Logo

Huisgenoot vier eeufees met Vir die Voëls

Nuus
14 Julie 2016
As deel van Huisgenoot se eeufeesviering vanjaar het die tydskrif, in samewerking met kykNET Films, die romantiese drama Vir die Voëls vervaardig.
Vir die Voëls

As deel van Huisgenoot se eeufeesviering vanjaar het die tydskrif, in samewerking met kykNET Films, die romantiese drama Vir die Voëls vervaardig.

Henriëtte Loubser, Huisgenoot se redakteur, vertel hoe dié reis begin het: “Toe ons twee jaar gelede begin dink aan maniere om Huisgenoot se 100ste verjaardag te vier, het ons besluit dit sal lekker wees om ’n romantiese fliek te maak. Dit was ’n logiese keuse om kykNET Films, dié kenners van Afrikaanse rolprente, te betrek. Daarna is voorgestel ons hou ’n wedstryd waarin ons lesers vra om hul eie, ware liefdesverhale in te stuur. Die wenverhaal sou as inspirasie vir die draaiboek dien. Irma de Klerk van Newcastle se vertelling van haar en haar man, Sampie, se hobbelrige liefdespad tot by die kansel het gewen.



“Nadat ons hulle leer ken het, het ons agtergekom ’n mens kon kwalik vir twee waardiger wenners gevra het: Hulle is geswore Huisgenoot-lesers en het ons die kreatiewe vryheid gegun om hul verhaal te omskep in ’n storie met genoeg kinkels en draaie om ’n lekker draaiboek daarvan te maak. Hoewel die basiese intrige dus op hul verhaal gegrond is, is daar ook gebeure en karakters wat nuut geskep is om by te dra tot die opwinding.”

Vir die Voëls vertel die ware verhaal van Irma Humpel (Simoné Nortmann), ’n korrelkop-rabbedoe wat in ’n trourok voor die kansel beland langs die seun wat haar kleintyd onophoudelik geterg het. Tot kort tevore was haar kop op ’n blok dat onafhanklikheid die enigste vorm van vryheid is, maar intussen het Sampie de Klerk (Francois Jacobs) haar oortuigings op alle vlakke kom uitdaag.

Kyk hier na die lusmaker-lokprent:



Vir die Voëls speel in die laat 1970’s af en volgens Henriëtte gaan dit “die nostalgiese hartsnare roer”. Sy sê: “Dis ’n fliek oor ’n sterk vrou wat haar tyd vooruit was en ’n man met so ’n sterk identiteit dat hy ’n vrou kan respekteer en vir haar liefde veg. Dis ’n storie oor die stryd teen jouself en hoe om te keer dat eksterne omstandighede en emosionele bagasie jou kans op geluk verongeluk. Dit alles is temas waarby baie mense aanklank sal vind.”



As joernaliste was dit vir Henriëtte en haar span lekker om te sien hoe ’n fliek aanmekaargesit word – die draaiboekontwikkeling, besonderhede oor kostuums, dekor, kamerawerk, kleure, musiek en die redigering agterna. “In Danie Bester en Quentin Krog het ons die beste moontlike vervaardiger en regisseur vir die projek. Dis ook ’n voorreg om saam met Jan du Plessis, Karen Meiring en die res van die M-Net- en kykNET-span te werk,” sê Henriëtte. “Irma en Sampie voel boonop nou soos lede van die Huisgenoot-familie. Ons is bly ons kon hulle beter leer ken.”



Quentin Krog, regisseur van die rolprent, sê: “Ek het saam met ’n fenomenale span gewerk en die hele verfilming geniet. Die lekkerste tonele om die regie van te behartig, was die oomblikke tussen Irma en Sampie; dit het deurentyd vir drama, romanse en komedie gesorg.



“Ek is opgewonde oor die gehoor wat na dié film gaan kyk. Ek is ook opgewonde oor die idee om hulle terug te neem na ’n ander era; om hulle te laat lag, huil en verlief te maak. Om hulle te vermaak.”




Vir die Voëls is in samewerking met kykNET Films deur The Film Factory vervaardig en die rolverdeling sluit in Elize Cawood, Nicola Hanekom, Neels van Jaarsveld, Drikus Volschenk, Leandry Smith, Liam Bosman, Lara Kinnear, Candice Kruger en Bennie Fourie. Die rolprent word op 25 November 2016 uitgereik en word deur Ster Kinekor Entertainment versprei.