Logo

Boer Soek ’n Vrou: Watter boer is jy?

Nuus
14 Desember 2017
Is jy meer soos Adriaan, Braam, Jacques, Johan of Ruan?
BSV-Boere-Quiz

Van links na regs is Johan, Adriaan, Braam, Ruan en Jacques. FOTO: Donna Lewis

Voltooi die vasvra hier onder om uit te vind met watter van ons vyf boere jy die meeste in gemeen het.

Aandag van die teenoorgestelde geslag...
a) prikkel my belangstelling. Ek raak maklik verlief op iemand.
b) laat my goed voel. Ek is ’n ekstrovert, maar kan skaam raak wanneer ek met ’n vreemdeling gesels.
c) is nooit ’n slegte ding nie. Ek gesels baie maklik met mense en hou daarvan om ander op hul gemak te laat voel.
d) laat my bloos.
e) is altyd welkom, solank die persoon nie voorgee om iemand anders te wees nie.

Hoe ontspan jy?
a) Ek hou daarvan om rustig te wees en die kitaar te tokkel.
b) Ek reël ’n braai saam met vriende of gaan dans.
c) Ek geniet die buitelug en gaan kamp graag.
d) Ek kyk rugby op ’n Saterdag of spandeer tyd agter die kospotte.
e) Ek is bereid om kilometers af te lê vir ’n lekker naweek.

Wat is vir jou belangrik?
a) Om iemand met ware integriteit te wees.
b) Om tyd saam met my naastes te spandeer.
c) Ek wil bars van trots wanneer ek na my kinders en/of kleinkinders kyk.
d) Om my mikpunte na te streef en my hart vir ander oop te maak. Ek het baie liefde om te gee.
e) Om die lewe ten volle te geniet.

Wat is ander se eerste indrukke van jou?
a) Ek dink hulle dink ek is betroubaar en saggeaard.
b) Ek dink hulle kom agter ek is nogal ’n mense-mens.
c) Hulle kan sien ek is gemaklik in my eie vel en ken myself goed.
d) Dat ek vriendelik is, met ’n goeie sin vir humor.
e) Hulle kan sien ek is nie aangeplak nie en oordeel nie maklik nie.

Beskryf jou ideale pasmaat in een woord.
a) Saggeaard.
b) Familievas.
c) Oopkop.
d) Eerlik.
e) Aanpasbaar.

Watter eienskappe in ’n maat is vir jou minder aantreklik?
a) Ek kom nie baie goed klaar met iemand met ’n té sterk persoonlikheid nie.
b) Jy hoef nie ’n sosiale vlinder te wees nie, maar ek sal nie hou van iemand wat nie familie en vriende ’n prioriteit maak nie.
c) Iemand wat nie spontaan of avontuurlustig is nie.
d) Ek gaan nie pas by iemand wat gedurig voorvat nie.
e) Iemand wat nie netjies is op hulself nie, kry nie punte by my nie.

Wat het jy geleer uit vorige verhoudings?
a) Moenie blind wees vir iemand se foute nie.
b) Albei moet dieselfde dinge uit ’n verhouding wil hê.
c) Kommunikasie is die basis van enige verhouding.
d) Daar is niks belangriker as om iemand met jou lewe te kan vertrou nie.
e) Elke pot het sy deksel. As julle nie kliek nie, gaan dit nie werk nie.

Watter aanhaling klink soos iets wat jy sal sê?
a) “Realiteit is heeltemal anders as in die movies.”
b) “As ek wyn gooi, dan gooi ek wyn. Daar moenie vleis met my aan die agterkant praat nie!”
c) “Ek is ’n oop boek.”
d) “Ek doen enigiets vir liefde.”
e) “As ’n vrou op jou kop sit, dan is daar plek vir ’n ander een op jou skoot.”

Watter aktiwiteit pas die minste by jou?
a) Om een van duisende konsertgangers by ’n konsert te wees.
b) ’n Spa-uitstappie.
c) Enigiets wat behels dat jy nie met die persoon langs jou kan gesels nie.
d) Om aan ’n fotosessie deel te neem.
e) Om ’n restaurant te besoek waar jy veel meer betaal as wat dit werd is.

Sal jy vinnig met iemand trou?
a) As dit die regte een is vir my, mag ek dalk vinnig afhaak.
b) As ons dieselfde waardes deel, sal ek nie lank wag nie, maar dit sal nie hals oor kop gedoen word nie.
c) Ja. Ek weet presies wat ek wil hê.
d) Trou is nie perdekoop nie. Ons sal waarskynlik eers ’n ruk lank uitgaan.
e) Dis belangrik om eers ’n vriendskap te bou. Ek is op soek na iemand wat vir die res van my lewe aan my sy sal wees.

Meestal A’s

Jy en Boer Braam sal sommer goed klaarkom! Dié boer is ’n rustige man met ’n avontuurlustige sy. Sy ideale pasmaat is saggeaard en sprankelend (’n goeie sin van humor is ook redelik hoog op die lys!). Nes Braam het jy dalk ook al voorheen seergekry in verhoudings omdat jy vinnig aan iemand geheg raak en maklik verby hul foute kyk.

Meestal B’s

Jy is baie soos Boer Ruan! Jou lewe draai om jou familie en vriende, en dis ewe belangrik dat jou maat ook ’n familie-mens moet wees. Jy is op soek na iemand met ’n sagtheid in hom/haar, wat goed met jou mense oor die weg sal kom en daarvan hou om te ontspan om die braaivleisvuur. Iemand met twee linkervoete sal nie die ding doen nie – jy is gek oor vasdans!

Meestal C’s

Nes Boer Johan is jy ’n ekstrovert wat nagte om met iemand kan sit en gesels oor die dinge van die lewe. Iemand wat jou nie ken nie sal dink jy is iemand wat jou wil op ander probeer afdwing, maar hulle som jou verkeerd op. Jy is ’n terggees met ’n sagte hart wat daarvan hou om ander op hul gemak te laat voel. Jou kinders en kleinkinders is jou lewe, en ’n spontane, gemaklike mens (ewe tuis in ’n karavaan as in ’n goeie restaurant) laat jou hart vinniger klop.

Meestal D’s

Van al ons boere is jy die meeste soos Boer Adriaan! Jou wange pyn op die oomblik, want jy gaan met ’n groot glimlag deur die lewe. Jy het ’n goeie sin vir humor en is lojaal en liefdevol. Jy is lief vir sport, maar voel ook tuis agter die kospotte. Jou droom-metgesel is saggeaard, selfstandig en eerlik. Jy is romanties, en sal hom of haar gereeld verras met ’n uitstappie wat haarfyn beplan is.

Meestal E’s

Kyk, jy sê ’n ding soos dit is, en daarom is jy ongetwyfeld soos Boer Jacques. Jy is netjies, geniet die buitelug en sal nooit opgesom word as iemand wat ander oordeel nie – elke ou se saak is sy eie. ’n Lewensmaat sal jou aanvul, maar hy/sy moet onafhanklik en nederig wees en nie die lewe té ernstig opneem nie. Jy hou nie van mense wat voorgee of ’n ding aanplak nie.

Kyk net hoe smeul die top-5 boere voor die kamera!

Gallery

Volg ons op FacebookTwitter en Instagram, en gesels saam by #GroterBeterBoer en #BoerSoeknVrou