou net vir jou gesê het dat ek jou rêrig nie wou seermaak nie.”

Hy het vir Leah gesê hy is werklik verlig om te weet die vrou wat hy kies voel ewe sterk oor hom: “Alyssa is soos die son vir my. As sy iewers inkom, is dit ewe skielik warm.”

Gaan Cassie ’n goeie indruk op Alyssa se familie en vriende maak? Skakel Donderdag om 20:00 in om uit te vind!