Logo

Suiker, jou euwel – Slank 4

Nuus
21 Julie 2019
Lees meer.
Slank Suiker

Foto: Adobe Plex

deur Chantal van der Merwe - Ketogeniese dieet-voedingsdeskundige (suiker)

Daar is vandag baie meer inligting beskikbaar as die dae waar ons grootgeword het en ons ouers nie so ingelig was nie. Vandag is daar geen verskoning om nie ingelig te wees oor die skade wat suiker op jou gesondheid het nie. Vir my, veral as ’n mamma, is dit baie hartseer om te sien dat mammas blindelings nog vir hul kinders gaskoeldrank, sjokolade en lekkers koop.

As mammas is die onus op ons om moeite te doen en te leer wat ons moet weet om ’n aktiewe rol in te neem en seker te maak dat ons kinders en gesinne gesond is.

Eerstens, daar moet ’n gedagteverskuiwing wees van ‘suiker maak ons vet’ na ‘suiker maak ons siek’. Klein kinders so oud as twee, wat gediagnoseer word met Tipe II-diabetes, is iets wat ons moet skok. Dit is ’n siekte wat geheel en al vermy kan word deur leefstyl en tot onlangs slegs by volwassenes voorgekom het. Hoekom moet kinders met volwasse siektes belas word?

Tweedens, begin klein. Om ’n klein verandering te maak, is beter as om ’n lys van 20 dinge te probeer verander en jou familie te oorweldig en te vervreem met jou nuwe instelling om suiker te verban. Iets wat ons in ons huis al toegepas het is om slegs ’n lekkertjie te eet op die dae van die week wat met “S” begin. Dit maak dit dan baie maklik as kleinding vra vir ’n lekkertjie op Woensdag om net te reageer deur te vra watter dag dit is. As dit nie Saterdag of Sondag is nie, is dit nie die dag wanneer ons ’n lekkertjie eet nie. Meeste van die tyd was my kinders tevrede met die antwoord.

Ons dink aan suiker as die suiker wat ons in ons koffie gooi en neem nie die toegevoegde suiker in ag wat voedselvervaardigers by produkte voeg nie. Ongeveer 74% van die produkte in jou gemiddelde kruidenierswinkel bevat bygevoegde suiker. Produkte is ontwerp om jou die indruk te gee dat dit gesond is. Neem byvoorbeeld ’n boks graanflokkies. Voedselvervaardigers sal op die boks sit; “gemaak met regte vrugte”. Vrugte is tog gesond, reg? Nee dit is nie! Moenie vir dit val nie! Kyk na die bestanddele op die verpakking, spesifiek die hoeveelheid suiker daarin. Daar is 56 verskillende name vir suiker. Voedselvervaardigers vermom dit deur dit alles behalwe gewone ou suiker te noem. Jy moet slim wees om al die verskillende name van suiker te erken en ongelukkig weet die algemene publiek nie van beter nie.

Een plek waar ’n mens kan begin is om gaskoeldrank en vrugtesap uit te sny. Ons het al die illustrasies gesien van die hoeveelheid suiker wat in gaskoeldranke, gegeurde waters en selfs ice-teas voorkom. Party blikkies gaskoeldranke bevat tot en met nege teelepels suiker. Miskien klink dit nie na baie nie, maar kom ons sit dit in perspektief. Die gemiddelde nege jarige kind of volwassene is daar ongeveer vir tot vyf liter bloed wat in hul liggaam sirkuleer. In hierdie bloed kan daar slegs vier gram suiker wees. Dit is minder as ’n teelepel suiker. Enige oortollige suiker is giftig vir die bloed, en ’n mens se liggaam moet baie hard werk om die suiker uit die bloedstroom in die spiere te kry. Stel jou nou voor wat gebeur in daai kleinding se lyfie as hy ’n gaskoeldrank drink wat nege teelepels suiker bevat.

Ouers is besig om hulle kinders te vergiftig met suiker. Die gaskoeldrank is een item van ’n lys van kos wat oorlaai is met suiker waaraan daai lyfie al bloodgestel is deur die dag. ’n Tipiese skooldag begin met ’n bakkie graanvlokkies of ’n lae-vet jogurt, ’n toebroodjie vir pouse, ’n vrug en heel waarskynlik ’n vrugtesappie ook. Dis geen wonder ons kinders sukkel met konsentrasie en gedragsprobleme nie. Dis tyd dat ons as mammas begin verantwoordelikheid neem vir ons kinders se gesondheid. Lees ’n bietjie op oor wat suiker in ’n mense se lyf doen. Kyk bietjie na die hoeveelheid koolhidrate in daai bakkie jogurt of pakkie koekies. Voedselvervaardigers maak hierdie produkte vir hulle wins en nie vir jou of jou kinders se gesondheid nie.

Vir meer wenke, skakel in vir Slank 4 vanaf 7 Julie 2019, elke Sondag om 17:30 op DStv-kanaal 144. Gesels saam op FacebookTwitter en Instagram met die hutsmerk #Slank.