Logo
web uni tv guide

Slank

144LeefstylPG

Slank 2: Ontmoet die deelnemers!

Nuus
22 Junie 2017
Ontmoet die slankers wat aan seisoen 2 van Slank deelneem.
Slank 2 Deelnemers Bill

Leandie du Randt Bosch is weer die aanbieder.

Episode 1: Inge Botha

9 Julie 2017

Inge het aan die begin van haar reis 120,9 kg geweeg.

Inge het ingeskryf omdat sy op ’n punt in haar lewe gekom het “waar ek nie meer wou voel ek is nie goed genoeg nie.”

Hoogtepunte

Met elke inweeg om te sien hoe die kg en cm net verdwyn. Die beste gevoel is dat klere te groot is as jy dit aantrek en nie te klein nie. Dis ’n goeie probleem om te hê: “Wat gaan ek aantrek?”

Laagtepunte

Soms was die emosies bietjie hoog, en dan kon kos nie my “comfort zone” wees nie – Cherry Water, jou lekker ding. Om self te spuit was maar moeilik, maar ek het dit vinnig onder beheer gekry.

Episode 2: Barend en Mark Brand

16 Julie 2017

Barend het aan die begin van sy reis 115,5 kg geweeg.

Mark het aan die begin van sy reis 115,3 kg geweeg.

Barend en Mark is broers en het ingeskyf omdat hulle dit gesien het as ’n geleentheid om saam gewig te verloor. “My broer het my oorreed om die journey saam met hom aan te pak,” sê Barend. “Ek wou nie, om eerlik te wees. Maar ek is dankbaar dat ek het en ek skuld my broer baie.”

Barend se hoogtepunt

Ek is fiks en voel goed oor myself.

Barend se laagtepunt

Ek het baie moeilike dae gehad waar stres my onder wou kry en ek net wou eet. Maar gelukkig was ek sterk.

Mark se hoogtepunte

Beslis die gewig wat ek verloor het. So ook die uitslae van my bloedresultate wat aangedui het dat my cholesterol- en suikervlakke nou normaal is. Ek is ook nou baie fikser en kan dus nou my fietsry en draf baie meer geniet.

Mark se laagtepunte

Die detox-fase en finansiële knou om nuwe klere te koop. :)

Episode 3: Madelaine Pretorius

23 Julie 2017

Madelaine het aan die begin van haar reis 80 kg geweeg.

As enkelouer van ’n pragtige tienerdogter het Madelaine haarself beloof “om haar grootste ondersteuner te wees in alles wat sy aanpak”. Sy sê: “Ek het nooit myself gesien as oorgewig nie, en ek was my hele lewe lank baie aktief gewees.

Een dag het sy besef dat haar gewig, en wat sy van haarself dink, haar denkwyse beïnvloed en toe besluit “dat die lewe my niks skuld nie en my geluk hang van myself af!

Slank 2 was die rigtingwyser en ek kan nie ophou dankie sê daarvoor nie.”

Hoogtepunte

Toe ek daai e-pos ontvang het wat sê: “GELUK, jy is gekies as ’n slanker!” Met my eerste weegsessie: Ek kon nie glo dat ek sonder effort soveel kilogram in ’n kwessie van 2 weke verloor het nie.

Laagtepunte

Was dalk die 3 dae detox – ek het nog nooit soveel uitgesien na ’n klein stukkie vis nie. Daar was ook darem een oomblik van swakheid, toe ek na ’n ma-en-dogter-naweek toe was en so graag ’n ou koekie wou eet.

Episode 4: Anoesjka Collett

30 Julie 2017

Anoesjka het aan die begin van haar reis 120,5 kg geweeg.

Anoesjka het aan die begin van haar reis in ’n boekie geskryf: “Ek wil nie meer so voel nie.” Sy meen sy het nie twee keer gedink om in te skryf nie: “Dis ’n ongelooflike geleentheid wat op ’n skinkbord vir ons aangebied was.”

