Logo

Koekedoortjie: Maak jou kombuis ’n speelplek

Nuus
11 April 2018
Ons loer in by welbekende sjef, skrywer, en Koekedoortjie se vervaardiger van kos, Errieda du Toit.
Koekedoortjie Errieda du Toit

Foto: Ian du Toit

Nie net is sy ’n bekende gesig in Suid-Afrika se koskringe nie, maar ook een van kykNET se geliefde familielede. As inhoudsvervaardiger van kos vir Kokkedoor, Koekedoor, Kokkedoortjie en nou ook Koekedoortjie, het Errieda du Toit baie om te bied.

Nie net is sy betrokke by die skep van elke uitdaging nie, maar ons geliefde Huiskok, soos sy op sosiale media bekendstaan, is ook verantwoordelik vir onder meer die episodiese tema's, en natuurlik hoe elke tema in gebak vasgevang kan word.

Volgens Errieda is dié proses ’n kombinasie van die wonderwêreld in die Koekedoortjie-stoor, sowel as die wonderwêreld van die kind.

“Wat Koekedoortjie aanbetref, het ons die atmosfeer van ’n winter-wonderland gehad. Daarom kyk ons na hoe jy binne hierdie omgewing, en hierdie atmosfeer van die stoor, ’n storie kan vertel deur die gebak.

Volgens haar, moes die formaat vir Koekedoortjie aangepas word volgens sekere regulasies rondom ’n program waaraan kinders deelneem, en moes die uitdagings dus aangepas word by dié meer beperkte tyd. “Waar ons twee dae geskiet het aan ’n episode vir Koekedoor, het ons slegs ’n dag gehad om een episode vir Koekedoortjie te verfilm,” vertel sy. 

“Maar mense wil steeds al die opwinding hê, so ons het die uitdagings geskoei tussen die fyngebak en die pronkgebak van Koekedoor.”

Kyk die video hier onder:


Vir haar was die ervaring om weer saam met kinders op stel te werk nie net ’n onvergeetlike ervaring nie, maar ook ’n wonderlike leerskool. “Die kinders kom soveel makliker oor teleurstellings: as daar iets verkeerd loop, kan jy sien dat die plan-B’s en plan-C’s klaar aan die gang is in hul koppe.

Sy verduidelik: “Die kinders spring makliker terug na ’n teleurstelling, waar ek dink ons as volwassenes ’n teleurstelling sien as ’n groot flop, en ’n vermorsing van tyd.”

Vir haar is die groot onderskeid tussen Koekedoor en Koekedoortjie die kinders se benadering tot gebak. “Daardie inner-kind van hulle is nog buite. Daardie kinderlike energie en opwinding – [gebak] is vir hulle ’n avontuur.

“Natuurlik is jy op kamera en die hele wêreld sien jou. Die kinders het nie daardie sensitiwiteit nie. Hulle hou geen masker voor nie. Op stel ervaar jy dit is werklik soos die kinders is, en hulle bak absoluut met hulle hart en siel en daardie jong gees wat elkeen van hulle het.”

Volgens haar moet kykers nie aanvaar dat die uitdagings makliker moet wees wanneer dit by ’n kinderbakprogram soos Koekedoortjie kom. “[Met die uitdagings] moet ons kan wys dat kinders veel meer kan bak as net die kolwyntjies waarvoor ons hulle krediet gee. Ons gaan dus tydens dié seisoen kyk na wat binne die gegewe tyd uitvoerbaar is.

“Jy wil nooit die uitdagings so uitwerk dat jy afpraat na die kind nie – kinders is letterlik tot enigiets in staat.”
 

Moet kinders deelneem aan so ’n program? Errieda is vasoortuig. “Ek dink die kinders se lewens, veral die voorreg om dit saam met ’n ouer te doen, is iets wat die ma en pa, én kind vir altyd, sal bybly.”

Vir Errieda gaan dit minder oor of kinders moet deelneem aan so ’n program, en meer oor of kinders moet bak. “Kinders hoef nie deel te wees van die Koekedoortjie-stoor-ervaring om uit te mis op die pret nie. Hulle kan steeds hul eie kombuise as speelplek vir gebak gebruik.”

Skakel in vir ’n nuwe episode van Koekedoortjie, Woensdae om 20:00. Gesels saam op Facebook en Twitter by #Koekedoortjie!