Logo
Slank S8 SP BB
Slank S8 Poster

"Slank" is terug vir ’n agtste seisoen, en hierdie keer doen die span dinge ’n bietjie anders...

S8 | E12
24 Maart 17:30
'S8/E12'. Leandie en Dewald durf mekaar aan op die ten-pin bowling baan. Die Mullers en Zani kry almal nuwe uitrustings ...

Ontmoet die deelnemers van "Slank" se agtste seisoen

News
07 Desember 2023
"Slank" is terug vir ’n agtste seisoen, en hierdie keer doen die span dinge ’n bietjie anders...
Slank S8 Article Image

Slank is terug vir ’n agtste seisoen, en hierdie keer doen die span dinge ’n bietjie anders. Slank begin op 7 Januarie 2024 om 17:30 net op kykNET

Vir die eerste keer is van die deelnemers kinders. Daar is ’n 11-jarige meisie en 16-jarige seun wat dié keer saam die reis aanpak. Die getal deelnemers is ook uitgebrei na tien. 

“Ons het net te veel inskrywings gehad en het gevoel ons wil meer mense ’n kans gee. Ons het ook ’n deelnemer wat reeds slank is, maar ’n baie slegte verhouding met kos het. So, ons mik om nuwe areas van ’n gesonde leefstyl aan te raak. Dié seisoen gaan nuwe hoogtes bereik, en ons is baie opgewonde,” vertel Stephan Neethling, vervaardiger van die reeks. 

Henry Green sal die deelnemers bystaan en begelei. Hy is ’n holistiese leefstyl-afrigter, en sy maatskappy fokus daarop om mense oor eetgewoontes en gesondheid in te lig. Hy is ook verantwoordelik daarvoor om die regte eetplan en verskeie toepaslike oefeninge vir elke deelnemer uit te werk.

Die tien deelnemers:

Carla Swart

Carla is ’n 25-jarige onderwysstudent van Pretoria met ’n passie om kinders met wiskunde te help. Sy beplan graag funksies, strewe doelgerig na selfverbetering en begeer om nie net goed te lyk nie, maar ook ’n gesonde gewig te handhaaf. Sy voel die program kan haar help om op die regte manier haar teikengewig te bereik in die wete dat daar professionele hulp byderhand is wat alles moontlik kan maak.

Isabel Hills

Dié 40-jarige regsadviseur doen graag sport-aktiwiteite saam met haar man en is versot op dans en enige iets met musiek. Daarby hou die natuur vir haar ’n besonderse bekoring in, en mooi staproetes is hoog op haar ontspanningslys. Sy glo die program sal haar help en dwing om weer in die roetine te kom van die nodige selfdissipline en omgee.

Zani de Beer

Zani is ’n graad 5-leerder van Laerskool Elarduspark wat daarvan hou om voor en met mense praat. Sy sing ook graag, het ’n baie sagte plek vir diere, hou van toneelspeel en geniet dit om na ’n goeie fliek te gaan kyk of om te dans. Sy glo die program kan haar motiveer om op die regte manier te eet. 

Dewald van Stryp

Die 16-jarige Dewald het ’n pers gordel in karate en het al ’n paar goue medaljes in die afdelings vir kata en vrygeveg verower. In sy vrye tyd beman hy die klankstelsel in sy kerk en geniet hy dit om aanlyn speletjies saam met sy vriende te speel. Hy hoop om nog ’n swart gordel in karate te kry. Vorige seisoene met Trompie en Jimmy Abbott het hom gemotiveer om in te skryf. Sy doelwit is om 40 kg te verloor en sodoende vir ander kinders ’n inspirasie te wees.

Alecia Seale

Alecia is ’n opgeleide aktrise en drama-onderwyseres wat saam met haar twee seuns, Liam en Nathan, aan die program deelneem.  Sy hardloop vir ontspanning, geniet die buitelewe en speel graag klavier. Haar doelwit is om meer gewig op te tel, die Two Oceans-marathon te hardloop en gesonde eetgewoontes vir haar twee seuns aan te leer.

Charles Hartzenberg

Hierdie gebore Paarliet het ’n musiekgraad verwerf aan die Universiteit van Kaapstad en benut sy talente as tromspeler vir die sanger Dozi. Charles is ook ’n akteur en werk vir ‘n eiendomsagent. Hy geniet dit om vis te vang en te jag, en hy kyk graag rugby en sokker. Charles se doelwit is om gesonde eetgewoontes aan te leer, meer gewig rondom sy maag te verloor en gedissiplineerd te eet.

Vanescé Muller

Vanescé, Mia se suster, is ’n 30-jarige prokureur van Pretoria wat baie van musiek hou en minstens eenmaal per maand ’n musiekkonsert bywoon. Sy geniet dit om romans te lees en is altyd gereed vir ’n impulsiewe naweek-uitstappie. Vanescé glo sy en haar suster Mia sal gesonde kompetisie wees vir mekaar, maar ook mekaar se grootste ondersteuners wees.

Mia Muller

Al het sy ’n vaste werk as persoonlike assistent van ’n prokureur, is Mia avontuurlustig en altyd oop vir nuwe uitdagings. Musiek, skilder, kitaarspeel en enige iets te doen met die natuur maak haar gelukkig. Sy het ook ’n passie vir nuwe klere en fotografie. Sy probeer om ongeveer 20 kg tot 25 kg te verloor en wil leer hoe om ’n gesonde leefstyl vol te hou.

Pierre Joubert

Pierre is voltyds in die bediening en reël manne-, vroue- en huwelikskampe. In sy vrye tyd speel hy graag rolbal, en fotografie is een van sy stokperdjies. Sy droom is om gewig te verloor, meer energie te hê en om beter te voel wanneer hy na homself in die spieël kyk. Pierre hoop om sonder pyn te leef en snags te kan slaap sonder onderbreking.

Simoné Joubert

Simoné is Pierre se dogter en het ’n administratiewe agtergrond. Sy doen graag potloodsketse en is baie lief vir musiek en fotografie. Haar twee honde is ook baie na aan haar hart, en sy geniet dit om saam met hulle in die natuur te gaan stap. Simoné begeer om nie meer selfbewus te wees nie, haar oortollige gewig af te skud en wil graag haar trouman ontmoet.  

 

·      Slank word elke Sondag vanaf 7 Januarie 2024 om 17:30 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai. Die reeks sal ook op DStv Stream beskikbaar wees.