Logo

VeranderDinge: Nuwe seisoen en aanbieder!

Nuus
07 Desember 2016
VeranderDinge keer binnekort terug na die kassie vir ’n derde seisoen, met Eloise Cupido as een van die aanbieders.
VeranderDinge 2017 Ruda

Vooruitgang gebeur nie sonder verandering nie, en dís waar VeranderDinge in die prentjie kom. Dié reeks, nou in sy derde seisoen, fokus op bekendes én gewone mense wat buitengewone dinge doen.

Ruda Landman is weer een van die aanbieders, met Eloise Cupido wat by haar aansluit. Saam kyk hulle na baie dinge. Interessante dinge. Skrikwekkende dinge. Opwindende dinge. Hartseer dinge. Snaakse dinge. En soos wat hulle dίt doen, gaan kykers saam met hulle uitvind wat mense inspireer om van koers te verander.

Ruda en Eloise se gaste is mense wat ’n nuwe rigting ingeslaan het, of besig is om ’n groot skuif in hul lewens te maak.

Ruda Landman



Ruda Landman is ’n gesoute joernalis en aanbieder wat veral bekend is vir haar 19 jaar as medeaanbieder op Carte Blanche. Behalwe vir haar televisiewerk, is sy ook ’n suksesvolle lektor, skrywer en seremoniemeester. Ruda het in Hartswater en Keimoes in die Noord-Kaap grootgeword en na matriek by die Suid-Afrikaanse Vroue Leër Kollege in George aangesluit, waar sy vir ’n jaar militêre diens gedoen het voor sy ’n BA en BA Honneursgraad by die Universiteit Stellenbosch gaan verwerf het.

Ná haar studies het sy ’n joernalis geword en by verskeie koerante, radio en televisieprogramme gewerk voor sy as medeaanbieder van Carte Blanche tussen 1988 en 2006 bekendheid verwerf het. Sy is in November 2012 met ’n ere-doktorsgraad in filosofie vir haar werk in die Suid Afrikaanse medialandskap vereer. Ruda dien ook op die raad van trustees van Project Literacy en op die direksies van Helpmekaar Kollege en Media24. Sy het teen die einde van 2014 die nie-regeringsorganisasie Readers Unite van stapel gestuur om fondse vir universiteitstudente in te samel. Dit is ’n saak wat haar baie na aan die hart lê. Ruda is sedert 1977 getroud met die politieke ekonoom JP Landman. Hulle het ’n seun, Johannes.

Eloise Cupido



Eloise Cupido is ’n aktrise, TV-aanbieder, sanger, skrywer en seremoniemeester. Sy is gebore en getoë in die klein plattelandse dorpie Montagu, in die Wes-Kaap en het haar BA Drama graad aan die Universiteit van Pretoria verwerf met Frans en Duits as ekstra tale (sy is Frans, Duits, Engels en natuurlik haar moedertaal, Afrikaans, magtig).

As TV-aanbieder, is Eloise welbekend vir haar werk in ‘Athletics Alive’, ‘Invent Yourself’, ‘Belboks’ en die leefstylprogramme: ‘Pasella’, ‘Kwêla’ en ‘Artcha’. As TV-aktrise was Eloise in die internasionaal bekroonde ensemble mediese dramareeks, ‘Jozi H’, in ‘Vetkoekpaleis’ en ‘Generations’ te sien. Sy het ook rolle in ‘Die Vierde Kabinet’, ‘Arsenaal’, ‘It Rained Last Night’ en ‘Home Affairs’ vertolk. Eloise is deesdae ook bekend as ’n brilljante komediant!

Sy was te sien in ‘Spekskieters’, ‘Kompleks 2’ en ‘Proesstraat’ en meer onlangs, ‘Colour TV’. Die groot eer het Eloise in 2011 te beurt geval om die Aankondigingseremonie vir die 2018 Winter Olimpiese Spele aan te bied, saam met Jonathan Edwards (voormalige Olimpiese en Wêreld Kampioenskap Goue medalje wenner in die Driesprong). Sy het in 2014 haar debuut musiekalbum, ‘Girl van die Klein Karoo’, bekendgestel en doen gereeld musiekvertonings. Eloise is in Junie 2016 getroud met ’n Kiwi, Chris Wilkinson, en hulle verwag binnekort hul eersteling.

Die derde seisoen van VeranderDinge skop af op 8 Januarie 2017 om 18:30.