Logo

Aartappel-&-kaasfrittata en appels met Rooibos-jogurt

27 Augustus

4 porsies

Gebak

3

Dié aartappel-&-kaasfrittata-resep, soos voorberei deur koskonsultant Heleen Meyer in Die GROOT Ontbyt, is aangepas uit Cooking from the heart 2. Dit word voorgesit saam met Pink Lady®-appels met Rooibos-jogurt. Foto: Heleen Meyer

DGO-Frittata-en-Jogurt
Bestanddele

Aartappel-&-kaasfrittata

3 e olyfolie (of avokado-olie)

6-8 aartappels (gebruik klein aartappels, in die skil gekook en in skyfies gesny)

100 g broccoli (in klein blommetjies gesny)

6 eiers (geklits)

2 t gemengde kruie (gedroog)

swartpeper (na smaak)

suurlemoensap (na smaak)

⅓ k uie (gedroog)

½ k cheddarkaas (of mozzarella, gerasper)

Pink Lady®-appels met Rooibos-jogurt

1-2 appels (Pink Lady®, met die skil, in blokkies gesny)

¼ k Rooibostee (sien wenk hier onder)

2,5 ml kaneel (fyn)

1 k jogurt (sonder geursel)

1-5 druppels vanieljegeursel

1 handvol amandels (rou, grof gekap)

kaneel (vir garnering)

Metode

Aartappel-&-kaasfrittata

 

1. Verhit helfte van die olie oor matige hitte in ’n middelslag braaipan (bv. ’n AMC 24 cm Chef’s Pan). Soteer die aartappels vir ’n paar minute tot goudbruin. Voeg die broccoli by en soteer vir nog ’n paar minute.

2. Klits die eiers en kruie saam en geur met swartpeper en suurlemoensap na smaak.

3. Voeg die uie by die groente in die pan en roer goed deur. Skink die orige olie eweredig bo-oor en versprei dit oor die bodem van die pan.

4. Skink die eiermengsel bo-oor die groente, versprei dit eweredig in die pan en strooi die kaas bo-oor.

5. Gee die eiers kans om oor ’n matige hitte effens te begin stol. Lig die gaar eier al om die rand van die pan met ’n eierspaan, sodat die rou eier onder dit kan inloop. Sit die deksel op en laat die frittata geleidelik gaar word. Lig weer die eier op as dit nodig is, maar moenie dit roer nie.

6. Sit die deksel weer vir ’n paar minute op of tot die eiers heeltemal gestol is en die kaas gesmelt het.

7. Sit voor as ’n ligte maaltyd of vir ontbyt met tamatiewiggies of ’n slaai.

 

Wenke:

1. Gebruik enige groente van jou keuse in die omelet. Indien die groente baie vloeistof bevat, soos sampioene of tamaties, soteer dit eers vir ’n paar minute, anders sal dit water trek en die frittata waterig maak.

2. Roket- of spinasieblare sal ook heerlik wees in die omelet.

3. Vervang die cheddar- of mozzarellakaas met ’n skyf feta, indien verkies.

4. Laat die omelet effens afkoel en sny in wiggies om in ’n kosblik te pak.

 

Pink Lady®-appels met Rooibos-jogurt

 

1. Plaas die appel in 4 klein glasies of bakkies.

2. Roer die tee en kaneel in by die jogurt om ’n gladde mengsel te vorm. Geur met vanielje en skep die jogurtmengsel bo-op die appels.

3. Strooi die amandels bo-op en garneer elke glasie met nog kaneel.

4. Sit voor as deel van ’n ontbyt, ’n gesonde nagereg of versnapering.

 

Wenke:

1. Om die sterk Rooibostee te maak, gebruik 1 teesakkie met 60 ml (¼ k) water.

2. Die appel kan ook gerasper en in die jogurtmengsel ingeroer word – dan moet dit net dadelik voorgesit word.

DGO-Aartappel
Die Groot Ontbyt Poster 924x1360
2018-08-20

Eenskottelgebak met aartappel en hoender

Gewildste Resepte