Logo

Boer Soek ’n Vrou: Watter tipe skoonma of skoonpa is jy?

Nuus
10 Januarie 2018
Doen ons prettige vasvra om uit te vind!
BSV-Watter-Tipe-Skoonma

FOTO: Getty

Die boere ontmoet vandeesweek hul toekomstige skoonouers. Kyk of jy jouself in een of meer van die volgende scenario’s kan identifiseer:

Hoe belangrik is dit vir jou om jou seun of dogter se vriendin of vriend beter te leer ken?

a) Dis uiteraard belangrik om baie moeite met die persoon in jou kind se lewe te doen. Ek wil boonop ook ’n goeie indruk maak.
b) Dis belangrik om vriendelik te wees en belangstellende vrae te vra, maar aan die begin probeer ek om nie té veel moeite te doen nie.
c) Jy weet aan die heel begin nie hoe lank dinge gaan hou nie, so ek is gewoonlik hoflik, maar niks meer nie.

Moet ouers ’n sê hê oor wie hul kind in sy/haar lewe toelaat?

a) Ek dink tog so. Dis belangrik dat ons as ouers met die man of vrou in ons kind se lewe oor die weg kom.
b) Nee, wat. Tensy die persoon werklik ’n slegte invloed is of ons kind sleg behandel.
c) Glad nie. Dit bly ons kind se besluit, en ons sal hom/haar daarin ondersteun.

Jou seun of dogter bring iemand vir die eerste keer huis toe. Jy:

a) sit jou beste voetjie voor. ’n Mens kan jou deur ’n ring trek!
b) maak seker jy doen bietjie moeite met jouself en sorg dat daar darem ’n eetdingetjie is.
c) doen nie veel nie. Jy sal hulle wel gaan groet met hul aankoms.

Noudat hulle in ’n verhouding is stuur jou seun/dogter ál minder WhatsApp-boodskappe en bel nie meer so gereeld nie. Jy:

a) kan nie help om te wonder of jou skoondogter/-seun iets daarmee te doen het nie.
b) is nie veel gepla nie. Die kinders is besig met hul eie dinge en hoef nie heeltyd in te loer nie.
c) dink niks daarvan nie.

Jou kind se vorige maat was, volgens jou, ’n beter pasmaat vir hom/haar as sy/haar huidige maat. Jy:

a) gaan dit waarskynlik vir jou kind sê.
b) gee nogtans sy/haar nuwe maat ’n kans.
c) gaan waarskynlik nie lank daaroor tob nie. Dit het niks met jou te doen nie.

Jou man/vrou is duidelik nie dol oor jul kind se maat nie. Wat doen jy?

a) Ek sal dadelik vir my kind sê sy pa/ma dink nie op hierdie stadium baie van sy maat nie. Dis problematies, want ons is ’n hegte gesin en dinge kan lelik raak.
b) Dit gaan nie my eie opinie oor die maat verander nie, maar ek sal ons gesin byeen roep en die vrede probeer bewaar.
c) Almal is geregtig tot hul eie opinies en ’n mens kan nie van almal hou nie. Ek sal met my man/vrou gesels sodat dit nie ons kind se verhouding met sy/haar maat beïnvloed nie.

Jy is gaande oor jou aanstaande skoonseun of skoondogter. Hoe gereeld wil jy tyd saam met hulle deurbring?

a) As dit elke naweek kan wees – wonderlik!
b) So gereeld as moontlik, maar hulle moet darem ook hul eie lewens lei.
c) Ek gun hulle hul eie spasie om die meeste van hul tyd saam te kan deurbring, al is dit wonderlik om hulle by ons te hê.

FOTO: Getty

Jou skoonseun of -dogter beplan ’n spesiale wegbreek-naweek vir hom/haar en jou kind, en vertel jou daarvan. Jy:

a) maak ’n klomp voorstelle van plekke wat hulle kan besoek, en bel sommer self ’n paar plekke om seker te maak die akkommodasie is op ’n sekere standaard.
b) is dankbaar dat hy/sy die geheim met jou deel, en bied aan om te help (sou jou skoondogter- of -seun dit nodig hê).
c) noem aan hom of haar jy is bly hulle kry kans om bietjie weg te breek en laat dit daar.

Jy is ’n ekstrovert, jou skoondogter of -seun ’n introvert. Is dit ’n probleem?

a) Dis nie ’n probleem nie, maar ek wil graag hê ons moet lekker kan kliek.
b) Beslis nie. Ons sal ons eie balans vind.
c) Hoekom sal dit ’n probleem wees?

Jou skoondogter of -seun wil nie kinders hê nie. Hoe hanteer jy die nuus?

a) Dis vir jou byna onmoontlik om te aanvaar. Dis tog integraal in wat “familie” beteken.
b) Dis ’n bitter pil om te sluk, maar jy sal jou kinders (solank dit hulle beide pas) se besluit respekteer.
c) Ek het vrede in my hart solank hulle gelukkig is – dis hul eie lewe.

Meestal A’s

Jy is ’n baie betrokke ouer en skoonouer, en jou kind (én skoonseun of -dogter) weet hulle kan altyd op jou knoppie druk. Wees egter versigtig om nie oorbetrokke (en veral besitlik oor jou kind) oor te kom nie – dit mag die skoonseun of -dogter dalk afskrik, of jou kind laat voel hy/sy word as volwassene opgepiep.

Meestal B’s

Jy glo in balans (dis mos nie die einde van die wêreld as jy nie 100% saamstem met jou kind se keuses nie). Jy dra jou kind se beste belange op die hart, doen moeite met die persoon in sy/haar lewe en wil nie ’n oorlas wees nie, maar dis okei om elke nou en dan oor te gee aan jou gevoelens.

Meestal C’s

Jy is die koel skoonma of skoonpa wat heeltemal okei is daarmee om níé betrokke te wees by aktiwiteite waar jy nie welkom is nie. Jy aanvaar die skoonseun of -dogter vir wie hy/sy is en probeer om hulle genoeg vryheid te gun. Wees egter daarop ingestel om nie onbetrokke of afsydig oor te kom nie.

Boer Soek ’n Vrou is elke Donderdag om 20:00 op die kassie. Volg ons op FacebookTwitter en Instagram, en gesels saam by #GroterBeterBoer en #BoerSoeknVrou.