Logo

Kokkedoortjie: Pannekoek-bak

Nuus
10 Mei 2017
Vandeesweek moes die Kokkedoortjies pannekoek met ’n kinkel vir ’n middernagfees opdis.
Kokkedoortjie Ep6 Funnel

FOTO: Edwin se middernagfees-skepping.

Die deelnemers wat op dié stadium van die kompetisie nog in is, het werklik tegniek, meen beoordelaar Mari-Louis Guy. “Die verfyning maak nou saak,” sê sy.

Hierdie week was daar wel min reëls: Gebruik ’n loperige beslag (in die pannekoek-familie) en benut jou uur ten volle. Om die beslag (en eindproduk) egter perfek te kry vereis tog tegniek, en vir Klaredy het dinge ietwat skeef geloop.

“Klaredy het ’n moeilike dag gehad,” sê beoordelaar Nic van Wyk. Hy sê die pan moet oor lae hitte verhit word, maar Klaredy se plaatkoekies het gebrand omdat die pan wat sy gebruik het veels te warm was. Boonop moet ’n mens nie oorhaastig wees nie en genoeg tyd gee voor jy die pannekoek of plaatkoekie omkeer.

Die deelnemers het hom egter hierdie week “een of twee goed geleer,” sê Nic.

Edwin, dié week se pannekoek-kampioen, het funnel cake (’n Amerikaanse gereg – iets tussen ’n oliebol en ’n Spaanse churro) aangepak. “Hy het dit goed reggekry,” sê Nic. “Hy maak die goed wat moeilik is eerste klaar, sodat as daar iets gebeur en dit flop, het hy tyd om dit oor te doen – baie goeie beplanning van iemand wat so jonk is.”

Mar-Louis vertel Edwin maak daagliks kos en is onafhanklik in die kombuis (hy raak doenig sonder dat Ma hom dophou). “Hy kook kos in hulle huis en Vrydagaande beloon hy homself met McDonalds vir die week se harde werk,” sê sy. Volgens haar het dié Kokkedoortjie se oorspronklike, sterk idee aan hom die kroon besorg.

Min dinge gee vir jou daardie gevoel van nostalgie soos ’n pannekoek, en met een loperige beslag kan jy enigiets van crêpes tot wafels (soet of sout) maak. “Dis een van die belangrikste dinge om te leer,” sê Mari-Louis.

Nic is nie iemand wat baie pannekoek tuis bak nie, maar sy belangrikste wenk is om ’n goeie, kleefvrye pan te gebruik en net ’n bietjie olie (op ’n servet) aan die pan te smeer.

Kokkedoortjie is Woensdae om 20:00 op die kassie. Herhalings word Donderdae om 15:00, Vrydae om 11:00, Saterdae om 14:00, Maandae om 16:00 en Woensdae om 13:30 uitgesaai. Gesels saam op Facebook en Twitter (gebruik die hutsmerk #Kokkedoortjie) en hou ons Instagram-blad dop!