Logo

kykNET NOU! se 2017 MVP-wenners is aangekondig!

Nuus
30 Junie 2017
Baie geluk aan een en elkeen – ons sien uit na die eindprodukte!
MVP Wenners Bill

2017 se MVP-inskrywings het alle verwagtinge oortref. Meer as 80 inskrywings is ontvang en die gehalte van die voorstelle was uitstekend. Om net 10 wenners te kies, het die beoordelaarspaneel omtrent laat sweet.

Martin Oberholzer, die projekbestuurder, sê hy was verbaas om te sien hoeveel verskillende genres daar onder die inskrywings was. “Ná twee siftings het ons uiteindelik ’n kortlys bepaal, maar dit was baie moeilik – die kompetisie was regtig taai. Ons het gewens ons kon meer as tien kies, maar ek dink die tien waarop ons uiteindelik ooreengekom het, gaan baie waarde tot kykNET NOU! se speellys en die musiekbedryf in sy geheel bydra.”

Die tien spanne wat elk R50 000 ontvang om ’n musiekvideo mee te maak, is: (drum roll...)

  • ELVIS BLUE: “WERNER” en word vervaardig deur Khoi Creative
  • EMILE YX: “KÔ LAT ÔS SING” en word vervaardig deur Xami Produksies
  • FRANCOIS VAN COKE: “BETER MENS” en word vervaardig deur Motion City Films
  • HERMAN KLEYNHANS: “DIE KAMER SAL WEET” en word vervaardig deur Coolerbox Brothers en VPH Films
  • LEE SCOTT: “PERFEKTE VREEMDELING” en word vervaardig deur Homebrew Films
  • LEN MULLER: “SING VIR SENTE” en word vervaardig deur Nouvanaand Films
  • MOSES METRO MAN: “MONA LISA” en word vervaardig deur Perskeblom Produksies
  • RIKU LÄTTI: “TYD KON TIK” en word vervaardig deur Kilroy Was Here Productions
  • SPOEGWOLF: “FLIKKER” en word vervaardig deur Chris von Wielligh
  • WILLIM WELSYN: “AL DIE COOL KINDERS” en word vervaardig deur WW Produksies

Die tien video’s gaan deur die loop van Julie vervaardig word en sal op 4 Augustus om 20:00 in Die Top 20 op kykNET NOU! (DStv-kanaal 146) vir die eerste keer eksklusief te sien wees. Daarna gaan kykers die geleentheid kry om via SMS vir hulle gunsteling-musiekvideo te stem. Daar is ’n lekker groot prys vir ’n kyker op die spel. Die kykersgunsteling-wenner sal in Die Top 20 op 25 Augustus aangekondig word.