Logo

Boer Soek ’n Vrou: Vat vyf!

Nuus
04 November 2016
In dié week se opwindende episode van Boer Soek ’n Vrou het die boere elk tien vroue tydens blitsafsprake ontmoet.
BSV 9 Ep3 01

In hierdie week se episode van Boer Soek ’n Vrou kom ons top-vyf boere byeen by die Asara-wynlandgoed in Stellenbosch om van nader kennis te maak met die tien briefskrywers wat hulle uitgesonder het.

“My senuwees is klaar, hoor,” sê Arno. Leon-Fritz meen hy gaan “maar uit die heup uit skiet” wanneer dit by vrae kom. Hy is bang hy “choke” as hy vrae voorberei.

Volgens Johannes kan die vyf minute óf baie vinnig verby tik óf te lank voel.

Wat weet hulle reeds van die vroue? “Driekwart van hulle is onderwyseresse,” sê Hennie. “Ja!” lag die ander.

“Wat gaan julle doen as die girls van ver af kom?” wil Johannes by die ander weet. “Dan gaan haal ons hulle!” spot Leon-Fritz.

“Het julle ook briewe gekry…” lag-vra Hennie: “Dan besef jy hierdie meisie gaan my doodboer?

“Toe besef ek maar ek gaan kinders grootmaak!”

Elke boer het vyf minute saam met elk van die vroue en moet aan die einde van dié prettige dag besluit watter vyf vroue hulle beter wil leer ken.

Gaan die manne reg kies, en gaan die dames hou van wat hulle sien? “Ons het hierdie,” sê Leon-Fritz.

Die boere gesels oor die blitsafsprake.














Die blitsafsprake verloop soms glad, ander kere weer nie. Ronél, een van die vroue wat vir Rob geskryf het, sê dit het vir haar gevoel sy gesels met Coenie de Villiers op Kwêla.

Maureen dink haar afspraak met Rob het baie goed verloop, maar sy het nie met hom gepraat oor die feit dat sy op skool op hom verlief was nie. Hopelik kry hulle nog die geleentheid om daaroor te gesels, sê sy.

Hennie se glimlag was vir haar oulik, sê Maronel vir Hennie. “Moenie bloos nie!”

Arno sê vir Carien: “My ma het gesê jy is te intelligent vir my.”

Leon-Fritz is beïndruk met Chanté se liefde vir eenvoud. “As jy bereid is om ’n Volla te wees as jy ’n kar moes wees, dan moet ek nogal sê jy is tevrede met min!”













Het dit ooit vir die boere gevoel of die tyd net nie verby wil gaan nie? Twee van die afsprake het vir hom soos “50 minute” gevoel, sê Arno.

Volgens Johannes was daar geen ongemaklike stiltes aan sy kant nie.

Hennie meen dis “kwaliteit-mense” en dit gaan moeilik wees om vyf dames vandag huis toe te stuur.

Dan word dit tyd vir die boere om hul keuses aan die vroue bekend te maak.
















Rob kies vir Estelle, Helga, Maureen, Carin en Elizna. Arno vra vir Mareli, Janine, Carien, Jenny en Jacobu om langer aan te bly, terwyl Leon-Fritz vir Madri, Tanya, San-Marié, Marna en Chanté kies.







Johannes wil graag vir Valrie, Marga, Danielle, Selma en Marlu beter leer ken, terwyl Hennie uitsien na uitstappies en aktiwiteite saam met Elizbé, Chantelle, Chevé, Maronel en Marléne.





“Julle almal het dit so mooi hanteer,” sê Minki wanneer sy later saam met die boere ontspan. “Ek kan sien dat dit vir julle baie beteken.”

Minki gesels oor die afsprake.

Volgende week kan die boere die vyf dames wat hulle gekies het van nader leer ken, wanneer die klomp bymekaar kom vir uitstappies en groepaktiwiteite.

Volg saam met ons die boere in hul soeke na liefde op die kassie, ons webblad en sosiale media!

Boer Soek ’n Vrou is Donderdae om 20:30 op die kassie.


Herhalings word Vrydae om 13:30, Sondae om 10:00 en 21:30, Maandae om 10:30, Woensdae om 11:00 en Donderdae om 09:30 uitgesaai.