Logo

Knapsekêrel of baba-oppasser?

Nuus
16 Januarie 2018
Skalkie is as Addie se nuwe lyfwag aangestel, maar wens sy eintlik dit was Mynie?
Knapse Addie

Addie wil geensins opgepas word nie. FOTO: Uit vandeesweek se episode

Skalkie sing hierdie week ’n ander deuntjie: Dis dalk nie só ’n slegte idee om Hans Zimmerman se dogter, Addie, op te pas nie.

Dié senuweeagtige knapsekêrel daag by die Zimmerman-huis op saam met Mynie, wat vir hom buite wag terwyl Chilly hom invat om “Herr Zimmerman” te ontmoet.

Lees meer oor die vorige episode hier.

“Die naam is Hans tot jy my geld begin vat, dan is ek meneer Zimmerman,” sê Zimmerman vir Skalkie. “Ek soek ’n knapsekêrel vir my heel waardevolste besitting…

“Haar lyfwag moet hare op sy tande hê, slim wees, sterk, sensitief, géén belangstelling in my dogter se lyf nie…

“Hoe sterk is jy? Fisies sterk?”

Skalkie sê: “Ek oefen, meneer.”

Skalkie en Chilly kyk toe hoe Zimmerman swaar gewigte laai op die apparaat waarmee hy sy bo-arms oefen.

“Gut, sehr gut, kom ons kyk hoe goed oefen jy.”

Dié besigheid is duidelik vir Zimmerman amuserend om te aanskou. Hy probeer ’n paar keer om Skalkie te stop (die gewigte is duidelik te swaar), maar die knapsekêrel is vasberade om homself te bewys. Hy slaag daarin om die gewigte effens te lig.

Zimmerman sê: “Jy het probeer – versuch es weiter, hou aan probeer – jy ís die man vir die job, Skalk Fortuin.”

Armand Aucamp gesels oor sy karakter, Mynie:

By die swembad loop Addie en Mynie mekaar raak, of eerder – sy probeer hom bekruip, maar hy spring op en stamp haar in die swembad sonder om ’n oog te knip. “Ek wil nie ’n skaduweetjie hê nie – jy’s hier om my pa te sien. Nee, uh-uh, gaan nie gebeur nie.”

Wanneer sy in die huis kom is Zimmerman besig om met Skalkie te onderhandel, en bied hom ’n salaris van R70 000 (mét voordele) aan. Addie storm in en ontmoet hier vir Skalkie. Sy het duidelik gedink Mynie is die een wat haar gaan oppas, maar ’n mens kan nie mooi agterkom of sy teleurgesteld is of nie. Dan sê sy: “Wunderbar, my babysitter is ’n baby.”

KYK: Hans wie? Zimmerman wil weet of Skalkie sterk genoeg is om sy dogter op te pas, en Addie is nie baie ingenome met Mynie nie.

Later kla Skalkie oor Addie by Mynie: “Sy’t ’n bek aan haar soos ’n boomsaag!”

Mynie kap terug: “Wys my ’n boomsaag met so ’n lyf.”

Hy herinner Skalkie boonop waarvoor hy ja gesê het: “Sewentig duisend, Skalkie…”

Hoe was dit vir Christia Visser om die rol van Addie te vertolk? Ons het uitgevind:

By Mynie se huis is Joey vies omdat Dirk een van Karel se boeke lees. “Dis net ’n boek, Joey…

“As ’n laaitie ’n handdoek om sy nek bind en hy spring van die kleinhuisie se dak af is dit nie die Superman comics se skuld nie,” sê Dirk.

“Dit is!” sê Joey. “Karel het nie eers geweet hoe werk jou rewolwer –“

Dirk sê: “Demmit, Joey. Hulle gaan my job vat, hulle gaan my peanuts vir ’n pensioen gee, nou gaan hulle my prostaat ook vat.

“Nou worry jy oor ’n boek?”

KYK: Hans Zimmerman lyk nie soos iemand wat maklik vergewe en vergeet nie…

Skakel in vir ’n nuwe episode van Knapsekêrels, Dinsdag om 20:00. Gesels saam op Facebook en Twitter by #Knapsekêrels!