Logo

Boer Soek ’n Vrou 101 – Boer Soek ’n Vrou 12

Nuus
16 Oktober 2019
Hier is alles wat jy moet weet oor dié gewilde program.
10 Boere (1)

Boer soek ’n vrou is al amper so deel van ons kultuur soos koeksisters saam met koffie en pannekoek by ’n basaar.

Daarom is dit belangrik dat persone – wat die reeks nou die eerste keer gaan kyk – op datum is met hoe die program werk, sowel as die geskiedenis van die program.

ONTMOET SOLANK DIE 10 BOERE!

Die aanbieder:

Daar was al vyf aanbieders gewees in die 12 seisoene wat dit op kykNET uitsaai. Die huidige aanbieder is Leah. Sy is ook ‘n suksesvolle sangeres en aktrise in eie reg. Sy het ook, voor sy die vermaaklikheid-wêreld betree het, ’n graad in regte voltooi.

Maak solank kennis met Leah:

Die huwelike:

Boer soek ’n vrou is geweldig suksesvol en het al verskeie gelukkige huwelike regoor die land opgelewer, wat net weereens ’n bewys is van die sukses van hierdie formaat!

Van die huwelike is:

Tickey en Selmé-Louise (Seisoen 1)

Flip en Wenda (Seisoen 2) 

Jacobus en Ina (Seisoen 3)

Erik en Judi (Seisoen 3)

Hubert en Angelique (Seisoen 5)

Ignus en Jean-Marie (Seisoen 6)

Gerrie en Carna (Seisoen 7) 

Johan en Helen (Seisoen 7)

Lize en Hardie (Seisoen 7)

Hennie en Jacobu (Seisoen 9)

Carl en Danél (Seisoen 10)

Hoe die program werk:

Vir elke seisoen van dié reeks kan boere inskryf. Daarna sal 10 boere gekies word wat deel van die program sal wees. Sodra die 10 boere bekendgestel word, kan voornemende pasmaats dan briewe stuur vir die boer wat hul hart vinniger laat klop. Deur die jare het die ‘brief’ ’n al hoe belangriker aspek geword – voornemende pasmaats sal enigiets saam met die brief stuur van ’n teddiebeer tot tuisgemaakte konfyt om ­– hopelik – die boer se aandag af te lei van die daaglikse take op die plaas.

Die vyf boere wat die meeste briewe ontvang het sal dan voortgaan met die soektog na liefde voor die kameras, terwyl die boere wat nie soveel briewe ontvang het nie, self kan aangaan met hul soektog na liefde met die briewe wat hulle ontvang het.

Die vyf boere wat voortgaan in die program, moet dan 10 voornemende pasmaats kies wat hulle tydens die blits-afsprake sal ontmoet om te kyk of daar ’n  ‘spark’ is. Dan lê die moeilike taak voor vir die boere om vyf pasmaats te kies om beter te leer ken – alhoewel daar net drie voornemende pasmaats na die plaas sal vertrek om hul boer se liefde te probeer wen.

Op die plaas sal die pasmaats die geleentheid hê om die boer beter te leer ken deur middel van alleentyd, uitstappies en net lekker om die braaivleisvure te gesels. Die boer se ouers en vriende gaan ook die voornemende pasmaats ontmoet om sodoende die boere te help om hul keuse te maak. Hierdie is vanselfsprekend senutergend vir die pasmaats – want wie is nou nie bang vir die skoonouers nie?

Sodra die boer hul finale keuse gemaak het, sal hy die pasmaat se ouers gaan ontmoet en by die pasmaat gaan kuier in hul tuisdorp – of stad!

Teen die einde van die reis, sal hulle ook later met die ander boere gaan vakansie hou om te kyk of die eerste tekens van verliefdheid steeds sigbaar is.

Daar is altyd die vraag: ‘wat het met die ander boere gebeur?’ Die goeie nuus is dat daar in elke seisoen ’n reünie-episode is waar al die 10 boere weer bymekaar kom en ons brandende vrae beantwoord oor of hulle deur middel van die briewe wat hulle ontvang het, wel liefde gevind het.

Jy moet dus seker maak dat jy nie een episode van hierdie emosie-belaaide reeks misloop nie! Kuier ook saam deur #BoerSoeknVrou te gebruik op Facebook, Instagram en Twitter.