Logo
web uni tv guide

Binnelanders

144Drama13 VL

Hoë bloeddruk: Jy kan dit beheer – Binnelanders

Nuus
24 Junie 2020
Hipertensie, ook bekend as hoë bloeddruk, kan gevaarlik wees indien dit geïgnoreer word. Wêreldwyd het ongeveer vier uit tien mense ouer as 25 hipertensie, maar in Suid-Afrika is daardie getal een uit drie volwassenes.
Binnelanders Article Image

Wat is bloeddruk?

Bloeddruk is die druk van die bloed teen die wande van die are en in die hart. Wanneer die bloed die hart verlaat en in die bloedsirkulasie ingepomp word, is bloeddruk op sy hoogste en wanneer dit weer terugkeer na die hart, is dit op sy laagste.

Wanneer bloeddruk gemeet word, is daar twee getalle soos byvoorbeeld 120/80. Die boonste getal, wat sistoliese druk genoem word, is die druk in jou are wanneer die hartspier saamtrek. Die onderste getal, diastoliese druk, is die bloeddruk tydens die periodes tussen hartkloppe.

Met ouderdom word die bloedvatwande minder elasties as gevolg van aarverkalking wat lei tot die vernouing van die bloedvate wat dan weer lei na weerstand in bloedvate wat die bloeddruk laat styg.  Normale bloeddruk is gemiddeld 120/80.

Wat is hipertensie?

Dit is ‘n toestand waar die bloeddruk chronies hoog is. Hoe nouer die bloedvate is, hoe moeiliker is dit vir die bloed om deur die are te pomp want dan hipertensie of hoë bloeddruk tot gevolg het. Hipertensie kan beroertes, hartaanvalle en aneurismes veroorsaak en is ook ‘n belangrike oorsaak van nierversaking. Daar is vyf metings vir bloeddruk:

  • Gesond is ‘n lesing van 120/80 of minder.
  • Verhoog is wanneer die sistoliese druk tussen 120 en 129 en die diastoliese druk minder as 80 is. Dokters beveel gewoonlik ‘n leefstylverandering aan wanneer so ‘n meting gelees word.
  • Vlak 1-hipertensie is tussen 130 en 139 en 80 en 89 op die onderste lesing.
  • Valk 2-hipertensie is wanneer die sistoliese druk 140 of hoër is en die diastoliese druk 90 of hoër is.
  • Hipertensie-krisis is wanneer die sistoliese druk hoër as 180 en die diastoliese druk meer as 120 is. Hierdie lesing verlang onmiddelike mediese sorg.

Wie loop risiko om dit te kry?

Indien daar ‘n familiegeskiedenis van hipertensie is, is daar ‘n kans dat jy dit ook kan kry. Ander faktore is hoë cholesterol, diabetes, ongesonde eetgewoontes, te veel alkohol, rook en ‘n tekort aan oefening. Hoë bloeddruk kan egter deur medikasie en ‘n gesonde leefstyl onder beheer gehou word.

Maniere om jou bloeddruk te verlaag

  • Oefen gereeld en hou jou gewig in toom
  • Eet gesond met meer vrugte en groente in jou dieet
  • Eet minder sout
  • Hou op met rook
  • Drink minder alkohol
  • Verminder stres in jou lewe
  • Laat jou bloeddruk minstens elke ses maande neem
  • Indien jy op medikasie is, neem dit soos voorgeskryf

Onthou om elke weeksaand om 19:30 in te skakel vir die nuutste drama en intrige wat in die gange van Binnelanders gebeur en om saam te gesels op Facebook, Twitter en Instagram

Bronne:

https://www.health24.com/Medical/Heart/Jou-hart/Hoe-bloeddruk-is-gevaarliker-as-wat-jy-dink-20120721

https://www.hypertension.org.za

http://www.heartfoundation.co.za