Logo

Kokkedoortjies toor met kardoes

Nuus
31 Mei 2017
Vyf geheime bestanddele moes dié week saamgegooi word vir een smullekker ete.
Kokkedoortjie Ep9 Bill

Edwin se visgereg. FOTO: Verskaf

In dié week se episode van Kokkedoortjie is die jong kokke met ’n Kokkedoor Kardoes, wat vyf geheime bestanddele (met ’n Oosterse gevoel) bevat het, verras: Makadamianeutbotter, vars vis, kerriepoeier, pynappel en prawn crackers.

Die Kokkedoortjies kon bestanddele byvoeg, maar al vyf dié bestanddele moes op kreatiewe maniere ingespan word. Boonop het die beoordelaars gevra vir ’n prentjiemooi opdiening – soos wat ’n mens in ’n restaurant kry.

Beoordelaar Mari-Louis Guy het veral gehoop die Kokkedoortjies gaan restaurant-etes voorsit, maar ongelukkig is die meeste disse nie op ’n moderne wyse voorgesit nie. “Ek is ’n meisie wat hou van ’n nuwe idee,” sê sy, en het gehoop om meer eenvoud en “fyner werk” op die borde te sien.

LEES: Vyf bestanddele vir die top-vyf

Is vindingrykheid iets wat aangeleer kan word?

“Dis ongelukkig iets waarmee ’n mens gebore word,” sê beoordelaar Nic van Wyk. “Dis iets wat jy baie moeilik aanleer.

“Maar dit beteken nie jy kan nié ’n goeie sjef of kok word nie.”

Beoordelaar Mari-Louis Guy dink egter vindingryk kan aangeleer word. ’n Mens kan byvoorbeeld gaan kyk hoe word iets uitgevoer en dit dan self toepas.

Edwin was dié week besonder vindingryk, en is as episode-wenner aangewys. Die beoordelaars was veral beïndruk omdat hy prawn crackers gebruik het om sy sous mee te verdik.

Edwin “het ’n baie sterk sous gemaak”, meen Nic, en boonop was sy opdiening baie goed. “Hy het ’n klein bietjie anders gedink as die res van die kinders.”

Mari-Louis stem: “Hy het net slimmer gedink.”

Sy dis het verder meer soos restaurant-kos gelyk as enige van die ander geregte.

Kokkedoortjie is Woensdae om 20:00 op die kassie. Herhalings word Donderdae om 15:00, Vrydae om 11:00, Saterdae om 14:00, Maandae om 16:00 en Woensdae om 13:30 uitgesaai. Gesels saam op Facebook en Twitter (gebruik die hutsmerk #Kokkedoortjie) en hou ons Instagram-blad dop!