Logo
web uni tv guide

Binnelanders

144Drama13

Koste van ‘n kind – Binnelanders

Nuus
14 September 2020
‘n Bondeltjie vreugde. Die beste ding wat ooit met jou kan gebeur. Sal dit nooit vir enigiets anders verruil nie. Dít is maar net ‘n paar dinge wat mense oor ouerskap sê. Maar so groot as wat die vreugde is, so groot is die verantwoordelikheid, veral die finansiële verantwoordelikheid.
1

Chanel se pa het haar goed bang gepraat toe hy uitgevind het sy en Danny verwag ‘n baba - veral oor die koste van ‘n kind, wat nog te sê ‘n kind waarvoor daar nie beplan is nie. Dit is egter nie net Chanel en Danny wat somme moet maak nie. Enige persoon wat daaraan dink om ‘n kind te kry, moet goed beplan vir nou én die toekoms.

Kom ons begin by die geboorte. In Suid-Afrika kos ‘n natuurlike geboorte vir persone wat aan ‘n mediese fonds behoort, tussen R24 000 en R25 000. ‘n Keisersnee is tussen R38 000 en R44 000. Dit is net die geboorte. Enige vooraf doktersbesoeke en sonars is nie ingereken nie.

Om die baba se kamer reg te kry, gaan jou ook ‘n paar rand uit die sak jaag en voornemende ouers kan op minstens R8000 reken vir die bababedjie, stootwaentjie, babakas vir die omruil van doeke, gordyne en so meer. Dan is daar klere, badgoed soos seep en sjampoe, beddegoed en ander benodighede soos fopspene, bottels en speelgoed. Volgens die doekvervaardiger Huggies se webblad is die koste om net die babakamer op te stel en al die nodige te kry, nagenoeg R14 000.

Nou kom die maandelikse kostes. Doeke is baie duur, maar natuurlik broodnodig. Baba gaan op jou/julle mediese fonds moet gaan wat die bedrag gaan opstoot en dan moet hulle klere elke paar maande vervang word omdat hulle so vinnig groei. Voeg daarby enige ander kos, medisyne, salfies en smeertjies en hierdie koste kan maklik by R2500 draai.

Wanneer die kleingoed begin skoolgaan, word die som weer aangepas. In ‘n studie wat deur Old Mutal gedoen is, word gereken dat ‘n kind wat in 2020 Graad R begin het, (met ag genome dat opvoeding-inflasie sowat 9 persent sal wees) se totale skoolfooie plus drie jaar op universiteit ouers sowat R1,6 miljoen uit die sak sal jaag. Wanneer jy egter besluit om jou kind in ‘n privaatskool te sit, kan daardie koste na R3,7 miljoen opskiet. Boonop sluit hierdie koste enige ander uitgawes soos skooluniforms, buitemuurse aktiwiteite, skryfbehoeftes en uitgawes soos toere en uitstappies uit. Die studie het bepaal dat ‘n kind se jaarlikse skoolfonds by ‘n staats-laerskool in 2035 tot soveel as R149 800 per jaar kan wees en by ‘n privaat-hoërskool soveel as R588 800 per jaar. ‘n Jaar op universiteit in 2035 gaan ongeveer R254 700 kos.

Volgens navorsing kan die totale koste van ‘n kind – wat natuurlik afhang van die inkomste van die ouer/ouers, die leefstyl en hoe goed geld in die huishouding bestuur word – sowat R90 000 per jaar kos. Dit is dus van geboorte tot die ouderdom van 23, wanneer meeste kinders begin werk, ongeveer R2,07 miljoen in totaal.

Die kort en die lank: Ja, dis ‘n vreugde, maar maak jou somme en spaar indien jy kan. Praat egter met enige ouer en hulle sal vir jou sê dit is die beste belegging wat hulle nog ooit gemaak het!

Gesels saam op Facebook, Twitter en Instagram en onthou om weeksaande om 19:30 in te skakel vir die jongste drama en intrige wat in die gange van Binnelanders uitspeel.