Logo

Deel jou talent met Emo Adams

Nuus
24 Oktober 2018
Wil jy hê Emo moet jou famous maak? Hier is jou kans!
Emo Adams_Talent

FOTO: Light Lounge Studio


Emo Adams het onlangs ’n inisiatief op sy Facebook geloods waar hy vir mense gevra het om video’s van hulle besonderse talent na ’n privaat WhatsApp-nommer te stuur.

As stigter en eienaar van All Star Productions & Records het Emo dié inisiatief van stapel gestuur om sy 30 jaar in die vermaaklikheidsbedryf te vier. Hy is op soek na ’n persoon (of persone) met uitsonderlike talent wat hy volgende jaar saam met hom op toer kan neem en wie ’n aanwins vir sy maatskappye kan wees. Enigiemand van ’n sanger tot ’n band en ’n koor, ’n dansgroep, break dancers óf musikante is welkom om in te skryf.

Hy het die inisiatief geloods met ’n hartroerende video aan sy sosiale media aanhangers. 

“Ek het gevoel daar was ’n void en dat ons gemeenskappe en kinders nie ’n platform gehad het om hulle talente te showcase nie. Ons het wel Idols en The Voice, maar daar is mense wat in dansgroepe is, in bands is. Waar is hulle platform? Ons moet die void vul,” sê Emo.

Hy vertel ook dat mense ’n wanpersepsie het dat dit maklik is om beroemd te wees. “Mense besef nie hoeveel harde werk dit daagliks verg om jou loopbaan aan die gang te hou nie. Ek wil dit vir hulle leer.”

En dit is hoekom hy besluit het om hierdie inisiatief te begin en vir die regte, gewone mense daar buite te vra om hom te help met sy soektog. “Baie mense is te skaam om hulle talent op publieke platforms te wys, dis hoekom ek die WhatsApp-nommer begin het sodat hulle die video’s direk aan my kan stuur. Daar is iets meer persoonlik aan dit.”

En die persoonlike aanslag het inderdaad gewerk. Emo vertel dat die hoeveelheid aansoeke op die WhatsApp-lyn sy wildste verwagtinge oortref het. Sedert hy hierdie projek geloots het op 5 Oktober het hy reeds ’n magdom inskrywings en voorstelle ontvang. “Ek het 200 video’s verwag, 500 max. Ons staan al amper op 2 200 video’s.”

Hier is ’n paar van die video’s wat Emo al ontvang het.

Met hierdie soektog hoop Emo om ’n unieke talent te vind vir wie hy die kans sal gee om in die industrie te werk en te leer ken. Anders as met die meerderheid talentkompetisies, hoop hy om die wenner verder te neem as die blote kompetisie self, en om die wenner se loopbaan te vestig binne die Suid-Afrikaanse vermaakliheidsbedryf. “Wat gebeur met die wenners van die groot kompetisies? Ek wil vir iemand die kans gee om te leer hoe dit is om met geld te werk, hoe om jou wardrobe te kies, hoe om te weet wat om wanneer te sing.”

Die gelukkige wenner sal ’n jaarkontrak met All Stars Productions & Records teken en sal ook in 2019 saam met Emo toer. Volgens Emo kom daar steeds ten minste 100 video’s daagliks op die WhatsApp-nommer in.

Indien jy nog wil inskryf, hier is al die besonderhede:



“Dit is oorweldigend hoe mense dankie sê vir die geleentheid. Ek wens ek kan almal famous maak, maar ek kan nie. Ten minste gee hierdie inisiatief my die geleentheid om dit vir een mense of groep te doen.”

Wil jy hê Emo moet jou famous maak? Moet dan nie hierdie gulde geleentheid deur jou vingers laat glip nie