Logo

Kokkedoortjie: Vyf bestanddele vir die top-vyf

Nuus
31 Mei 2017
Vyf geheime bestanddele is dié week in ’n kardoes weggesteek om die halfpadmerk te vier.
Kok Ep9 Vyf bestand

FOTO’S: Verskaf

Mia is lief vir verrassings en het dit geniet om die boks vol “vreemde” bestanddele oop te maak. Die pynappel is nog okei, het Mia gesê, maar die prawn crackers het haar benoud gemaak. Saam met die crackers was daar ook makadamianeutbotter, vars vis, kerriepoeier en pynappel in die kardoes, en elk van dié bestanddele móés gebruik word.

Sy het ekstra sout en peper gebruik, omdat sy geleer het dat dié twee speserye nooit uitgelaat moet word nie.

Mia het ’n pynappel-salsa met rissie en koljander gemaak, en die prawn crackers fyngemaak om tekstuur aan die vis te verleen. Sy het ook ’n sous met room, makadamianeutbotter en kerriepoeier gemaak. “Dis die tipe kos wat ek van hou om te maak,” het sy gesê.

Lees meer oor dié week se episode hier.

Die uitdaging het nie net die Kokkedoortjies se vindingrykheid getoets nie, maar ook hoe goed hulle bestanddele ken en verskillende geur-kombinasies verstaan.

Volgens Edwin was die spens hierdie week “hartseer”, omdat min kokke ekstra bestanddele gebruik het. Hy het koljander gekies om sy “pynappel-vis-gedis” te komplimenteer en sy vis gevryf met makadamianeutbotter, sodat dit kan intrek om die geure te behou maar nie sal brand in ’n warm pan nie. “Ek eksperimenteer nogal deeglik met my geure en speserye,” het hy gesê.

Sy soet visgereg is voorgesit met ’n pynappelsous, waarvoor die prawn crackers fyngemaak en ingespan is om die sous te verdik – ’n tegniek wat die beoordelaars baie beïndruk het. Dié Kokkedoortjie is aan die einde van die episode as wenner aangewys, al was hy effe bekommerd oor sy ietwat eenvoudige dis.

Christian het dit baie geniet om vir die eerste keer met prawn crackers te werk, omdat dit soos plastiekskyfies lyk maar pofferig word die oomblik wat dit in olie gedompel word. Hy het sy vis met fyngemaakte makadamia-, hasel- en amandelneute bedek en ’n sous van die pynappel, makadamianeutbotter, kerriepoeier en rissies gemaak. Sy vis is saam met koeskoes voorgesit.

“Ek verwag ’n deurkom, maar nie ’n wen nie,” het hy oor sy gereg gesê.

Thali het krummels gemaak van die prawn crackers om die vis mee te bedek en ’n satay-sous met die makadamianeutbotter en ’n salsa van die pynappel gemaak. Haar dis is met noedels voorgesit.

Christi het ’n growwe kerrie-en-pynappel-sous gemaak, sowel as ’n bottersous, waarvoor hy die makadamianeutbotter gebruik het. Die prawn crackers het as garnering gedien.

Wat sê die beoordelaars? Kyk hier.

Kokkedoortjie is Woensdae om 20:00 op die kassie. Herhalings word Donderdae om 15:00, Vrydae om 11:00, Saterdae om 14:00, Maandae om 16:00 en Woensdae om 13:30 uitgesaai. Gesels saam op Facebook en Twitter (gebruik die hutsmerk #Kokkedoortjie) en hou ons Instagram-blad dop!