Logo

Boer Soek ’n Vrou: Pa-wees pas Gerrie

Nuus
12 Oktober 2017
Niemand sal Gerrie Rossouw, die boer van Bothaville, vergeet nie. Deesdae is hy ’n boer wat sy vrede in sy babadogtertjie se kamer vind.
BoerSoeknVrou_BabaSanri

Foto verskaf deur Cindy Louwrens

Gerrie, die Vrystaatse prins van Bothaville, het in die sewende seisoen van Boer Soek ’n Vrou halsoorkop verlief geraak op Carna.

Sewe jaar later, en dié boer deel nou sy hart met sy pragtige vrou en hul eersteling, die kleine baba Sanri.

KYK: Ons het by Gerrie en Carna ingeloer

Natuurlik is die paartjie deesdae nie net doenig op die plaas nie, maar hard besig om vir Sanri gemaklik te maak in haar nuwe tuiste. Tussendeur boer en baba-grootmaak het ons vinnig by Gerrie ingeloer om uit te vind hoe hy sy nuwe rol as pa ervaar.

Wat was jou eerste reaksie toe jy vir Sanri ontmoet het?
Jy kan daai gevoel vir niemand beskryf nie. Ons het vir so lank gewonder soos wie sy gaan lyk, en toe ons haar uiteindelik ontmoet, was sy net perfek vir ons gewees.

Is jy ooit bekommerd dat jy pa-wees verkeerd doen?
Wel ek weet nie… Dis die eerste keer wat ek dit doen, so ek weet nie of ek dit verkeerd óf reg doen nie. Ek dink mens wil graag net die beste vir jou kind hê, en jou kind grootmaak soos jou ouers jou grootgemaak het.

En het jy gehelp met die babakamer?
Carna het dit haar projekkie gemaak. Sy’t dit omskep in ’n speelkamer met ’n vrolike plaastema vir as daar nog enetjie kom, dit nie net ’n gewone babakamertjie is nie.

Wat maak ’n babakamer perfek?
Dis klaar vól speelgoed, so [Sanri] is lekker bederf.

Wat is die beste raad wat jy al ooit van jou ouers ontvang het?
Ek dink wat ek geleer het is dat niks in die lewe verniet kom nie, en dat jy moet werk vir alles wat mens wil hê – dit is beide my en Carna se motto.

En wat wil jy eendag vir Sanri leer?
Dat geld nie geluk kan koop nie. Ons sal haar ook van Jesus wil leer van vroeg af. En dan ook natuurlik om ’n groot Cheetah-supporter te wees.


Kleine Sanri vind haarself gemaklik op die plaas. Foto: Cindy Louwrens

Wat is die beste deel van pa-wees?
Jy voel baie trots om haar te sien en dan te dink dis joune – dít is die lekkerste deel.

En wat is minder lekker?
Ons is nou baie besig op die plaas en ek sien haar baie min deur die dag. So as ek in die aande by die huis kom, probeer ek haar maar bad, en ten minste toelaat dat sy so bietjie by my lê.

Wat is die belangrikste ding van pa-wees wat nuwe pappas regoor Suid-Afrika móét weet?
Dis ’n moeilike een. Ek sal sê dis die verantwoordelikheid wat jy moet neem om die leier van die huis te wees, en om jou kind groot te maak volgens dit.

Hoe maak jy die plaas baba-bestand?
Sy is maar nog bietjie klein so sy kom nie baie buite nie, maar die mense op die plaas is baie opgewonde oor die nuwe ‘nonnatjie’ op die plaas. Een werker ontbos nou al so kwaai hier om die huis, want hy sê die slange kan daar wegkruip en hy is bang vir die kleintjie se part.

Wie staan op in die middel van die nag?
Kyk, daar is twee redes hoekom Sanri wakker word in die middel van die nag. Of sy’t ’n doek, of sy wil drink, so ek doen nie een van die twee nie!

Soos wie lyk Sanri die meeste?
Ek en Carna kan nie regtig dit sien nie, maar almal sê sy lyk soos ek, maar hulle sê ook sy het Carna se neusie – maar almal sê dis die pa se kind.

Wie ruil die doeke om?
Ek het al bygestaan as Carna dit doen vir ondersteuning, maar ek het nog nie kans gesien nie. Ek het al vasgehou en gehelp vasmaak, maar ek is maar skrikkerig – ek het nie so baie goeie maag nie.

As nuwe ouers lyk Gerrie en Carna heel gemaklik met die nuwe toevoeging tot hul huisgesin – kyk na die kiekies van hul pragtige babadogtertjie hier onder.

Gallery

Skakel Donderdag om 20:00 in vir nóg ’n spesiale episode! Volg ons op Facebook, Twitter en Instagram, en gesels saam by #GroterBeterBoer en #BoerSoeknVrou.