Hoogtepunte

My grootste hoogtepunt is om aan myself te kon bewys ek kan dit doen. Die triomf is groot! Om saans te gaan slaap na ’n volle dag van gesond eet is prysloos. Elke sessie op die skaal saam met dr. Annelize en my mede-warriors was van onskatbare waarde. Dit was ’n groot leerproses – ek koester dit wat ek geleer het van porsies, van myself, van verskillende soorte kosse en kombinasies altyd.

Laagtepunte

Die detox was ’n enorme uitdaging, hoewel ek trots anderkant uitgestap het. ’n Laagtepunt was wanneer my skedule nie kosvoorbereiding toegelaat het nie – alles was dan deurmekaar en die versoekings groot!

Episode 5: Charlotte Perry

6 Augustus 2017

Charlotte het aan die begin van haar reis 85 kg geweeg.

Charlotte was van die dag wat sy besluit het om gewig te verloor vasberade om suksesvol te wees. “Ek het ook gesien wat die program vir ander gedoen het, en ek het positief gevoel dat die span mense my ook kan help,” sê sy. “Ek het ook geweet, om weer goed oor myself te voel, MOET ek eers gewig verloor.”

Hoogtepunte

Buiten dat ek ’n wonderlike span mense ontmoet het, het ek die beste hoogtepunt wat ek voor kon vra bereik, en dis selfvertroue. Die ander hoogtepunt was om na ’n maand te kon sien dat ek amper 8 kg verloor het.

Laagtepunte

Toe ek besef het dis verby – dit was vir my eintlik hartseer.

Episode 6: Francois Botha

13 Augustus 2017

Francois het aan die begin van sy reis 148 kg geweeg.

Francois het ingeskryf om sy algehele gesondheid te verbeter.

Hoogtepunt

Die voorbereiding en gewig wat ek tot dusver verloor het.

Laagtepunt

Om sterk te staan en ‘nee’ te sê wanneer daar gebraai word. Maar dis alles die moeite werd.

Episode 7: Reinet Koen

20 Augustus 2017

Reinet het aan die begin van haar reis 108,1 kg geweeg.

Reinet het die program op TV gesien “en omdat ek geweet het ek is oorgewig, het ek ingeskryf.” Sy vertel sy wou ook haar selfvertroue in die proses herstel: “Ek was moeg vir altyd sukkel met my groottes in winkels.”

Hoogtepunt

Vir my was die hoogtepunt regtig om elke week te sien hoe verskillend ek lyk en gesond ek voel. Die program het die nodigheid om te oefen in my wakker gemaak. 

Laagtepunt

Ek was nie baie kreatief met my kos nie. Ek het dit moeilik gevind om dit interessant the kry en so te hou.

Episode 8: Martie en Neline Engelbrecht

27 Augustus 2017

Martie het aan die begin van haar reis 102,4 kg geweeg.

Neline het aan die begin van haar reis 82,4 kg geweeg.

Beide Martie en Neline (ma en dogter) wou graag inskryf om weer goed oor hulleself te voel.

Martie se hoogtepunt

Om heeltyd so gesond te voel gedurende en na die reis – mens het soveel meer energie en lus vir die lewe.

Martie se laagtepunt

Die eerste fase detox was vir my die swaarste. Ek het so sleg gevoel dat ek glad nie eers uit die bed wou opstaan nie. Mens kom dan eers agter watse slegte goed in jou liggaam elke dag was.

Neline se hoogtepunt

Vir my is dit beslis die nuwe leefstyl wat ek geleer het om te volg en nog steeds kan volg. Ek het nooit gedink mens kan verslaaf raak aan die leefstyl nie, maar mens doen, en dit laat jou wonderlik voel.

Neline se laagtepunt

Dit was definitief die detox-fase, en dit is ’n groot aanpassing om jou ou leefstyl te los, maar dit is definitief die beste verandering wat ek gemaak het.

Episode 9: Michelle Allison

3 September 2017

Michelle het aan die begin van haar reis 120,7 kg geweeg.

Michelle meen sy was op “die afdraende pad” en wou ’n drastiese leefstyl-verandering maak. “Ek was altyd moeg en wou nooit op ’n foto verskyn nie.

