Logo

Boer Soek ’n Vrou: ’n Span van drie

Nuus
28 Desember 2017
Die boere se finale keuse is om die draai, en hierdie week bring elkeen alleentyd saam met die dames deur.
BSV Braam

Janine dink nie daar wag ’n romantiese toekoms op haar en Braam nie. FOTO: Donna Lewis

Op Adriaan se plaas is die keuse gemaak (al is sy dames nog in die duister), en die boer meen hy wil nou net weet hoe hy en die dame van sy keuse die pad vorentoe gaan aanpak. “Na gisteraand het ek gesien wat ek wou sien,” sê die boer.  

Verlede week het die dames die boere se vriende en familie ontmoet – lees hier.

Noudat dinge na ’n kant toe moet gaan, besef Anzelle dat daar nie meer tyd is vir terugstaan nie. Helene wens sy kon die proses aanjaag, want die boer is só neutraal dat dit moeilik is om te weet waar hulle met mekaar staan.

Skaapstertjies is op die ontbyt-spyskaart, maar Adriaan sê hy sal “souserige ribs” ook saam met die dames eet – só gemaklik is die drie al in mekaar se geselskap.

Kyk hier hoe het alleentyd op Adriaan se plaas verloop.

By Ruan-hulle word daar eers trekker gery voor daar oor ernstige dinge gesels word.

Bianca sê beide dames begin elkeen om op hul eie manier gevoelens vir die boer te ontwikkel. Marica sê: “Dit maak my bang dat ek al hoe meer begin omgee.”

Tydens alleentyd sê Ruan vir Bianca en Marica dat dit vir hom moeilik is om ’n spark by hulle te kry, maar dat hy gek is oor die eienskappe waaroor hulle beskik. Hy sê later hy gaan daaroor bid en hoop hy kan opstaan met ’n suiwer gedagte oor wat hy moet doen. “Ek gaan deur ’n helse tyd. Dit gaan nie net oor my nie, dit gaan oor hulle ook. Ek gaan iemand moet seermaak.”

Kyk hier hoe het alleentyd op Ruan se plaas verloop.

Op Johan se plaas is daar net een gas in die huis: Marilyn. “Ek is baie gelukkig,” sê die boer vir haar terwyl hulle buite sit en koffie drink. Hy wil nie ’n kort pad saam met sy donkerkop nooi stap nie, maar ’n lang pad. “En ek sien kans vir dit. Elke dag.”

Hy sê verder: “Ek het regtig skoenlappers in my maag. Ek het nie gedink op my ouderdom kan ek weer daardie gevoel ervaar nie.”  

Marilyn vertrek vandag terug Johannesburg toe, omdat daar baie dinge is waaraan die boer wil werk. “Ek wil ook nie in sy pad staan nie,” sê sy. Die twee het egter reeds ’n ete-afspraak vasgemaak. “Ek sien baie uit, eintlik, na ons eerste date!”

Kyk hier hoe het dinge op Johan se plaas verloop.

Jacques en Corné en Danél geniet nog mekaar se geselskap. Die boer hoop egter hulle sal vandag teenoor hom oopmaak. “Hier is iets aan die broei. Ek weet nog net self nie wat nie,” sê hy.

“Dade beteken meer as woorde,” het Jacques vroeër opgemerk, en tydens hul alleentyd noem Corné dat dit vir haar ook iets beteken. Sy sê sy wil eers op die “vriendskap-deel” fokus en dan sien wat van daar af gebeur. “Seerkry is nie lekker nie.”

Jacques meen die gesprek tussen hom en Danél was ’n “bietjie ligter”. Hy sê hy dink nie sy wou hom “op die spot sit” met dieper vrae nie. Danél meen die boer het nie vooropgestelde idees wanneer dit by vrousoek kom nie, en alles gaan neerkom op met wie hy die maklikste “kliek”.

Kyk hier hoe het alleentyd op Jacques se plaas verloop.

By Braam is dinge vandag nie heeltemal pluis nie. Janine het iets op die hart, en die boer kom self agter iets is nie lekker nie. Sy wil “die situasie verlaat” omdat sy dink sy en Braam is op verskillende plekke in hul lewens, en dat ’n verhouding nie op hierdie stadium gaan werk nie.

Braam sê: “Dit help nie ons mors mekaar se tyd nie.

That’s life. Ek aanvaar dit so en ek sal maar aangaan met my lewe.”

Yola het dié wending glad nie verwag nie. “Ek sal nou maar kyk wat vorentoe gebeur,” sê sy.

Braam sê hy en Yola het nou ’n geleentheid om aan te gryp, en hy gaan dit beslis gebruik om haar beter te leer ken.

Kyk hier hoe het alleentyd op Braam se plaas verloop.

Donderdag om 20:00 gaan ons uitvind hoe die laaste dag op die plase uitspeel – jy wil dit nie misloop nie! Volg ons op FacebookTwitter en Instagram, en gesels saam by #GroterBeterBoer en #BoerSoeknVrou