Logo
web uni tv guide

Suidooster

144Soap13

Alles wat jy oor Suidooster moet weet

Nuus
04 Julie 2017
Hier is wat jy tot dusver van Suidooster moet weet.
Suidooster

Vanaf 10 Julie word Suidooster om 18:30 op kykNET en kykNET&kie uitgesaai. Hier is alles wat jy van dié gewilde sepie moet weet.

LEES OOK: Belangrike Suidooster-storielyne.


Hoofspelers in alfabetiese volgorde:

Abduraghmaan Adams: Ian October
Cedwyn Joel: AB Samsodien
Dean John Smith: Wade Ferreira
Denise Newman: Bridgette October
Desiré Gardner: Carmen Fourie
Eden Classens: Justin Potgieter
Gantane Kusch: Siya Thuli
Gideon Lombard: Stefan Gerber
Greta Pietersen: Michelle Gerber
Irshaad Ally: Rhafiek Samsodien
Jill Levenberg: Mymoena Samsodien
Lauren Josephs: Zoë October
Marcel van Heerden: Chris du Plooy
Marco Spaumer: Tim du Plooy
Portia Joel: Lee-Ann Jacobs
Simone Biscombe: Bianca Fourie
Theresa Sedras: Mrs Jacobs
Vashti Prins: Danni Hendriks


Belangrike plekke en besighede:

Ruiterbosch: Die fiktiewe woonbuurt in Kaapstad se noordelike voorstede waar Suidooster afspeel.
Suidooster Sentrum: Die spil waarom alles in Ruiterbosch draai.
Suidooster Eiendomme: Ian October se sakeryk met sy kantore in die Suidooster Sentrum.
Aalwyn Apteek: AB Samsodien se apteek in die Suidooster Sentrum
Oos Wes: Stefan Gerber en Oom Fasie se restaurant in die Suidooster Sentrum
 

Wie’s Wie:

Die Octobers & Jacobs
Shaleen Jacobs, oftewel Mrs J, is Bridgette en Lee-Ann se ma. Haar man en hul pa is jare gelede dood in ’n verdagte skietvoorval. Die Jacobs-familie besit die Suidooster Sentrum wat die spil is van die Ruiterbosh-gemeenskap. Bridgette is getroud met Ian October wat ’n skatryk, maar slinkse sakeman is. Sy maatskappy, Suidooster Eiendomme, is nie net ’n eiendomsagentskappe nie, maar doen ook ontwikkelings. Ian en Bridgette het twee kinders, Nicci en Jerome. Jerome is dood na ’n tragiese motorongeluk en Nicci het koers na Amerika gekies na dit om weg te kom van haar ouers se onstabiele verhouding en om van haar eie probleme weg te hardloop. Ian se broerskind, Zoë October, het onlangs by hulle ingetrek.

Die Samsodiens
AB en Mymoena Samsodien is baie geliefd in Ruiterbosch. AB besit die Aalwyn Apteek in die Suidooster Sentrum. Hulle het ’n tweeling, Rhafiek en Rhiyaaz. Rhafiek werk by Suidooster Eiendomme en Rhiyaaz bly in London. Mymoena het egter ook ’n dogter, Bianca Fourie, wat sy op ’n baie jong ouderdom, na sy swanger geraak het en ongetroud was, moes opgee vir aanneming.

Die Du Plooys
Chris du Plooy is ’n oud-polisieman en deesdae ’n bouer. Sy seun, Tim, is ’n argitek wat vir Ian October by Suidooster Eiendomme werk. Chris se vrou en Tim se ma, Rita, ly aan skisofrenie en is in ’n sanatorium. Ian het ook ’n tipe houvas op Chris en hy moet gereeld Ruiterbosch se eie “JR Ewing” se vuilwerk doen.

Die Gerbers
Stefan en Michelle Gerber is nie oorspronklik van Ruiterbosch nie, maar is baie goed in hierdie gemeenskap ervaar. Stefan is Chris se susterskind en hy besit die helfte van die Oos Wes-restaurant in die Suidooster Sentrum, terwyl Michelle vir AB in sy apteek werk.
 

Ander belangrike permanente karakters:

Dr. Siya Thuli is iemand wat altyd die regte ding wil doen.
Carmen Fourie is Bianca se aangenome suster.
Danni Hendriks is die kantoorassistent by Suidooster Eiendomme.
Justin Potgieter is ’n aantreklike kelner in Oos Wes.
Wade Ferreira is Ruiterbosch se nuutste inwoner.
 

Die belangrikste liefdesdriehoeke:

Lee-Ann, Chris en Rita: Lee-Ann het aanvanklik nader aan Chris probeer kom sodat sy inligting oor Ian kan kry. Maar hoe meer tyd hulle saam bestee het, hoe meer het hulle van mekaar begin hou. Met Rita se terugkoms, moes hulle egter 'n tree terug trap, hoewel die grense tussen hulle al meer verskuif is.

Tim, Nicci en Rhafiek: Tim moes ’n rukkie lank baklei vir Nicci se aandag en haar hart, maar kort voor lank het hy haar voete onder haar uitgeboul. Wat hy egter nie meer kan kompeteer nie, is die jare lange vriendskap tussen Rhafiek en Nicci. En wanneer Rhafiek uitvind Nicci het in ’n stadium dieselfde oor hom gevoel as hy oor haar, begin sy missie om haar terug te wen.

Bridgette, Lee-Ann en Ian: Jare gelede het Ian en Lee-Ann die kat in die donker geknyp, maar Bridgette het daarvan uitgevind en haar kop verloor. Sy kon die seer daarvan nog nooit heeltemal verwerk nie en met Lee-Ann se terugkoms, verwag sy die ergste. ’n Mens wonder egter of Ian en Lee-Ann onafgehandelde besigheid het.

Danni, Tim en Justin:
 ’n Nuwe kantoorassistent by Suidooster Eiendomme het twee van Ruiterbosch se manne behoorlik regop laat sit. Wanneer Danielle “Danni” Hendriks daar begin werk, vind sy uit van die liefdesdriehoek op kantoor tussen Rhafiek, Nicci en Tim en besluit om Tim nie enige aanleiding te gee nie. Danni se oog vang Oos Wes se nuwe, aantreklike kelner, Justin Potgieter. Sy vang egter nie sy oog nie, maar Tim kom met ’n plan vorendag om Justin jaloers te maak. Danni en Tim is in ’n kastige verhouding om vir Justin en Danielle bymekaar uit te kry, maar in die proses raak die twee van hulle verlief. Danni stoei met die feit dat sy en Justin nie pas nie en Tim maak uiteindelik ’n romantiese pleidooi vir haar. Maar ’n romantiese ete met Justin laat haar besef: Tim is die enigste een vir haar. Justin is verslae oor Danni en skryf ’n treffer oor sy gebroke hart en die meisie daaragter.

LEES OOK: kykNET-kanale verdryf die winterkoue met ’n vuurwarm nuwe skedule.

Suidooster saai vanaf 10 Julie 2017 om 18:30 uit op beide kykNET en kykNET&kie