Hoogtepunte

Om in al die klere wat ek nie kon dra nie te pas. Dat ek met selfvertroue kon gaan roei het en nie in die water geval het nie. Dat ek oor die algemeen meer selfvertroue het, en soveel gesonder voel en voel ek is goed genoeg en die moeite werd.

Laagtepunt

Om uit te vind ek het diabetes.

Episode 10: Jan-Venter van den Berg

10 September 2017

Jan-Venter het aan die begin van sy reis 153,3 kg geweeg.

Jan-Venter het ingeskryf “vir sy eie gesondheid”, “vir my kind en vrou (ek wil my dogtertjie sien grootword)” en natuurlik “net vir myself”. Hy sê: “Ek het geweet ek kon dit doen, maar nou weet ek: Ek HET dit gedoen!”

Hoogtepunte

Om elke 2 weke te weeg en te sien wat gebeur het in so ’n kort tydperk, dat my klere so vinnig begin los sit het en almal vir jou sê jy lyk goed en dat ek leer water drink het. As jy eers gewoond is aan al die water, dan kan jy nie meer sonder dit nie.

Laagtepunte

Al die pille drink heeldag lank – ek is glad nie goed met pille drink nie. Die spuit was die eerste week ongemaklik, maar ’n mens pas aan. Min vleis – aan die begin was dit erg, ek het my biltong gemis, maar weereens raak dit ’n gewoonte.

Episode 11: Landi Cloete

17 September 2017

Landi het aan die begin van haar reis 172,5 kg geweeg.

Na ’n paar jaar wat Landi jaarliks iemand na aan haar aan die dood afgestaan het, “was 2016 die eerste jaar wat ek nie iemand close verloor het nie.” Sy sê: “Dit het ’n nuwe lus vir die lewe in my ontwaak.”

Hoogtepunte

Al die mylpale wat behaal is – elke keer se weegsessie is ’n nuwe hoogtepunt.

Laagtepunt

Die nuwe wyn wat jy nie meer kan proe saam met die vriende nie. Die glasie onbekend wat nou nie meer saam geniet kan word nie.

Episode 12: Odette Wannenburg

24 September 2017

Odette het aan die begin van haar reis 143,6 kg geweeg.

Odette was “moeg vir die ongesonde lewe wat ek gehad het”, en toe besluit om in te skryf. “Ek is ’n outgoing persoon,” vertel sy, maar het begin skaam voel en wou nie meer uitgaan nie.

Hoogtepunt

My hoogtepunt was vir seker toe ek na 2 weke weeg en hulle sê ek het 15 kg verloor – dit gee jou net daai eksta skop dat jy net nog meer en meer wil verloor.

Laagtepunt

My laagtepunt was toe ek my werk verloor het en hoe jy jouself heeltyd moet positief hou dat jy nie verswak en begin verkeerd eet nie. Dit was rêrig vir my moeilik.

Episode 13: Lindie de Kooker

1 Oktober 2017

Lindie het aan die begin van haar reis 86 kg geweeg.

“Ek het ’n baie lae selfbeeld gehad en was regtig moeg vir hoe ek gevoel het,” vertel Lindie. “Ek wou nie meer uitgaan saam met my gesin nie en was oor die algemeen baie bewus van hoe ek gelyk en hoe ongemaklik ek gevoel het. Ek wou die verandering maak vir myself, maar ook as belegging in my gesondheid, sodat ek meer tyd saam met my gesin kon spandeer en beter voel.”

Hoogtepunte

Elke inweeg-sessie was vir my ’n hoogtepunt – om die ongelooflike resultate te sien en sommer net oor die algemeen beter te voel. Om al die deelnemers te sien by die reünie was ook great en veral daardie before-foto’s! Wow, wat ’n amazing transformasie van elkeen.

Laagtepunt

Ek het eerlikwaar geen laagtepunte ervaar nie. Hierdie reis was verbasend maklik en vinnig – beslis die beste wat ek nog ooit beleef het! Die mense was ongelooflik, die ondersteuning van vriende en familie onbeskryflik en ’n totale life changing event

Slank 2 skop af op 9 Julie om 18:30.